Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk ses

Die geveg in die binnehof

Agter die paleis was daar ’n binnehof waar poue gepronk het, fonteine vrolik gespuit het, en die standbeelde van vorige konings en koninginne waggehou het. Solank hulle nie die poue se stertvere uittrek, in die fonteine spring of teen die standbeelde opklim nie, is die paleisbediendes se kinders toegelaat om ná skool in die binnehof te speel. Soms het lady Eslander, wat baie van kinders gehou het, kettings van madeliefies saam met hulle gemaak, maar die opwindendste van alles was wanneer koning Fred op die balkon kom staan en gewuif het. Dan het al die kinders gejuig en diep gebuig soos hulle ouers hulle geleer het.
   Die enigste keer wanneer die kinders stil geraak het en opgehou eenbeentjie speel het en kamma teen die Ickabog baklei het, was wanneer lord Spoegmann en lord Flapmann in die binnehof verskyn het. Die twee lords het glad nie van kinders gehou nie. Volgens hulle het die snuiters laatmiddag gans te veel geraas, want dit was wanneer lord Spoegmann en lord Flapmann tussen hulle jagtog en aandete ’n uiltjie wou knip. 
   Op ’n dag, kort ná Bert en Daisy se sewende verjaardag, terwyl almal soos gewoonlik tussen die fonteine en poue speel, sê die dogter van die nuwe hoofnaaldwerkster, wat ’n pragtige rok van roospienk brokaat dra, skielik:
   “Oe, ek hoop die koning gaan vandag weer vir ons waai!”
   “Ek hoop nie so nie.” Daisy kon haarself nie keer nie en het nie besef hoe hard sy gepraat het nie.
   Die kinders snak almal na asem en draai na haar. Daisy voel warm en koud tegelyk toe sy sien hoe almal haar aangluur.
   “Jy moes dit nie gesê het nie,” fluister Bert. Omdat hy reg langsaan Daisy staan, staar die ander kinders hom ook aan.
   “Ek gee nie om nie,” sê Daisy en word rooi in die gesig. Sy het nou begin, sy kan maar net sowel klaarmaak. “As hy my ma nie so hard laat werk het nie, sou sy nou nog gelewe het.”
   Dit voel vir Daisy asof sy al baie lank wag om dit hardop te sê.
   Die kinders rondom haar snak weer hard, en ’n diensmeisie se dogter gee ’n gilletjie van vrees.
   “Hy’s die beste koning wat ons nog ooit in Kornukopië gehad het,” sê Bert, want hy het sy ma dit al soveel keer gehoor sê. ~
   “Nee, hy is nie,” sê Daisy hard. “Hy’s selfsugtig, verwaand en wreed!”
   “Daisy!” fluister Bert verskrik. “Moenie – moenie simpel wees nie!”
   Dit was die woord “simpel” wat dit veroorsaak het. “Simpel”, terwyl die nuwe hoofkleremaakster se dogter giggel en agter haar hand vir haar vriende fluister en na Daisy se oorpak wys. “Simpel”, terwyl haar pa saans sy trane wegvee wanneer hy dink dat Daisy dit nie sien nie. “Simpel”, terwyl sy by ’n koue wit grafsteen moet gaan staan wanneer sy met haar ma wil praat?
   Daisy trek haar hand terug en klap Bert deur die gesig.
   Toe skree die oudste Rommel-seun, wie se naam Rod is en wat Daisy se ou slaapkamer gekry het: “Moenie haar daarmee laat wegkom nie, Botterbal!” en por die seuns aan om saam met hom “Baklei! Baklei! Baklei!” te skree. 
   Bert stamp Daisy halfhartig teen die skouer. Dit lyk vir Daisy asof sy net een ding kan doen: Sy gaan Bert te lyf, en toe sien jy net stof en elmboë totdat Bert se pa, majoor Blinkenaar, wat die lawaai gehoor het, by die paleis uitstorm en die twee uitmekaar pluk.
   “Sulke skokkende gedrag,” brom lord Spoegmann toe hy verby die majoor en die twee huilende, bakleiende kinders loop.  
   Maar toe hy wegdraai, het daar ’n gemene glimlag op lord Spoegmann se gesig verskyn. Hy was ’n man wat geweet het hoe om ’n situasie uit te buit, en hy het besluit dis sy kans om te sorg dat kinders – of ten minste party van hulle – uit die paleis se binnehof verban word.

Hoofstukke

footer

Back to top