Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk sestig

Die rebellie

Somtyds – ek weet nie hoe nie – besef mense wat myle ver uitmekaar woon dat dit tyd geword het om op te tree. Miskien kan idees soos stuifmeel in die wind versprei. In elk geval, onder in die paleis se kerker is die gevangenes wat messe en beitels, swaar kastrolle en koekrollers onder hulle matrasse en agter stene in hulle selmure weggesteek het, uiteindelik gereed. Die dag toe die Ickabog se geselskap Suiwelstad nader, is kaptein Goedaard en meneer Duiwendyk, wie se selle oorkant mekaar is, teen dagbreek al wakker. Hulle sit bleek en gespanne op die rande van hulle beddens, want hulle het gesweer dat hulle vandag gaan ontsnap, of sterf.
   ’n Hele paar verdiepings bokant die gevangenes is lord Spoegmann ook reeds vroeg wakker. Totaal onbewus van die feit dat die gevangenes onder sy voete beplan om te ontsnap en dat ’n regte, lewende Ickabog op hierdie einste oomblik op pad is na Chouxville, omring deur ’n steeds groeiende skare Kornukopiërs, was en skeer lord Spoegmann, trek sy ampsgewaad aan en mik uit na die vleuel van die stalle wat die afgelope week al gesluit is en bewaak word.
   “Staan opsy,” sê lord Spoegmann vir die soldate wat wagstaan, en maak die deure se grendels los.
   ’n Span uitgeputte naaldwerksters en kleremakers hou lord Spoegmann angstig dop terwyl hy stadig om hulle skepping stap. Van naby kan jy die naaldwerkstekies sien, en dat die oë van glas is, dat die stekels eintlik spykers is wat van agter deur die leer gedruk is, en dat die kloue en tande niks anders as geverfde hout is nie. As jy met jou vinger aan die ding druk, lek daar saagsels by die nate uit. Maar in die dowwe beligting van die stalle is die resultaat heel oortuigend, en die naaldwerksters en kleremakers is dankbaar toe hulle lord Spoegmann sien glimlag.
   “Dit sal werk, ten minste by kerslig,” sê hy. “Ek sal net moet seker maak dat die koning ’n hele ent weg staan terwyl hy daarna kyk. Ons kan sê die stekels en tande is steeds giftig.”
   Die werkers kyk verlig onderlangs na mekaar. Hulle het ’n hele week lank dag en nag gewerk. Nou kan hulle uiteindelik terug huis toe na hulle gesinne gaan.
   “Soldate,” sê lord Spoegmann en draai om na die wagte wat in die binnehof wag, “neem hierdie mense weg. As julle skree,” voeg hy lui by toe die jongste naaldwerkster haar mond oopmaak om dit te doen, “sal julle geskiet word.”
   Die soldate lei die span wat die opgestopte Ickabog gemaak het daar weg en lord Spoegmann loop fluitend op na die koning se kamers, waar hy hom aantref in sy pajamas van sy en met ’n haarnet oor sy welige snor, en ook vir lord Flapmann, wat ’n servet onder een van sy baie kenne indruk.
   “Goeiemôre, U Majesteit!” sê lord Spoegmann met ’n buiging. “Ek vertrou u het goed geslaap? Ek het vandag vir U Majesteit ’n verrassing. Ons het daarin geslaag om een van die Ickabogs op te stop. Ek weet U Majesteit is gretig om die eindproduk te sien.”
   “Wonderlik, Spoegmann!” sê die koning. “Daarna kan ons dit oral in die koninkryk rondstuur om vir die mense te wys waarmee ons te kampe het.”
   “Ek sou dit nie aanbeveel nie, U Hoogheid,” sê lord Spoegmann, wat bang is dat iemand wat in daglig na die opgestopte Ickabog kyk dadelik sal sien dat dit ’n namaaksel is. “Ons wil nie hê die gepeupel moet paniekerig raak nie. U Majesteit is so dapper dat u mans genoeg is om die gruwel in die gesig te staar –”
   Maar voordat lord Spoegmann kan klaarmaak, vlieg die deure na die koning se private kamers oop en ’n natgeswete Paul Boelie, wat langs die pad vertraag is deur nie een nie maar twee groepe struikrowers, storm grootoog in. Nadat hy in ’n woud verdwaal en van sy perd afgeval het toe hy oor ’n sloot probeer spring het en die dier daarna nie weer kon vang nie, het Paul Boelie nie baie lank voor die Ickabog by die paleis aangekom nie. Hy het dit reggekry om skelm by die opwaskamer se venster in te glip, maar toe het twee soldate hom gesien en hom deur die paleis agtervolg, vasberade om hom met hulle swaarde te deurboor.
   Koning Fred gee ’n gil en kruip agter lord Flapmann weg. Lord Spoegmann pluk sy dolk uit en spring op sy voete.
   “Daar’s – ’n – Ickabog,” hyg Paul Boelie paniekerig en val op sy knieë neer. “’n Regte – lewende – Ickabog. Hy kom hiernatoe – met duisende mense – Die Ickabog – bestaan regtig.”
   Lord Spoegmann glo natuurlik nie ’n woord hiervan nie.
   “Vat hom af na die kerker!” blaf hy vir die wagte wat die spartelende Paul Boelie by die vertrek uitsleep en die deure weer toemaak. “Ek vra om verskoning, U Hoogheid,” sê lord Spoegmann, met die dolk steeds in sy hand. “Hy sal gegesel word, en so ook die wagte wat toegelaat het dat hy by die paleis –”
   Maar voordat lord Spoegmann sy sin kan klaarmaak, bars nóg twee mans by die koning se private kamers in. Dis lord Spoegmann se spioene in Chouxville, wat gehoor het dat die Ickabog van die noorde af op pad is, maar omdat die koning hulle nog nooit gesien het nie, gil hy weer verskrik.
   “My – heer,” hyg die eerste spioen en buig vir lord Spoegmann, “daar’s – ’n – Ickabog – op pad – hierheen!”
   “En daar’s – ’n skare mense – by hom,” hyg die tweede een. “Die Ickabog bestaan regtig!”
   “Maar natuurlik bestaan die Ickabog regtig!” sê lord Spoegmann, wat beswaarlik iets anders voor die koning kan sê. “Stel die Ickabog-verdedigingsbrigade in kennis – ek sal binnekort in die binnehof by hulle aansluit, en ons sal die ongedierte doodmaak!”
   Lord Spoegmann boender die spioene by die deure uit gang toe terwyl hy hulle skor gefluister van “My heer, die ding bestaan regtig, en die mense hou van hom!” en “Ek het hom gesien, my heer, met my eie oë!” probeer verbloem.
   “Ons gaan hierdie monster doodmaak net soos ons al die ander doodgemaak het!” bulder lord Spoegmann kliphard sodat die koning niks anders moet hoor nie, en voeg toe gedemp by: “Gaan weg!”
   Lord Spoegmann maak die deure ferm agter die spioene toe en keer onthuts terug na die tafel, maar probeer om dit nie te wys nie. Lord Flapmann lê steeds weg aan ’n dik sny ham uit Baronsburg. Hy het so ’n vae vermoede dat lord Spoegmann iets te doen het met al die mense wat so instorm en kerm oor die Ickabog wat werklik bestaan, en daarom is hy glad nie bang nie. Koning Fred, aan die ander kant, bewe van kop tot tone.
   “Verbeel jou, die monster verskyn nou selfs helder oordag, Spoegmann!” sê hy huilerig. “Ek het gedink hy kom net snags te voorskyn!”
   “Ja, die dierasie word gans te vrypostig, of hoe, U Majesteit?” sê lord Spoegmann. Hy het nie die vaagste benul wat hierdie sogenaamde regte Ickabog kan wees nie. Al wat hy kan dink, is dat die gepeupel ’n soort vals monster geprakseer het, moontlik om kos te steel, of geld uit hulle bure te kry – maar dit moet natuurlik stopgesit word. Daar is slegs een ware Ickabog, en dis die een wat lord Spoegmann versin het. “Kom, Flapmann – ons moet keer dat die ongedierte by Chouxville inkom!”
   “Jy’s so dapper, Spoegmann,” sê koning Fred met ’n bewende stem.
   “Ag wat, U Majesteit,” sê lord Spoegmann. “Ek sal my lewe vir Kornukopië opoffer. U weet dit mos teen hierdie tyd al!”
   Lord Spoegmann se hand is al op die deur se handvatsel toe hulle weer hardlopende voetstappe hoor aankom, maar hierdie keer gaan dit gepaard met ’n geskree en gekletter, wat die vrede versteur. Lord Spoegmann maak die deur geskok oop om te sien wat aangaan.
   ’n Groep verflenterde gevangenes pyl op hom af. Vooraan is meneer Duiwendyk met sy gryskop en ’n byl in die hand, en die frisgeboude kaptein Goedaard, wat ’n geweer het wat hy duidelik uit ’n paleiswag se hande gegryp het. Reg agter hulle kom mevrou Blinkenaar, met hare wat agter haar opwaai soos sy ’n enorme kastrol rondswaai, en kort op haar hakke volg Millie, lady Eslander se bediende, met ’n koekroller in die hand.
   Lord Spoegmann klap die deur net betyds toe en grendel dit. Binne sekondes bars meneer Duiwendyk se byl deur die hout.
   “Kom, Flapmann!” skree lord Spoegmann, en die twee lords hardloop deur die vertrek na ’n ander deur wat lei na ’n trap wat tot onder in die binnehof lei.
   Koning Fred, wat geen idee het wat aangaan nie en nooit eens besef het dat vyftig mense in sy paleis se kerker aangehou word nie, reageer stadig. Toe hy die woedende gevangenes se gesigte sien in die gat wat meneer Duiwendyk in die deur gekap het, spring hy op om agter die twee lords aan te hardloop, maar hulle stel net daarin belang om hul eie basse te red en het die deur van die ander kant af gegrendel. Koning Fred is vasgekeer en staan in sy pajamas met sy rug teen die muur en kyk hoe die gevangenes wat ontsnap het ’n pad tot in sy kamers oopkap.

Voorgestelde illustrasies (suggested illustrations)

Die opgestopte Ickabog wat lord Spoegmann laat maak het
Meneer Duiwendyk met ʼn byl in sy hand
Mevrou Blinkenaar wat ʼn enorme kastrol rondswaai

Hoofstukke

footer

Back to top