Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk vier-en-vyftig

Die lied van die Ickabog

Die Ickabog het net mooi diep asemgehaal met die geluid wat klink soos ’n doedelsak wat vol lug geblaas word, toe sê Daisy:
   “In watter taal sing jy, Ickabog?”
   Die Ickabog kyk af na haar, en skrik toe hy Daisy so naby aan hom sien sit. Daisy dink eers hy gaan nie antwoord nie, maar uiteindelik sê hy met sy stadige, diep stem:
   “Ickeraans.”
   “En waaroor gaan die lied?”
   “Dis die storie van die Ickabogs – en van jou soort ook.”
   “Jy bedoel mense?” vra Daisy. “Ja, mense,” sê die Ickabog. “Die twee stories is een storie, want mense is uit Ickabogs Geborene.”
   Hy haal weer diep asem, maar Daisy vra: “Wat beteken ‘Geborene’? Is dit dieselfde as gebore?”
   “Nee,” sê die Ickabog en kyk af na haar, “Geborene is baie anders as om gebore te word. Dis hoe nuwe Ickabogs in die wêreld kom.”
   Daisy wil beleefd wees, aangesien die Ickabog so geweldig groot is, en sê versigtig:
   “Dit klink ’n bietjie soos om gebore te word.”
   “Wel, dit is nie,” sê die Ickabog met sy diep stem. “Gebore en Geborene is baie verskillende goed. Wanneer Ickabog-babas Geborene word, gaan ons wat hulle Geborene het dood.”
   “Altyd?” vra Daisy, wat sien hoe die Ickabog ingedagte oor sy maag vryf terwyl hy praat.
   “Altyd,” sê die Ickabog. “Dis hoe dit met Ickabogs werk. Om saam met jou kinders te lewe is een van die vreemdstehede van mense.”
   “Maar dis so hartseer,” sê Daisy stadig. “Om dood te gaan wanneer jou kinders gebore word.”
   “Dis glad nie hartseer nie,” sê die Ickabog. “Die Geborening is ’n wonderlike ding! Ons hele lewens lei tot die Geborening. Wat ons doen en wat ons voel wanneer ons babas Geborene word, gee vir ons kleintjies hulle geaardheid. Dis baie belangrik om ’n goeie Geborening te hê.”
   “Ek verstaan nie,” sê Daisy.
   “As ek hartseer en sonder hoop doodgaan,” verduidelik die Ickabog, “sal my babas nie oorleef nie. Ek het gesien hoe my mede-Ickabogs een ná die ander in wanhoop sterf, en hulle babas het net ’n paar sekondes lank gelewe. ’n Ickabog kan nie sonder hoop lewe nie. Ek’s die laaste Ickabog wat oor is, en my Geborening gaan die belangrikste Geborening in die geskiedenis wees, want as my Geborening goed afloop, sal ons spesie oorleef, en as dit nie gebeur nie, sal die Ickabogs vir ewig verdwyn …
   “Jy weet, dis oor ’n slegte Geborening dat al ons moeilikheid begin het.”
   “Is dit waaroor jou lied gaan?” vra Daisy. “Daardie slegte Geborening?”
   Die Ickabog knik met sy oë vasgenael op die witgesneeude moeras wat nou donker word. Toe neem hy weer ’n diep doedelsak-teug lug en begin sing, en hierdie keer sing hy die lied in woorde wat die mense kan verstaan.

“Doer met die daeraad van tyd 

was daar Ickabogs wyd en syd. 

Nêrens was daar ’n enk’le mens,

geen haat, geen oorlog en geen grens.

Doerie tyd was alles perfek,

Daar was oorvloed en geen gebrek.

Ons was sonder vrees, ons was vry,

ons dae’t sag verbygegly. 

 

O Ickabogs, word weer Geborene,

word weer Geborene, my Ickabogs.

O Ickabogs, word weer Geborene,

word weer Geborene, my Ickervolk.

 

Maar een nag toe tref ’n ramp ons

terwyl ’n storm woed om ons.

Toe het Bitterheid verskyn,

Geborene uit venyn.

Sy stem was grof, sy hart hard,

en hy het ons uitgetart.

Toe verdryf ons Bitterheid

uit vrees vir sy andersheid. 

 

O Ickabogs, word wys Geborene,

word wys Geborene, my Ickabogs.

O Ickabogs, word wys Geborene,

word wys Geborene, my Ickervolk.

 

Ver, ver weg en sonder koestering

kom sy tyd vir die Geborening:

Bitterheid sterf boos en wrewelrig 

en Haat sien vurig die lewenslig.

Hy was haarloos en genadeloos,

hy wou wraak neem op almal, altoos.

Hy het gesmag na die reuk van bloed,

hy het gesweer hy sal ons laat boet.

 

O Ickabogs, word sagmoedig Geborene,

word sagmoedig Geborene, my Ickabogs.

O Ickabogs, word sagmoedig Geborene,

word sagmoedig Geborene, my Ickervolk.

 

Toe broei Haat hordes mensekinders uit.

Ja, uit ons, uit ons het hul voortgespruit.

Uit Bitterheid en Haat het hul ontstaan,

met een bose doel: om ons te verslaan.

Ickabogs is gejag en uitgedelg,

ons bloed is vergiet en ons is verswelg.

Ons voorsate is wreedaardig uitgewis,

en steeds sê mense dat ons die boses is.

 

O Ickabogs, word dapper Geborene,

word dapper Geborene, my Ickabogs.

O Ickabogs, word dapper Geborene,

word dapper Geborene, my Ickervolk.

 

Ons is verdryf uit ons huise van gras

na stink hole van modder en moeras.

En in die eindelose reën en mis

het die mens ons wreedaardig uitgewis.

Nou bly net een laaste van ons ras oor,

wat moet keer dat ons hierdie stryd verloor

met Geborenes wat ons volk moet wreek, 

en die mens om genade moet laat smeek.

 

O Ickabogs, maak dood die wrede mens,

maak dood die wrede mens, my Ickabogs.

O Ickabogs, maak dood die wrede mens,

maak dood die wrede mens, my Ickervolk.

 

Nadat die Ickabog klaar gesing het, sit Daisy en die Ickabog vir ’n ruk in stilte. Die sterre begin nou uitkom. Daisy kyk op na die maan en sê:
   “Hoeveel mense het jy al geëet, Ickabog?”
   Die Ickabog sug.
   “Sover nog nie een nie. Ickabogs hou van sampioene.”
   “Beplan jy om ons te eet wanneer dit tyd vir jou Geborening word?” vra Daisy. “Sodat wanneer jou babas gebore word hulle moet glo dat Ickabogs mense eet? Jy wil hulle in mensmoordenaars verander, nè? Sodat hulle julle land kan terugvat?"
   Die Ickabog kyk af na haar. Dit lyk nie asof hy wil antwoord nie, maar uiteindelik knik hy met sy yslike, harige kop. Agter Daisy en die Ickabog kyk Bert, Marta en Rod angstig vir mekaar in die lig van die vuur wat doodgaan.
   “Ek weet hoe dit voel om die mense vir wie jy die liefste is te verloor,” sê Daisy sag. “My ma is dood, en my pa het verdwyn. Nadat my pa weg is, het ek myself vir lank gedwing om te glo dat hy nog lewe, want ek moes, of ek dink ek sou ook doodgegaan het.” Daisy staan op sodat sy in die Ickabog se hartseer oë kan kyk.
   “Ek dink mense het amper net soveel soos Ickabogs nodig om te hoop. Maar,” sê sy en sit haar hand op haar hart, “my ma en pa lewe nog altyd hier binne-in my, en hulle sal ook altyd. So wanneer jy my eet, Ickabog, moet jy my hart laaste eet. Ek wil my ouers graag so lank as wat ek kan nog aan die lewe hou.”
   Sy loop terug by die grot in, en die vier mense gaan sit weer op hulle hoop wol langs die vuur.
   ’n Rukkie later, toe Daisy amper al aan die slaap is, verbeel sy haar sy hoor die Ickabog snuif.


 

Voorgestelde illustrasies (suggested illustrations)

Daisy en die Ickabog wat by die mond van die grot sit
Illustrasies (of uitbeeldings) van die Ickabog se lied
Bitterheid
Haat

Hoofstukke

footer

Back to top