Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk agt

Die Dag van Versoeke

Selfsugtig, verwaand en wreed. Selfsugtig, verwaand en wreed.
   Die woorde het in die koning se kop weergalm terwyl hy sy nagmus van sy opsit. Dit kon tog nie waar wees nie, kon dit? Dit het lank geneem voordat koning Fred aan die slaap kon raak en toe hy die volgende oggend wakker word, het hy selfs nog erger gevoel.
   Hy het besluit om iets groothartigs te doen en die eerste ding waaraan hy kon dink, was om majoor Blinkenaar se seun te vergoed omdat hy hom teen daardie nare meisie verdedig het. Toe het hy ’n klein penning wat gewoonlik om sy gunstelingjaghond se nek gehang het, geneem, ’n bediende gevra om ’n lint daardeur te ryg, en die Blinkenaars na die paleis ontbied. Bert, wie se ma hom by die skool kom haal en haastig vir hom ’n blou fluweelpak aangetrek het, het sprakeloos voor die koning vasgenael gestaan. Koning Fred het dit geniet en ’n hele paar minute lank vriendelik met die seun gesels terwyl majoor en mevrou Blinkenaar wou bars van trots oor hulle seun. Bert is uiteindelik met die klein goue medalje om sy nek terug skool toe, en daardie middag op die speelgrond het Rod Rommel, wat hom gewoonlik die meeste geboelie het, ’n groot ophef van hom gemaak. Daisy het nie ’n woord gesê nie en toe Bert sien hoe sy vir hom kyk, het hy warm en ongemaklik gevoel en die medalje onder sy hemp ingeglip.
   Intussen was die koning steeds nie heeltemal gelukkig nie. ’n Ongemaklike gevoel het hom bygebly, soos sooibrand, en daardie nag het hy weer gesukkel om te slaap.
   Toe hy die volgende dag wakker word, het hy onthou dat dit die Dag van Versoeke was.
   Die Dag van Versoeke was ’n spesiale dag, een keer elke jaar, wanneer die koning onderdane van Kornukopië te woord gestaan het. Koning Fred se raadgewers het daardie mense natuurlik sorgvuldig gekeur voordat hulle toegelaat is om voor hom te verskyn. Koning Fred het hom nooit met groot probleme bemoei nie. Hy het mense gespreek wat sorge gehad het wat met ’n paar goue munte en ’n paar vriendelike woorde opgelos kon word: soos ’n boer wie se ploeg gebreek het, of ’n ou vroutjie wie se kat dood is. Koning Fred het altyd uitgesien na die Dag van Versoeke. Dit was ’n kans om in sy spoggerigste klere te pronk, en dit was vir hom aandoenlik om te sien hoeveel hy vir die gewone mense van Kornukopië beteken het.
   Ná ontbyt het die kamerbediendes wat koning Fred aantrek vir hom gewag met ’n nuwe uitrusting wat hy net die vorige maand versoek het: ’n wit kardoesbroek van satyn en ’n bypassende baadjie met goue en pêrelknope, ’n mantel met ’n wynrooi voering wat met hermelynpels omsoom is, en wit satynskoene met gespes van goud en pêrels. Sy lakei het gewag met die goue tang om sy snorpunte te krul, en ’n hofknaap het gereed gestaan met ’n verskeidenheid ringe met kosbare stene op ’n fluweelkussing sodat koning Fred kon kies wat hy wou dra.
   “Vat dit alles weg, ek wil dit nie aantrek nie,” het koning Fred vies gesê en ’n gebaar gemaak om te wys hy wil nie die nuwe uitrusting dra nie. Die kamerbediendes het versteen. Hulle was nie seker of hulle reg gehoor het nie. Koning Fred het meer as gewoonlik belanggestel in hoe die kostuum vorder en het persoonlik gevra dat die wynrooi voering en windmaker gespes bygevoeg word. “Ek het gesê vat dit weg!” het hy geblaf toe niemand beweeg nie. “Gaan haal vir my iets eenvoudigs! Gaan haal vir my die uitrusting wat ek by my vader se begrafnis gedra het!”
   “Is … is daar iets verkeerd, U Majesteit?” het sy lakei gevra terwyl die verstomde kamerbediendes buig en met die wit uitrusting wegskarrel en binne ’n rekordtyd met ’n swart een terugkom.
   “Nee, niks is verkeerd nie,” het koning Fred gesnou. “Maar ek’s ’n man, nie ’n ligsinnige pierewaaier nie.”
   Hy het die swart uitrusting vererg aangetrek. Dit was die eenvoudigste een in sy klerekaste, maar steeds indrukwekkend met silwer omboorsels aan die mouboordjies en die kraag, en oniks- en diamantknope. En toe, tot sy lakei se verbasing, het hy die man toegelaat om slegs die punte van sy snorbaarde te krul voordat hy hom en die hofknaap met die kussing vol ringe laat verdaag het.
   So ja, het koning Fred gedink terwyl hy homself in die spieël bestudeer het. Hoe kan enigiemand my nou verwaand noem? Swart is beslis nie ’n kleur waarin ek goed lyk nie.
   Koning Fred het só vinnig klaar aangetrek dat lord Spoegmann, wat een van koning Fred se bediendes aangesê het om was uit sy ore te haal, en lord Flapmann, wat besig was om ’n bordjie Hertoghappies wat hy uit die kombuis bestel het te verslind, onkant gevang is en by hulle slaapkamers uitgestorm het terwyl hulle nog hulle onderbaadjies aangepluk en rondgehop het soos hulle hul stewels aantrek.
   “Opskud, julle lui lummels!” roep koning Fred terwyl die twee lords in die gang af agter hom aangehardloop kom. “Daar is mense wat wag vir my hulp!”
   En sal ’n selfsugtige koning jaag om eenvoudige mense wat gunste en gawes kom vra te woord te staan? dink koning Fred. Nee, hy sal nie!
   Koning Fred se raadgewers is geskok toe hy so stiptelik opdaag, en boonop so eenvoudig aangetrek, vir sy standaarde. Haringgraat, die hoofraadgewer, glimlag goedkeurend terwyl hy buig.
   “U Majesteit is vroeg,” sê hy. “Die mense sal verheug wees. Hulle staan reeds van dagbreek af tou.”
   “Laat hulle binnekom, Haringgraat,” sê die koning. Hy gaan sit op sy troon en beduie vir lord Spoegmann en lord Flapmann om weerskante van hom plaas te neem.
   Die deure word oopgemaak en die mense met versoeke begin een vir een inkom.
   Koning Fred se onderdane het dikwels net met ’n mond vol tande gestaan wanneer hulle van aangesig tot aangesig kom met die regte, lewende koning wie se portret in hulle stadsale hang. Party het begin giggel, of vergeet wat hulle wou vra, en een of twee mense het flou geraak. Koning Fred was daardie dag besonder grootmoedig en elke gesprek het geëindig met die koning wat vir iemand ’n paar goue munte gee, of ’n baba seën, of ’n ou vroutjie toelaat om sy hand te soen.
   Maar terwyl hy so glimlag en goue munte uitdeel en beloftes maak, het Daisy Duiwendyk se woorde in sy kop bly weergalm. Selfsugtig, verwaand en wreed. Hy wou iets spesiaals doen om te wys wat ’n wonderlike man hy is – en om te wys dat hy bereid was om homself vir ander op te offer. Al Kornukopië se konings het op die Dag van Versoeke goue munte uitgedeel en nietige versoeke toegestaan; koning Fred wou iets doen wat so wonderlik was dat dit hom deur die eeue heen beroemd sou maak, en jou naam kom nie in die geskiedenisboeke as jy vir ’n vrugteboer wat sy gunstelinghoed verloor het ’n nuwe een gee nie.
   Die twee lords aan weerskante van koning Fred het verveeld begin raak. Hulle sou baie eerder tot middagete in hulle slaapkamers wou rondlê as om daar te sit en luister na sukkelende boere wat oor hulle onbenullige probleme kla. Baie ure later het die laaste een met ’n versoek dankbaar by die troonsaal uitgestap, en lord Flapmann, wie se maag al byna ’n uur lank onophoudelik gegor het, het homself met ’n sug van verligting uit sy stoel opgehys.
   “Middagete!” het lord Flapmann gebulder, maar net toe die wagte die deure probeer toemaak, het hulle harde stemme gehoor en die deure het weer oopgevlieg.

Voorgestelde illustrasies (suggested illustrations)

Die paleis se binnehof
Die fontein
Die pou
Bert en Daisy wat baklei
Majoor Blinkenaar
Bert se medalje
Koning Fred op sy troon
Koning Fred se goue tang waarmee sy snorpunte gekrul word
Die kussing waarop Koning Fred se ringe aangedra word
Lord Spoegmann en lord Flapmann wat verveeld lyk

Hoofstukke

footer

Back to top