Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk drie-en-vyftig

Die geheimsinnige monster

Dit neem ’n hele paar dae voordat Daisy, Bert, Marta en Rod die moed het om enigiets anders te doen as om die gevriesde kos wat die Ickabog vir hulle van die wa af bring te eet en te kyk hoe die monster sampioene eet. Elke keer wanneer die Ickabog uitgaan (en die enorme rotsblok altyd voor die grot se mond rol om te keer dat hulle ontsnap), gesels hulle oor sy vreemde gewoontes, maar met gedempte stemme, ingeval hy hulle aan die ander kant van die rotsblok staan en afluister.
   Hulle verskil net oor een ding, en dis oor of die Ickabog ’n mannetjie of ’n wyfie is. Daisy, Bert en Rod dink almal dis net ’n mannetjie wat so ’n diep, bulderende stem kan hê, maar Marta, wat skape opgepas het voordat haar gesin van hongersnood dood is, dink die Ickabog is ’n wyfie.
   “Die Ickabog se maag word ál groter,” sê sy vir hulle. “Ek dink die dierasie gaan kleintjies kry.”
   Die ander ding wat die kinders bespreek, is natuurlik wanneer presies die Ickabog beplan om hulle te eet, en of hulle teen hom sal kan baklei of hom kan keer.
   “Ek dink ons het nog ’n bietjie tyd,” sê Bert, en kyk na Daisy en Marta, wat ná al die jare in die weeshuis steeds baie maer is. “Julle twee sal hom nie eers halfpad vol maak nie.”
   “As ek hom aan die nek beetkry,” sê Rod en beduie hoe hy dit sal doen, “en Bert moker hom baie hard in die maag –”
   “Ons sal die Ickabog nooit kan oorrompel nie,” sê Daisy. “Hy stoot daai yslike groot rotsblok alleen heen en weer. Ons is nie naastenby sterk genoeg nie.”
   “As ons net ’n wapen gehad het,” sê Bert en staan op en skop ’n klip dat dit tot aan die ander kant van die grot trek.
   “Dink julle nie dis vreemd dat ons die Ickabog net sampioene sien eet nie?” vra Daisy. “Kry julle nie die gevoel dat hy maak asof hy kwaaier is as wat hy regtig is nie?”
   “Wel, die dierasie eet skape,” sê Marta. “Waar kom al hierdie wol vandaan as hy nie skape eet nie?”
   “Miskien het hy al die klossies wat aan die bosse vassit, bymekaargemaak?” stel Daisy voor en tel van die sagte wit dons op. “Ek kan nog steeds nie verstaan hoekom hier niks bene rondlê as hy regtig skape eet nie.”
   “Wat van daardie lied wat hy elke aand sing?” sê Bert. “Dit gee my hoendervleis. As julle my vra, is dit ’n oorlogslied.”
   “Dit maak my ook bang,” stem Marta saam.
   “Ek wonder wat dit beteken?” sê Daisy.
   ’n Paar minute later word die enorme rotsblok voor die grot se mond weer weggerol en die Ickabog verskyn weer eens met sy twee mandjies, een vol sampioene soos gewoonlik, en die ander een met gevriesde kase uit Suiwelstad.
   Almal eet sonder om te praat, soos hulle altyd maak, en nadat die Ickabog sy mandjies weggepak en die vuur gestook het, beweeg hy soos wat die son begin ondergaan na die mond van die grot en maak gereed om sy vreemde lied te sing in die taal wat mense nie kan verstaan nie.
   Daisy staan op.
   “Wat doen jy?” fluister Bert en gryp haar enkel. “Sit!”
   “Nee,” sê Daisy en ruk los. “Ek wil met hom praat.”
   Sy stap dapper tot by die mond van die grot en gaan sit langs die Ickabog.

Voorgestelde illustrasies (suggested illustrations)

Die Ickabog se rotstekeninge
ʼn Mandjie vol sampioene

Hoofstukke

footer

Back to top