Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk elf

Die reis noord

Koning Fred het al hoe meer begeesterd geraak terwyl hy by Chouxville uitry en die platteland voor hom sien uitstrek. Die nuus van die koning se skielike ekspedisie om die Ickabog op te spoor het reeds versprei tot by die boere wat op die golwende groen landerye werk, en hulle het saam met hulle gesinne nader gehardloop om die koning, die twee lords en die koninklike wag toe te juig terwyl hulle verbyry.
   Aangesien hulle nog nie geëet het nie, het die koning besluit om in Suiwelstad vir ’n laat middagete te stop.
   “Ons sal maar met min moet klaarkom, kêrels, aangesien ons soldate is!” skree hy toe vir sy manne terwyl hulle inry by die stad wat vir sy kaas beroemd is, “en dan sal ons met dagbreek verder ry!”
   Maar die koning hoef natuurlik nooit met min klaar te kom nie. Almal in Suiwelstad se heel beste herberg word op straat uitgegooi om plek vir hom te maak, en ná ’n stewige maaltyd van kaas-en-sjokolade-fondue slaap koning Fred daardie nag op ’n koperbed met ’n gansveermatras. Lord Spoegmann en lord Flapmann, aan die ander kant, moet die nag noodgedwonge in ’n kamertjie bokant die stalle deurbring. Albei is lyfseer ná ’n lang dag te perd. Jy wonder seker hoekom, want hulle was gewoond daaraan om vyf keer ’n week te gaan jag, maar in werklikheid het hulle altyd ná ’n halfuur weggeglip en agter ’n boom gaan sit om toebroodjies te eet en wyn te drink totdat dit tyd was om terug paleis toe te ry. Die twee was glad nie gewoond daaraan om ure lank in die saal te sit nie, en daar was al klaar blase op lord Spoegmann se benerige boude.
   Vroeg die volgende oggend kom lig majoor Blinkenaar die koning in dat die inwoners van Baronsburg ontsteld is dat die koning verkies het om in Suiwelstad te slaap, eerder as in hulle manjifieke stad. Koning Fred wou seker maak hy word nie ongewild nie en het sy manne aangesê om in ’n enorme sirkel deur die omringende landerye te ry. Al die boere het hulle toegejuig en teen skemer was hulle in Baronsburg. Daar begroet die watertandreuk van wors wat braai die koninklike geselskap en ’n ingenome skare met fakkels begelei koning Fred na die beste kamer in die stad. Daar bedien hulle vir hom gebraaide os en heuningham, en hy slaap die nag op ’n donsveermatras op ’n bed wat uit eikehout gekerf is, terwyl lord Spoegmann en lord Flapmann twee diensmeisies se beknopte solderkamer moet deel. Teen daardie tyd was lord Flapmann se boude reeds bitter seer, en hy was woedend dat hy gedwing is om veertig myl in ’n sirkel te ry, en dit net om die worsmakers gelukkig te hou. Lord Flapmann, wat hopeloos te veel kaas in Suiwelstad geëet het en hom in Baronsburg aan drie biefstukke vergryp het, het die hele nag wakker gelê en van slegte spysvertering gekreun.
   Die volgende dag val die koning en sy manne weer in die pad, en hierdie keer mik hulle noord en ry spoedig deur wingerde waar gretige druiweplukkers vlae van Kornukopië rondswaai en juig toe die verheugde koning vriendelik vir hulle wuif. Lord Spoegmann huil al byna van die pyn, ten spyte van die kussing wat hy aan sy boude vasgegespe het, en lord Flapmann se kreune en die winde wat hy opbreek, is selfs bo-oor die gekletter van hoewe en gerinkel van tome hoorbaar.
   Toe hulle die aand in Jeroboam aankom, word hulle verwelkom met trompette en die hele stad wat die volkslied sing. Koning Fred word later die aand onthaal op vonkelwyn en truffels voordat hy op ’n hemelbed met ’n swaanveermatras en beddegoed van satyn gaan slaap. Maar lord Spoegmann en lord Flapmann moet weer noodgedwonge ’n kamer deel, dié keer bokant die herberg se kombuis, en boonop met twee soldate. Om alles te kroon hou dronk inwoners van Jeroboam slingerend partytjie op straat om hulle koning se besoek aan die stad te vier. Lord Spoegmann sit amper heelnag in ’n emmer vol ys, en lord Flapmann, wat gans te veel rooiwyn gedrink het, moet kort-kort in ’n ander emmer in die hoek gaan opgooi.
   Teen dagbreek die volgende oggend ry die koning en sy geselskap verder na die Moerasland nadat die inwoners van Jeroboam hulle voorspoed toegewens het met kurkproppe wat so oorverdowend geklap het dat lord Spoegmann se perd op sy agterbene gaan staan en hom in die pad afgesmyt het. Nadat hulle lord Spoegmann afgestof en die kussing weer aan sy boude vasgegespe het, en koning Fred uiteindelik opgehou lag het, ry die manne verder.
   Jeroboam het spoedig agter hulle gelê en al wat jy toe kon hoor, was voëls wat sing. Dit was die eerste keer op hulle reis dat daar niks teen die kante van die pad gegroei het nie. Die welige groen landskap het geleidelik verdwyn en later was daar net yl, droë gras, verwronge bome en groot klippe.
   “Dis ’n uitsonderlike plek, of hoe?” roep die koning later vrolik vir lord Spoegmann en lord Flapmann agter hom. “Ek is regtig bly ek kan die Moerasland uiteindelik sien, en julle?”
   Die twee lords knik gehoorsaam, maar die oomblik toe koning Fred sy gesig weer vorentoe draai, maak hulle onbeskofte gebare en mompel selfs nog onbeskofter goed agter sy rug.
   Ná ’n hele ruk kom die koninklike geselskap ’n paar mense teë, en die Moeraslanders kan hulle oë nie glo nie. Hulle val soos die skaapwagter in die troonsaal op hulle knieë neer en vergeet skoon om te juig of hande te klap. Die mense staar die geselskap oopmond aan asof hulle nog nooit iets soos die koning en sy koninklike wag gesien het nie – wat inderdaad die geval was, want hoewel koning Fred al die groot stede in Kornukopië ná sy kroning besoek het, het niemand gedink dis die moeite werd om die verafgeleë Moerasland te besoek nie.
   “Hulle is eenvoudige mense, maar hulle reaksie is nogal aandoenlik, nie waar nie?” roep die koning opgeruimd vir sy manne terwyl ’n paar verflenterde kinders hulle aan die pragtige perde vergaap. Hulle het nog nooit in hulle lewens sulke blink en goed gevoerde diere gesien nie.
   “En waar is ons veronderstel om vanaand te slaap?” brom lord Flapmann vir lord Spoegmann terwyl hy na die bouvallige kliphuisies kyk. “Hier’s nêrens tavernes nie!”
   “Wel, daar’s ten minste een troos,” fluister lord Spoegmann terug. “Hy sal ook soos die res van ons met min moet klaarkom, dan sal ons sien hoe lank hy uithou.”
   Hulle ry die hele middag en toe die son uiteindelik begin sak, sien hulle die moeras waar die Ickabog veronderstel is om te bly: ’n breë donker strook grond met vreemde rotsformasies oral.
   “U Majesteit!” roep majoor Blinkenaar. “Ek stel voor ons slaan nou kamp op en verken die moeras môre. Soos U Majesteit weet, kan die moeras verraderlik wees! Die mis beweeg vinnig in. Dit sal beter wees as ons dit in daglig aandurf!”
   “Nonsens!” sê koning Fred, wat soos ’n opgewonde skoolseun op en af in sy saal wip. “Ons kan nie noudat dit in sig is halt roep nie, Blinkenaar!”
   Die koning se bevel is wet, so die geselskap ry verder en toe die maan later opkom en agter inkswart wolke in- en uitgly, kom hulle by die rand van die moeras aan. Voor hulle lê die onheilspellendste plek wat enigeen van hulle nog ooit gesien het: wild en leeg en verlate. ’n Ysige bries laat die riete ritsel, maar afgesien daarvan is die moeras doodstil en roerloos.
   “Soos U Hoogheid kan sien,” sê lord Spoegmann ná ’n ruk, “is die grond baie nat en modderig. Skape en mense wat dit waag om verder te gaan, sal ingesuig word. In die donker kan dwase mense daardie rotsblokke en groot klippe vir monsters aansien. En hulle kan maklik dink die riete wat so ritsel, is die gesis van ’n ongedierte.”
   “Ja, dis waar, baie waar,” sê koning Fred, maar sy oë dwaal steeds oor die donker moeras asof hy verwag dat die Ickabog agter ’n rots gaan uitspring.
   “Sal ons hier kamp opslaan, U Hoogheid?” vra lord Flapmann, wat ’n paar koue pasteie van Baronsburg weggesteek het en gulsig uitsien na aandete.
   “Ons kan nie verwag om ’n denkbeeldige monster in die donker op te spoor nie,” wys lord Spoegmann uit.
   “Dis waar, baie waar,” beaam koning Fred teleurgesteld. “Kom ons – goeie genugtig, kyk hoe mistig het dit geword!”
   En sowaar, terwyl hulle oor die moeras gestaan en uitkyk het, het digte wit mis so vinnig en so stil oor hulle ingerol dat niemand dit agtergekom het nie.

 

Voorgestelde illustrasies 

Sjokolade-fondue
’n Kaasmaker se winkel
Gebraaide os en heuningham
’n Slagter se winkel
Druiwe wat aan wingerde hang
‘n Bottel van Jeroboam se vonkelwyn
Die moeras

Hoofstukke

footer

Back to top