Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk vier-en-twintig

Die klimtol

Dit was nie meer lank voor Daisy se agtste verjaardag nie en sy het besluit om Bert Blinkenaar die dag oor te nooi.
   Vandat sy pa dood is, was dit asof daar ’n dik muur van ys tussen Daisy en Bert is. Hy was gedurig by Rod Rommel, wat baie trots daarop was dat hy en die Ickabog-slagoffer se seun vriende is. Daisy verjaar drie dae voor Bert en sy het gedink dis haar kans om uit te vind of sy hulle vriendskap nog kon red. Daarom het sy vir haar pa gevra om vir mevrou Blinkenaar te skryf en haar en haar seun vir tee te nooi. Daisy was baie bly toe die vrou teruggeskryf en hulle uitnodiging aanvaar het, en selfs al wou Bert nog steeds nie by die skool met haar praat nie, het sy bly hoop dat alles op haar verjaardag sal regkom.
   Al het die koning sy skrynwerker genoeg betaal, het die Ickabog-belasting selfs vir meneer Duiwendyk ook in die knyp laat beland, so hy en Daisy het minder fyngebak as voorheen gekoop en meneer Duiwendyk het opgehou om wyn te koop. Maar om sy dogter se verjaardag te vier, het hy sy laaste bottel Jeroboam-vonkelwyn uitgehaal en Daisy het al haar spaargeld gevat en vir haar en Bert elkeen ’n Hemelhartjie gaan koop, want sy het geweet dat dit sy gunsteling is.
   Die verjaardagtee loop egter van die begin af reeds skeef. Om te begin stel meneer Duiwendyk ’n heildronk op majoor Blinkenaar in, wat sy weduwee in trane laat uitbars. Toe gaan sit die vier by die tafel om iets te eet, maar niemand weet mooi wat om te sê nie, totdat Bert onthou dat hy vir Daisy ’n present gebring het.
   Hy het ’n klimtol (dis wat mense ’n jojo destyds genoem het) in ’n speelgoedwinkel se vertoonvenster gesien en dit gekoop met al sy sakgeld wat hy gespaar het. Daisy het nog nooit so iets gesien nie, maar Bert wys vir haar hoe dit werk en sy is sommer gou beter daarmee as hy. Intussen drink mevrou Blinkenaar en meneer Duiwendyk die vonkelwyn uit Jeroboam en die geselskap vlot al hoe meer.
   Bert het sy vriend Daisy baie gemis, maar nie geweet hoe om vrede met haar te maak nie, want Rod Rommel het hom skaars ’n oomblik alleen gelos. Maar nou is dit asof die bakleiery in die paleis se binnehof nooit plaasgevind het nie, en Daisy en Bert proes van die lag oor ’n onderwyser wat die gewoonte het om skelm snollies uit sy neus te grawe wanneer hy dink die kinders sien hom nie. Die hartseer onderwerp van ouers wat dood is of gevegte wat handuit geruk het of koning Fred die Vreeslose is nou alles vergete.
   Die kinders is slimmer as die grootmense. Meneer Duiwendyk het lanklaas wyn gedrink en anders as sy dogter hou hy nie in gedagte dat ’n gesprek oor die monster wat kastig vir majoor Blinkenaar se dood verantwoordelik was dalk nie so ’n goeie idee is nie. Daisy kom dit eers agter toe haar pa so hard praat dat sy stem bo hulle kinders se gelag uitstyg.
   “Al wat ek sê, Berta,” skree meneer Duiwendyk nou al amper, “is waar’s die bewys? Ek wil bewyse sien, dis al!”
   “Is dit nie bewys genoeg dat my man dood is nie?” vra mevrou Blinkenaar en haar vriendelike gesig lyk skielik gevaarlik. “En wat van arme klein Knoppie Knopie?”
   “Arme klein Knoppie Knopie!” herhaal meneer Duiwendyk smalend. “Arme klein Knoppie Knopie? Noudat jy hom noem, daar is geen bewyse dat Knoppie Knopie wel bestaan het nie. Wie was hy? Waar het hy gebly? Waarheen het sy ma, die ou weduwee met die gemmerkleur pruik, verdwyn? Het jy al ooit ’n gesin met die van Knopie hier in die Stad-in-die-Stad ontmoet? En selfs al dring jy daarop aan,” sê die skrynwerker en swaai sy glas rond, “selfs al dring jy daarop aan dat hy wel bestaan het, Berta, wil ek nog steeds by jou weet: Hoekom was Knoppie Knopie se kis so swaar as al wat van hom oorgebly het sy stewels en kaalgevrete beendere was?”
   Daisy gee haar pa ’n woedende kyk om hom stil te maak, maar hy kom dit nie eens agter nie. Ná nóg ’n groot sluk vonkelwyn sê hy: “Dit maak nie sin nie, Berta! Dit maak nie sin nie! Wie sê – en dis net ’n idee, hoor – wie sê arme Blinkenaar het nie van sy perd afgeval en sy nek gebreek nie? En toe benut lord Spoegmann die geleentheid om te beweer dat die Ickabog hom doodgemaak het sodat hy ons almal vir belastinggeld kan melk!”
   Mevrou Blinkenaar staan stadig op. Sy is nie ’n baie lang vrou nie, maar van woede lyk dit asof sy bo meneer Duiwendyk uittroon.
   “My man,” sis sy met so ’n ysige stem dat Daisy hoendervleis kry, “was die beste ruiter in die hele Kornukopië. My man sou net so min van sy perd afgeval het as wat jy jou eie been met jou byl sal afkap, Daniël Duiwendyk. Niks minder as ’n afgryslike monster kon my man doodgemaak het nie en jy moet ’n wag voor jou mond sit, want dis verraad om te sê dat die Ickabog nie bestaan nie!”
   “Verraad!” sê meneer Duiwendyk spottend. “Komaan, Berta, hoe kan jy daar staan en vir my sê jy glo daardie nonsens van verraad? ’n Paar maande gelede was iemand wat nie in die Ickabog geglo het nie ’n verstandige man, nie ’n verraaier nie!”
   “Maar dit was voor ons geweet het dat die Ickabog wel bestaan!” skree Berta Blinkenaar. “Kom, Bert. Ons gaan huis toe!”
   “Nee – nee – moet asseblief nie loop nie!” roep Daisy uit. Sy haal die boksie wat sy onder haar stoel weggesteek het, uit en hardloop agter die Blinkenaars aan uit tuin toe.
   “Bert, asseblief! Kyk – ek het vir ons Hemelhartjies gekoop. Ek het al my sakgeld gebruik!”
   Daisy weet nie dat Hemelhartjies Bert nou dadelik herinner aan die dag toe hy gehoor het dat sy pa dood is nie. Die laaste keer toe hy ’n Hemelhartjie geëet het, was toe sy ma hom in die koning se paleis se kombuis verseker het dat hulle ’n boodskap sou gekry het as majoor Blinkenaar iets oorgekom het.
   Nogtans wil Bert nie Daisy se present op die grond neergooi nie, hy wil haar hand net wegstoot. Maar toe val die boksie ongelukkig uit Daisy se hand en die duur gebak val in die blombedding en word met grond besmeer.
   Daisy bars in trane uit.
   “Lyk my al waarvoor jy omgee, is simpel eetgoed!” skree Bert en pluk die tuinhekkie oop en lei sy ma daar weg.

Hoofstukke

footer

Back to top