Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk veertig

Bert kry ’n leidraad

Toe hy hoor van die poskoets wat tot in die hartjie van Chouxville gekom het, gryp lord Spoegmann ’n swaar stoel en gooi dit na majoor Rommel se kop. Majoor Rommel is baie sterker as lord Spoegmann en weer die stoel maklik van hom af, maar sy hand vlieg na die hef van sy swaard en vir ’n paar sekondes staan die twee mans soos diere met ontblote tande in die wagte se kamer, terwyl lord Flapmann en die spioene hulle oopmond aangaap.
   “Stuur vanaand nog ’n groep Donkerpoters na die buitewyke van Chouxville,” beveel lord Spoegmann vir majoor Rommel. “Dit moet lyk soos ’n Ickabog-strooptog – ’n nag van verskrikking. Die mense moet verstaan dat die belasting noodsaaklik is, dat hulle families swaarkry as gevolg van die Ickabog, nie oor my of die koning nie. Gaan nou, en maak reg wat jy verbrou het!”
   Die majoor storm woedend by die vertrek uit terwyl hy by homself dink aan alles wat hy aan lord Spoegmann sal doen as hy hom tien minute alleen iewers kan vaskeer.
   “En julle,” sê lord Spoegmann vir sy spioene, “moet môre aan my rapporteer of majoor Rommel sy werk ordentlik gedoen het. As daar steeds in die stad gefluister word oor families wat honger ly en platsak is, sal ons moet kyk hoe majoor Rommel dit onder in die kerker geniet.”
   ’n Groep van majoor Rommel se Donkerpoters wag totdat almal in die hoofstad slaap, en gaan toe oor tot aksie om Chouxville te laat glo dat die Ickabog nou ook hier verwoesting kom saai het. Hulle kies ’n kothuis reg aan die rand van die stad wat ’n entjie weg van sy bure af staan. Die manne weet al presies hoe om by huise in te breek; hulle gaan by die kothuis in en tot my spyt moet ek sê dat die bejaarde dame wat daar woon en wat ’n hele paar pragtig geïllustreerde boeke geskryf het oor die visse wat in die Floemarivier lewe, toe koelbloedig vermoor word. Nadat haar liggaam weggeneem is om iewers op ’n afgeleë plek begrawe te word, maak ’n groep manne met vier van meneer Duiwendyk se netjies gekerfde pote spore in die grond rondom die viskenner se huis, en verwoes haar meubels en vistenks en laat haar visse snakkend na asem op die vloer agter.
   Die volgende oggend rapporteer lord Spoegmann se spioene dat dit lyk of die plan werk. Die skrikwekkende Ickabog het Chouxville tot dusver vermy, maar nou het hy met mening toegeslaan. Die Donkerpoters weet al presies hoe om die spore natuurlik te laat lyk en deure oop te breek asof ’n reusagtige monster dit gedoen het, en gepunte metaalgereedskap te gebruik om tandmerke op hout te maak. Die inwoners van Chouxville drom geskok by die arme ou dame se huis saam en staar ontredderd na al die verwoesting.
   Selfs nadat sy ma weg is om aandete te gaan maak, bly Bert Blinkenaar nog op die toneel agter. Hy versamel soveel inligting as moontlik oor die monster se pootspore en tandmerke sodat hy kan weet waarmee hy te doen gaan kry wanneer hy van aangesig tot aangesig kom met die monster wat sy pa doodgemaak het, want hy het nog glad nie afgesien van sy voorneme om wraak te neem nie.
   Toe Bert seker is dat hy elke besonderheid van die monster se spore in sy geheue ingeprent het, stap hy brandend van woede huis toe. Daar sluit hy hom in sy kamer toe en haal sy pa se medalje vir uitsonderlike dapperheid teen die dodelike Ickabog uit, asook die klein medalje wat die koning vir hom gegee het nadat hy met Daisy Duiwendyk baklei het. Die kleiner medalje maak Bert deesdae hartseer. Vandat Daisy weg is Pluritanië toe het hy nog nie weer sulke goeie vriende met iemand geraak nie, maar dit troos hom om te weet dat sy en haar pa ten minste buite die Ickabog se bereik is.
   Trane van woede wel in Bert se oë op. Hy wil so graag by die Ickabog-verdedigingsbrigade aansluit! Hy weet hy sal ’n goeie soldaat wees. Hy gee nie eers om as hy doodgaan in die geveg nie! Sy ma sal natuurlik verskriklik hartseer wees as die Ickabog haar seun sowel as haar man doodgemaak het, maar aan die ander kant sal Bert net soos sy pa ’n held wees!
   Met sy kop vol gedagtes van wraak en glorie steek Bert sy hand uit om die twee medaljes terug op die kaggelrak te sit, maar die kleiner een glip deur sy vingers en rol onder die bed in. Bert gaan lê plat op die vloer om dit te probeer bykom, maar kry dit nie reg nie. Hy wriemel hom verder onder sy bed in en kry die medalje uiteindelik in die verste, stowwerigste hoek, saam met iets skerps wat lyk asof dit al baie lank daar lê, want dit is vol spinnerakke.
   Bert is nou self ook vol stof; hy haal die medalje en die skerp ding onder die bed uit en sit regop om die onbekende voorwerp te bekyk.
   In die lig van sy kers sien hy ’n klein, perfek gekerfde Ickabog-poot, die laaste stukkie wat oorgebly het van die speelding wat meneer Duiwendyk lank, lank gelede vir hom gekerf het. Bert het gedink hy het elke enkele stukkie van die ding verbrand, maar hierdie poot moes onder die bed ingeskiet het toe hy die res van die Ickabog met sy stookyster flenters gekap het.
   Hy is op die punt om die poot in sy kamer se brandende vuurherd te gooi toe Bert skielik van plan verander en dit van nader begin bekyk.

Voorgestelde illustrasies (suggested illustrations)

n Struikrower
Die poskoets
’n Possak en briewe
Bert en lord Flapmann
Die poot van Bert se Ickabog-speelding

Hoofstukke

footer

Back to top