Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk vyf

Daisy Duiwendyk

Ná mevrou Duiwendyk se skokkende dood was die koning se bediendes ’n hele paar maande lank in twee groepe verdeel. Die eerste groep het gefluister dat dit koning Fred se skuld was dat sy haar oorwerk het en toe dood is. Die tweede groep het verkies om te glo dat daar ’n fout ingesluip het en dat die koning nie kon geweet het hoe siek mevrou Duiwendyk was toe hy haar beveel het om sy uitrusting betyds klaar te maak nie.
   Mevrou Blinkenaar, die fyngebaksjef, het aan die tweede groep behoort. Die koning was nog altyd baie vriendelik met mevrou Blinkenaar: Hy het haar soms na die eetkamer laat kom om haar geluk te wens met besonder smullekker baksels Hertoghappies of Troeteltertjies, daarom was sy seker dat hy ’n vriendelike, groothartige man is. 
   “Ek sê jou, iemand het vergeet om die boodskap vir die koning te gee,” het sy vir haar man, majoor Blinkenaar, gesê. “Hy sal nóóit ’n siek bediende dwing om te werk nie. Ek weet hy voel absoluut verskriklik oor wat gebeur het.”
   “Ja,” het majoor Blinkenaar geantwoord, “ek is seker daarvan.”
   Net soos sy vrou wou majoor Blinkenaar net die beste van die koning dink, want hy, sy pa en sy oupa voor hom het almal lojaal in die koninklike wag gedien. Al het majoor Blinkenaar opgemerk dat koning Fred ná mevrou Duiwendyk se dood heel opgeruimd was en soos gewoonlik gaan jag het, en al het majoor Blinkenaar geweet dat meneer Duiwendyk en sy dogter uit hulle ou huis gesit is en nou onder by die begraafplaas bly, het hy probeer glo dat die koning jammer was oor wat met sy naaldwerkster gebeur het, en dat dit nie sy besluit was om haar man en dogter na ’n ander huis te verskuif nie.
   Daisy en haar pa se nuwe kothuis was ’n mistroostige plek. Die hoë taksisbome rondom die begraafplaas het al die sonlig uitgehou, maar Daisy kon haar ma se graf duidelik van haar kamervenster af deur ’n gaping tussen die donker takke sien. Omdat sy nie meer langsaan Bert gewoon het nie het Daisy hom baie minder in hulle vrye tyd gesien, al het Bert so gereeld as moontlik by haar gaan kuier. Daar was baie minder speelplek in haar nuwe tuin, maar die twee het hulle speletjies daarby aangepas.
   Niemand het geweet wat meneer Duiwendyk van sy nuwe huis óf die koning dink nie. Hy het hierdie sake nooit met die ander bediendes bespreek nie, maar stil met sy werk aangegaan om die geld te verdien wat hy nodig gehad het om sy dogter so goed moontlik sonder haar ma groot te maak.
   Daisy het daarvan gehou om haar pa met sy skrynwerk in sy werkswinkel te help en was op haar gelukkigste wanneer sy ’n oorpak gedra het. Sy was die soort mens wat nie omgegee het om vuil te raak nie en sy het nie juis in klere belanggestel nie. Maar die eerste paar dae ná die begrafnis het sy elke dag ’n ander rok aangetrek en ’n vars bossie blomme op haar ma se graf gaan neersit. Toe mevrou Duiwendyk nog gelewe het, het sy altyd probeer om haar dogter, soos sy dit gestel het, “soos ’n dametjie” te laat lyk en vir haar baie pragtige rokkies gemaak, soms van die oorskietmateriaal wat koning Fred so vriendelik was om vir haar te gee nadat sy vir hom ’n nuwe spoggerige uitrusting gemaak het.
   En só is ’n week verby, toe ’n maand, en toe ’n jaar, totdat die rokke wat haar ma gemaak het almal te klein vir Daisy was, maar sy het hulle steeds netjies in haar hangkas gehou. Dit was asof die ander mense vergeet het wat met Daisy gebeur het, of gewoond geraak het aan die idee van haar ma wat weg is. Daisy het gemaak asof sy ook al gewoond daaraan was. Op die oppervlak het haar lewe weer normaal aangegaan. Sy het haar pa in die werkswinkel gehelp, haar skoolwerk gedoen en met haar beste vriend, Bert, gespeel, maar hulle het nooit oor haar ma gepraat nie, en ook nie oor die koning nie. Daisy het elke aand in die bed gelê met haar oë vasgenael op die grafsteen in die verte wat wit in die maanlig geglim het.

Voorgestelde illustrasies (suggested illustrations)

Bert Blinkenaar
Daisy Duiwedyk
Haringgraat, die hoofraadgewer
Koning Fred se pers pak
Die Duiwendyk-gesin se huis se vensters met die swart lappe
Die skrynwerker se werkswinkel
Daisy se ou rok

Hoofstukke

footer

Back to top