Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk sewe-en-dertig

Daisy en die maan

Ma Grommer se weeshuis het baie verander vandat Daisy in ’n sak soontoe geneem is. Die vervalle hool was nou ’n enorme klipgebou, met tralies voor die vensters, slotte aan elke deur, en genoeg ruimte vir honderd kinders.
   Daisy was nog steeds daar en het intussen baie langer en maerder geword, maar steeds die oorbroek gedra waarin sy ontvoer is. Soos sy groter word, het sy die moue en broekspype langer gemaak, en al die skeure en skaafplekke netjies gelap. Dit was die laaste ding wat sy van haar pa en hulle huis oorgehad het, daarom het sy dit aangehou dra in plaas van om soos Marta en die ander groot meisies vir haar rokke te maak van die sakke waarin die kool afgelewer is.
   Daisy het jare nadat sy ontvoer is, steeds vasgeklou aan die idee dat haar pa nog lewe. Sy was ’n slim meisie, en het altyd geweet dat haar pa nie in die Ickabog glo nie, daarom het sy haarself gedwing om te glo dat hy iewers in ’n sel is en elke aand deur ’n venster met tralies opkyk na die maan, net soos sy maak voordat sy aan die slaap raak.
   Toe, een aand gedurende haar sesde jaar by Ma Grommer, nadat sy die Hees-tweeling warm toegemaak het vir die nag, het Daisy langs Marta gaan lê en soos gewoonlik opgekyk na die bleek goue skyf in die lug en besef dat sy nie meer glo dat haar pa nog lewe nie. Die hoop het uit haar weggevlieg soos ’n voël wat uit ’n geplunderde nes vlug, en al het daar trane uit haar oë geloop, het sy vir haarself gesê dat haar pa nou op ’n beter plek is, iewers bo in die onmeetbare hemele saam met haar ma. Sy het haarself probeer troos met die idee dat haar ouers nie meer aardgebonde is nie en nou op enige plek kan wees, ook in haar hart, en dat sy haar herinneringe aan hulle lewend moet hou, soos ’n vlam. Maar dis nogtans moeilik om ouers te hê wat binne-in jou lewe terwyl jy eintlik net wil hê dat hulle moet terugkom en jou teen hulle moet vasdruk.
   Anders as baie van die weeskinders, kon Daisy haar ouers baie duidelik onthou. Die herinnering aan hulle liefde het haar aan die lewe gehou en bedags, wanneer sy gehelp het om na die kleintjies in die weeshuis te kyk, het sy seker gemaak dat sy vir hulle die drukkies en liefde gee wat sy so mis.
   Maar dit was nie net die gedagte aan haar ouers wat Daisy aan die lewe gehou het nie. Sy het so ’n vreemde gevoel gehad dat sy bedoel was om iets belangriks te doen – iets wat nie net haar eie lewe sou verander nie, maar ook Kornukopië se lot. Sy het nooit vir enigiemand van hierdie vreemde gevoel vertel nie, selfs nie vir haar beste vriend, Marta, nie, maar dit was vir haar ’n bron van krag. Daisy was seker dat haar kans nog sou kom.

Hoofstukke

footer

Back to top