Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk twee-en-veertig

Agter die gordyn

Mevrou Blinkenaar glip van die binnehof af by die paleis se groot donker kombuis in. Sy loop op haar tone en loer om elke hoek voor sy verder gaan, want sy weet hoe hou Pester die lakei daarvan om in die skaduwees weg te kruip. Stadig en versigtig beweeg mevrou Blinkenaar nader aan die koning se private kamers terwyl sy die houtpootjie so styf in haar hand vashou dat die skerp kloue in haar palm insny.
   Uiteindelik kom sy by die gang met die wynrooi mat wat na koning Fred se kamers lei. Sy hoor ’n gelag agter die deure. Mevrou Blinkenaar weet sommer dadelik dat niemand die koning van die Ickabog-aanval aan die buitewyke van Chouxville vertel het nie, want sy is doodseker dat hy nie dan so sou gelag het nie. Maar daar is beslis iemand by die koning, en sy wil alleen met koning Fred praat. Terwyl sy daar staan en wonder wat om te doen, gaan die koning se deur oop.
   Met ’n snak duik mevrou Blinkenaar agter ’n lang fluweelgordyn in en probeer keer dat dit roer. Lord Spoegmann en lord Flapmann wens die koning laggend ’n goeie nag toe.
   “Wat ’n briljante grap, U Majesteit! Ek het so gelag dat my kardoesbroek geskeur het!” skater lord Flapmann.
   “Ons sal U Hoogheid moet herdoop tot koning Fred die Vermaaklike!” giggel lord Spoegmann.
   Mevrou Blinkenaar hou asem op en probeer om haar maag in te trek. Sy hoor hoe koning Fred se deur toegemaak word. Die twee lords hou onmiddellik op met lag.
   “Simpel sot,” sê lord Flapmann gedemp.
   “Ek het al met slimmer kaasklonte uit Suiwelstad te doen gekry,” brom lord Spoegmann.
   “Kan jy hom nie môre ’n slag besig hou nie?” grom lord Flapmann.
   “Ek gaan tot drieuur met die belastinggaarders besig wees,” sê lord Spoegmann. “Maar as –”
   Albei lords bly skielik stil. Hulle voetstappe raak stil. Mevrou Blinkenaar hou steeds asem op en knyp haar oë toe terwyl sy bid dat hulle nie gesien het hoe die gordyn uitbult nie.
   “Nou ja, goeienag, Spoegmann,” sê lord Flapmann se stem.
   “Ja, slaap lekker, Flapmann,” sê lord Spoegmann.
   Terwyl haar hart hewig klop, blaas mevrou Blinkenaar haar asem baie stadig uit. Dankie tog. Die twee lords is bed toe … maar sy hoor nie voetstappe nie …
   En toe, so skielik dat sy nie tyd het om in te asem nie, word die gordyn oopgepluk. Sy wil skree, maar lord Flapmann druk haar mond met sy groot hand toe en lord Spoegmann gryp haar polse vas. Die twee lords pluk mevrou Blinkenaar by haar wegkruipplek uit en by die naaste stel trappe af, en al spartel sy hoe hard en probeer sy hoe desperaat om te skree, kry sy nie ’n enkele geluid tussen lord Flapmann se vingers uit nie, en kan sy nog minder loskom. Uiteindelik sleep hulle haar in by dieselfde blou saal waar sy destyds haar dooie man se hand gesoen het.
   “Moenie skree nie,” waarsku lord Spoegmann haar en pluk ’n kort dolk uit wat hy deesdae selfs in die paleis by hom hou, “of die koning gaan ’n nuwe fyngebaksjef nodig hê.”
   Hy beduie vir lord Flapmann om sy hand van mevrou Blinkenaar se mond af te haal. Die eerste ding wat sy doen, is om ’n diep teug asem te vat, want dit voel asof sy flou gaan raak.
   “Jy het ’n belaglike groot bult in daardie gordyn gemaak, jou dom kok,” snou lord Spoegmann. “Wat presies het jy daar naby die koning gesoek, en dit nadat die kombuis lankal toe is?”
   Mevrou Blinkenaar kon natuurlik ’n lawwe leuen probeer opmaak het. Sy kon gemaak het asof sy vir koning Fred wou vra watter fyngebak sy môre vir hom kan maak, maar sy het geweet dat die twee lords haar nie sou glo nie. Daarom het sy haar vuis waarin sy die Ickabog-poot vasgeklem het voor haar uitgehou en haar vingers oopgemaak.
   “Ek weet,” sê sy toe sag, “waarmee julle besig is.”
   Die twee lords kom nader en staar af na haar handpalm en die perfekte klein replika van die reusepote wat die Donkerpoters gebruik. Lord Spoegmann en lord Flapmann kyk na mekaar, en toe na mevrou Blinkenaar, en al waaraan mevrou Blinkenaar kan dink terwyl sy na die uitdrukking op hulle gesigte kyk, is Vlug, Bert – vlug!

 

Voorgestelde illustrasies (suggested illustrations)

Mevrou Blinkenaar wat naaldwerk doen
Mevrou Blinkenaar wat by die kombuis inglip
Mevrou Blinkenaar agter die gordyn

Hoofstukke

footer

Back to top