Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk vyf-en-veertig

Bert in Jeroboam

Aan die begin het Bert nie besef dat lord Spoegmann die hele Kornukopië gewaarsku het om op die uitkyk vir hom te wees nie. Hy het gemaak soos die wag by die paleis se poorte hom aangeraai het en al met die voetpaadjies en agterpaaie langs geloop. Hy was nog nooit so ver noord as Jeroboam nie, maar hy het geweet dat hy daar sal uitkom as hy die loop van die Floema volg.
   Met gekoekte hare en skoene besmeer met modder het hy deur omgeploegde landerye geloop en in slote geslaap. Toe hy die derde aand by Suiwelstad insluip, het hy die eerste keer ’n tekening van hom op ’n Gesoek-plakkaat in ’n kaasmaker se winkelvenster gesien. Gelukkig het die tekening van ’n netjiese, glimlaggende jongman glad nie gelyk soos die weerkaatsing van ’n vuil boemelaar wat uit die donker na hom teruggestaar het nie. Dit was nietemin ’n skok om te sien dat daar ’n beloning van honderd dukate uitgeloof word aan die persoon wat hom aan die gereg uitlewer, dood of lewend.
   Bert het haastig deur die donker strate geloop, verby brandmaer honde en vensters wat met planke toegespyker is. Een of twee keer het hy afgekom op vuil, verslonsde mense wat in vullisdromme na kos gesoek het. Hy het dit uiteindelik reggekry om ’n harde en effens muwwe stuk kaas in die hande te kry voordat iemand anders dit kon gryp. Nadat hy reënwater gedrink het uit ’n vat agter ’n melkery wat lankal toegemaak het, het hy vinnig uit Suiwelstad padgegee en weer net met die agterpaaie langs beweeg.
   Terwyl Bert so gestap het, het gedagtes aan sy ma aanhoudend by hom gespook. Hulle sal haar nie doodmaak nie, het hy oor en oor vir homself gesê. Hulle sal haar nooit doodmaak nie. Sy’s die koning se gunstelingbediende. Hulle sal dit nie waag nie. Hy moes die moontlikheid dat sy ma dood is totaal ontken, want as hy gedink het dat sy ook weg was, sou hy dalk nie die krag gehad het om uit die volgende sloot waarin hy die nag sou slaap te klim nie.
   Bert se voete was al vol blase, want hy moes ver ompaaie kies om seker te maak dat hy nie ander mense raakloop nie. Die volgende aand het hy die laaste paar vrot appels in ’n boord gesteel, en die nag daarna het hy ’n hoenderkarkas uit iemand se vullisdrom geaas en die laaste paar stukkies vleis verslind. Teen die tyd dat hy die donkergrys buitelyne van Jeroboam op die horison gesien het, moes hy ’n stuk tou uit ’n grofsmid se agterplaas steel om as ’n lyfband te gebruik, want hy het soveel gewig verloor dat sy broek van hom afgeval het.
   Terwyl hy so te voet verder gereis het, het Bert vir homself gesê dat hy net by neef Harold moes uitkom. Dan sou alles regkom; hy sou vir die man vertel wat gebeur het, en Harold sou weet wat om te doen. Bert het buite die stadsmure geskuil totdat dit begin donker word het en toe by die wynmakerstad in gehinkepink, want die blase op sy voete het begin bars en dit was baie seer.
   Toe hy by Harold se taverne kom, sien Bert daar brand nie ligte in die venster nie en besef dadelik hoekom. Die deure en vensters is almal met planke toegespyker. Die taverne het toegemaak; Harold en sy familie het blykbaar die pad gevat.
   “Asseblief,” pleit Bert desperaat by ’n vrou wat verbystap, “kan u vir my sê waarheen Harold is? Harold aan wie hierdie taverne behoort het.”
   “Harold?” sê die vrou. “O, hy is ’n week gelede weg suide toe. Hy het familie in Chouxville. Hy’t gesê hy hoop hy kan by die koning werk kry.”
   Bert kyk stomgeslaan hoe die vrou die nag in verdwyn. ’n Ysige wind warrel om hom en uit die hoek van sy oog sien hy een van die Gesoek-plakkate met hom daarop aan ’n lamppaal wapper. Hy is pootuit en het nie ’n benul wat om volgende te doen nie. Hy oorweeg dit om net eenvoudig op die winkel voor hom se koue stoeptrap te gaan sit en te wag tot die soldate hom kry.
   Dis toe dat hy die punt van ’n swaard in sy rug voel, en ’n stem in sy oor sê:
   “Het jou.”

Hoofstukke

footer

Back to top