Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk twee-en-twintig

Die huis sonder vlae

En só is elke huishouding in Kornukopië ’n maandelikse belasting van twee goue dukate opgelê om die land teen die Ickabog te beskerm. Dit was nie lank nie, toe is belastinggaarders ’n algemene gesig op straat in Kornukopië. Op die rug van hulle swart uniform was daar groot, starende wit oë soos lanterns geverf. Dit was om almal te herinner aan die doel van die belasting, maar in die tavernes het mense gefluister dat dit lord Spoegmann se oë was wat dophou dat almal opdok.
   Toe daar genoeg goud bymekaargemaak is, het lord Spoegmann besluit om ’n standbeeld ter nagedagtenis aan ’n slagoffer van die Ickabog op te rig om die mense ter herinner aan hoe gevaarlik die ongedierte is. Hy het eers ’n standbeeld van majoor Blinkenaar beplan, maar volgens sy spioene in Chouxville se tavernes het manskap Knopie die inwoners se verbeelding aangegryp. Almal het gevoel dat die dapper jong manskap Knopie wat ná sy majoor se dood vrywillig die nag ingejaag het, net om self ook in die Ickabog se kloue te beland, ’n tragiese en edel held was wat ’n indrukwekkende standbeeld verdien. Aan die ander kant was majoor Blinkenaar se dood volgens die mense bloot ’n dom ongeluk omdat hy so onverantwoordelik was om die mistige moeras in die donker aan te durf. Ja-nee, die mense van Chouxville het majoor Blinkenaar kwalik geneem, want dit was oor hom dat manskap Knoppie Knopie sy lewe gewaag het.
   Lord Spoegmann was maar te bly om van die openbare mening kennis te neem en het ’n standbeeld van manskap Knopie in die middel van Chouxville se grootste plein laat oprig. Dit was van die manskap wat op ’n trotse krygsperd sit, met sy mantelkap van brons wat agter hom wapper en ’n vasberade uitdrukking op sy jeugdige gesig, vir ewig vasgevang soos toe hy die pad terug na die Stad-in-die-Stad aangedurf het. Dit het mode geword om Sondae kranse aan die voet van die standbeeld te gaan neersit. ’n Taamlike vaal jongmeisie wat elke dag vars blomme gebring het, het selfs beweer dat manskap Knoppie Knopie haar kêrel was.
   Lord Spoegmann het ook besluit om geld te bestee om die koning se aandag af te lei. Koning Fred was steeds te bang om te gaan jag, want die Ickabog kon maklik uit die moeras ontsnap en hom iewers in die woud gelê en inwag het. Lord Spoegmann en lord Flapmann was moeg om die koning ure lank te moet vermaak en het toe ’n plan beraam.
   “Ons het ’n portret nodig van u wat teen die Ickabog veg, U Hoogheid! Die volk dring daarop aan!”
   “Werklik?” het die koning gevra en met sy knope gespeel – daardie dag was dit geslypte smaragde. Koning Fred kon onthou dat hy dit self ook oorweeg het om hom só te laat skilder toe hy sy krygsmondering die eerste keer aangetrek het. Hy het baie van lord Spoegmann se idee gehou en het die volgende twee weke bestee aan die kies en aanpas van ’n nuwe mondering, want die ou een is erg in die moeras beskadig. Verder het hy vir hom ’n nuwe swaard met juwele in die hef laat maak. Lord Spoegmann het Malik Mengelmoez, die beste portretskilder in Kornukopië, opdrag gegee om die koning te skilder en toe het koning Fred weke lank geposeer vir die skildery wat een hele muur van die troonsaal in beslag sou neem. Agter Mengelmoez het daar minstens vyftig tweederangse skilders gesit wat elke kwashaal van hom nageaap het sodat kleiner weergawes van sy werk in al wat stad, dorp en nedersetting in Kornukopië is, kon pryk.
   Terwyl die koning geskilder is, het hy vir Mengelmoez en die ander skilders met kleur en geur van sy beroemde geveg teen die ongedierte vertel, en hoe meer hy die storie vertel het, hoe meer het hy oortuig geraak dat dit werklik die waarheid was. Hierdie aktiwiteit het koning Fred besig en tevrede gehou, wat lord Spoegmann en lord Flapmann kans gegee het om die land ongehinderd te regeer en die trommels vol goud wat elke maand oorgebly het tussen hulle te verdeel en dit in die middel van die nag na hulle landgoedere op die platteland te stuur.
   Maar jy wonder seker wat geword het van die ander elf raadgewers wat onder Haringgraat gewerk het? Het hulle nie agterdogtig geraak toe die hoofraadgewer in die middel van die nag afgetree het en sedertdien nooit weer gesien is nie? Het hulle nie vrae gevra toe hulle wakker word en lord Spoegmann skielik Haringgraat se plek ingeneem het nie? En die heel belangrikste vraag: Het hulle werklik in die bestaan van die Ickabog geglo?
   Dit is uitstekende vrae, en ek sal hulle nou beantwoord.
   Die raadgewers het beslis saamgestem dat lord Spoegmann nie sommer kon oorgeneem het sonder dat almal eers oor die saak gestem het nie. Twee van hulle het dit selfs oorweeg om by die koning beswaar te gaan maak. Maar hulle het besluit om dit eerder nie te doen nie, om die eenvoudige rede dat hulle bang was.
   Jy sien, daar is intussen kennisgewings wat deur lord Spoegmann en die koning geteken is in elke stad en op elke dorpsplein in Kornukopië opgeplak. Dit was skielik verraad om enige besluite van die koning te bevraagteken. Dit was ook verraad om die bestaan van die Ickabog en die noodsaaklikheid van die Ickabog-belasting in twyfel te trek, en dit was verraad as jy nie die verpligte twee dukate per maand betaal het nie. Verder is daar ’n beloning van tien dukate uitgeloof vir inligting oor enigiemand wat beweer dat die Ickabog nie bestaan nie.
   Die raadgewers was bang om van verraad beskuldig te word. Hulle wou nie in ’n kerker opgesluit word nie. Dit was baie geriefliker om te lewe in die pragtige herehuise wat raadgewers verniet gekry het en eerder hulle spesiale raadgewermantels te dra, wat beteken het dat hulle voor in die lang tou by die bakkery kon indruk.
   Daarom het die raadgewers al die uitgawes vir die Ickabog-verdedigingsbrigade goedgekeur. Die nuwe groen uniform wat spesiaal vir die eenheid gemaak is, was volgens lord Spoegmann om hulle beter tussen die moeras se riete te kamoefleer. Dit was nie lank nie of die brigade was ’n alledaagse gesig in al Kornukopië se groot stede.
   Baie mense het seker gewonder hoekom die manne wuiwend in die strate rondgery het in plaas daarvan dat hulle in die noorde aan diens was om die ongedierte uit Kornukopië weg te hou, maar sulke mense het hulle vrae vir hulself gehou. Intussen het die meeste burgers met mekaar meegeding oor wie die hartstogtelikste in die bestaan van die Ickabog glo. Hulle het goedkoop namaaksels van die skildery van koning Fred wat teen die Ickabog baklei in hulle vensters uitgestal en groot houtborde met boodskappe soos TROTS OM DIE ICKABOG-BELASTING TE BETAAL en WEG MET DIE ICKABOG, LANK LEWE DIE KONING! daarop teen hul deure gehang. Party ouers het hulle kinders selfs geleer om vir die belastinggaarders te buig en hulle knieë te knak.
   Die Blinkenaars se huis was met soveel baniere met anti-Ickabog-spreuke behang dat jy skaars kon sien hoe die gebou daaronder lyk. Bert is uiteindelik terug skool toe en het tot Daisy se teleurstelling pouses net met Rod Rommel gesels oor wanneer hulle eendag by die Ickabog-verdedigingsbrigade kon aansluit en die monster kon doodmaak. Daisy het nog nooit so eensaam gevoel nie en gewonder of Bert haar dan glad nie mis nie.
   Die huis waarin Daisy-hulle gewoon het, was die enigste een in die Stad-in-die-Stad waar geen vlae of houtborde gehang het wat die Ickabog-belasting verwelkom het nie. Wanneer die Ickabog-verdedigingsbrigade daar verbyry, het die bure se kinders opgewonde buitentoe gehardloop en gejuig, maar haar pa het haar in die huis gehou.
   Lord Spoegmann het die gebrek aan vlae en borde by die klein kothuis langs die begraafplaas opgemerk en die inligting in sy slinkse agterkop bewaar vir wanneer dit hom eendag nuttig te pas sou kom.

Hoofstukke

footer

Back to top