Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk twaalf

Die koning se swaard raak weg

Binne oomblikke is dit asof elkeen in die koning se geselskap ’n dik wit blinddoek dra. Die mis is so dig dat hulle nie hulle eie hande voor hulle oë kan sien nie. Die mis ruik na die stink moeras, na brak water en slik. Dis asof die sagte grond onder hulle voete meegee en baie van die manne begin paniekerig rondbeweeg, maar dis ’n slegte idee, want hulle verloor mekaar uit sig en daarom ook alle sin van rigting. Elke man voel asof hy alleen in ’n verblindende wit see dryf, en majoor Blinkenaar is een van die min wat kophou.  
   “Versigtig!” skree hy. “Die grond is verraderlik. Staan stil, moenie rondbeweeg nie!”
   Maar koning Fred, wat skielik nogal bang is, steur hom nie daaraan nie. Hy draai onmiddellik in die rigting waar hy dink majoor Blinkenaar is, maar ná ’n paar treë begin voel hy hoe hy in die ysige moeras wegsink.
   “Help!” roep hy terwyl die vriesende moeraswater oor sy blink stewels begin stroom. “Help! Blinkenaar, waar is jy? Ek sink!”
   Daar is ’n geskree van paniekerige stemme en wapens wat kletter. Al die wagte vlug in verskillende rigtings, probeer die koning opspoor en loop in mekaar vas en gly en val oor mekaar, maar die spartelende koning se krete klink bo almal s’n uit.
   “Ek is my stewels kwyt! Hoekom kom niemand my help nie! Waar is julle almal?”
   Lord Spoegmann en lord Flapmann is die enigste twee manne wat na majoor Blinkenaar geluister het en stil bly staan het waar hulle was nadat die mis hulle oorval het. Lord Spoegmann klou aan die agterkant van lord Flapmann se yslike kardoesbroek en lord Flapmann hou styf aan een pant van lord Spoegmann se soldatemantel vas. Nie een van hulle wend die geringste poging aan om koning Fred te red nie; hulle wag bewend dat almal tot bedaring moet kom.
   “As die moeras daai idioot insluk, sal ons ten minste huis toe kan gaan,” brom lord Spoegmann vir lord Flapmann.
   Dit word ál meer van ’n warboel. ’n Hele paar lede van die koninklike wag sit nou al in die moeras vas, terwyl die ander die koning probeer opspoor. Die lug is gevul met ’n geplas en gekletter en geskree. Majoor Blinkenaar bulder tevergeefs om ’n mate van orde te herstel, en dis asof die koning se stem ál verder die blinde nag in verdwyn; dit word al hoe dowwer, asof hy ál verder van hulle af wegploeter.
   En toe, uit die hartjie van die donker, kom daar ’n aaklige, angsbevange kreet.
   “BLINKENAAR, HELP MY! EK SIEN DIE MONSTER!”
   “Ek kom, U Majesteit!” skree majoor Blinkenaar. “Hou aan skree sodat ek U Hoogheid kan kry!”
   “HELP! HELP MY, BLINKENAAR!” skree koning Fred.
   “Wat het van daardie idioot geword?” vra lord Flapmann vir lord Spoegmann, maar voordat lord Spoegmann kan antwoord, word die mis rondom die twee lords net so vinnig as wat dit ingerol het weer yl. Hulle staan nou saam in ’n oop kol en kan mekaar sien, maar word steeds oral deur yslike mure digte wit mis omring. Die koning, majoor Blinkenaar en die ander soldate se stemme word dowwer en dowwer.
   “Moet nog nie beweeg nie,” waarsku lord Flapmann. “Wanneer die mis effens meer opgeklaar het, kan ons die perde soek en sorg dat ons iewers veilig –”
   Net mooi op daardie oomblik bars ’n slymerige swart gedaante by die muur van mis uit en pyl op die twee lords af. Lord Flapmann gee ’n skril kreet en lord Spoegmann kap met sy wapen na die ongedierte, maar dis mis, want die ding val huilend op die grond neer. Dis toe dat lord Spoegmann besef die brabbelende, hygende slymmonster is in werklikheid koning Fred die Vreeslose.
   “Dank die hemel ons het U Majesteit gekry. Ons het oral gesoek!” roep lord Spoegmann uit.
   “Ick – Ick – Ick –” kerm die koning.
   “Hy hik,” sê lord Flapmann. “Maak hom skrik.”
   “Ick – Ick – Ickabog!” hakkel koning Fred. “Ek het hom gesien! ’n Reusagtige monster – hy’t my amper gevang!”
   “Ekskuus, U Majesteit?” vra lord Spoegmann.
   “Die m-monster b-bestaan regtig!” snak koning Fred. “Ek’s g-gelukkig om nog te lewe! Ons moet by die perde kom! Ons moet vlug, en vinnig!”
   Koning Fred probeer teen lord Spoegmann se been opklim asof hy ’n perd is, maar die lord staan vinnig opsy om te keer dat hy vol slym gesmeer word. Hy streel koning Fred se kop, wat die skoonste deel van hom is, paaiend soos wat jy met ’n baba maak.
   “Toemaar – toemaar, U Majesteit. U het baie groot geskrik toe u in die moeras geval het. Maar soos ons vroeër gesê het, neem hierdie rotsblokke monsteragtige vorms in die digte mis aan en –”
   “Vervloeks, lord Spoegmann, ek weet wat ek gesien het!” skree die koning en kom sonder hulp sukkelend op die been. “Hy’s so groot soos twee perde, en sy oë is so groot soos lampe! Ek het my swaard getrek, maar ek was so van die slym besmeer dat dit uit my hand geglip het, en toe was al genade om my voete los te wikkel uit my stewels wat vasgeval het en daarvandaan weg te kruip.”
   Die vierde man verskyn in die oop kol in die mis: Dis kaptein Rommel, Rod se pa en majoor Blinkenaar se tweede in bevel – ’n groot, fris man met ’n pikswart snor. Ons sal binnekort uitvind wat ’n soort man kaptein Rommel regtig is. Al wat jy nou hoef te weet, is dat hy die grootste lid van die koninklike wag is.
   “Het jy enige teken van die Ickabog gesien, Rommel?” kerm koning Fred.
   “Nee, U Majesteit,” sê hy en buig eerbiedig, “al wat ek gesien het, is mis en modder. Maar ek is regtig bly om te sien dat U Majesteit veilig is. U kan hier bly, dan sal ek die troepe gaan bymekaarmaak.”
   Kaptein Rommel wil wegmik, maar koning Fred gil: “Nee, bly hier by my, ingeval die monster hierheen kom! Jy het mos nog jou geweer, dan nie? Uitstekend – soos jy kan sien, is ek my swaard en my stewels kwyt. My heel beste swaard, die seremoniële een met die hef wat met juwele versier is.”
   Al voel hy baie veiliger met kaptein Rommel by hom, kan die bewende koning nie onthou dat hy al ooit so koud gekry het en so bang was nie. Hy kry ook so ’n nare gevoel dat niemand glo dat hy die Ickabog regtig gesien het nie, veral toe hy sien hoe lord Spoegmann sy oë vir lord Flapmann rol.
   Die koning voel in sy trots gekrenk.
   “Spoegmann, Flapmann,” sê hy, “ek wil my swaard en my stewels terughê! Dis daar iewers in die moeras,” voeg hy by en waai met sy arm na die digte mis wat hulle omhul.
   “Sal – sal dit nie beter wees om te wag totdat die mis opgeklaar het nie, U Majesteit?” vra lord Spoegmann senuweeagtig.
   “Ek wil my swaard hê!” blaf koning Fred. “Dit was my oupa s’n en dis baie waardevol! Gaan soek dit, julle twee. Ek sal hier by kaptein Rommel wag. En moenie met leë hande terugkom nie.”

Hoofstukke

footer

Back to top