Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk vier

Die stil huis

Mevrou Duiwendyk is begrawe in die begraafplaas in die Stad-in-die-Stad, waar geslagte van koninklike bediendes gelê het. Daisy en haar pa het hand aan hand gestaan en stip na die graf gestaar. Bert het aanhoudend na Daisy omgekyk terwyl sy betraande ma en somber pa hom stadig weggelei het. Bert wou iets vir sy beste vriend sê, maar wat gebeur het, was te geweldig en afgryslik vir woorde. Bert kon dit skaars verdra om te probeer dink hoe hy sou gevoel het as sy ma vir ewig in die koue, harde aarde verdwyn het.
   Toe al hulle vriende weg was, het meneer Duiwendyk die pers krans wat die koning gestuur het by mevrou Duiwendyk se kopsteen weggevat en ’n klein bossie sneeuklokkies wat Daisy die oggend gepluk het daar neergesit. Daarna het die pa en sy dogter stadig teruggeloop na ’n huis wat hulle geweet het nooit weer dieselfde sou wees nie. 
   ’n Week ná die begrafnis het die koning saam met die koninklike wag by die paleis se grond uitgery om te gaan jag. Soos gewoonlik het almal langs die pad in hulle tuine uitgekom om te buig en hom toe te juig. Terwyl die koning gebuig en teruggewaai het, het hy agtergekom dat een kothuis se voortuin leeg gebly het. Daar het swart lanferlappe voor die vensters en teen die voordeur gehang. 
   “Wie woon daar?” vra hy toe vir majoor Blinkenaar.
   “Dis – dis die Duiwendyk-gesin se huis, U Majesteit,” sê majoor Blinkenaar.
   “Duiwendyk, Duiwendyk,” sê die koning en frons. “Ek het daardie naam al gehoor, het ek nie?”
   “Eh … ja, U Hoogheid,” sê majoor Blinkenaar. “Meneer Duiwendyk is U Majesteit se skrynwerker en mevrou Duiwendyk is – was – U Majesteit se hoofnaaldwerkster.”
   “O ja,” sê koning Fred vinnig, “ek – ek onthou.”
   En toe skop hy sy melkwit perd in die lies en jaag vinnig verby die Duiwendyk-gesin se vensters met die swart lappe en probeer om aan niks anders te dink as die dag se jag wat voorlê nie.
   Maar ná daardie dag kon die koning elke keer wanneer hy verby die leë tuin ry nie help om te staar na die leë tuin en die swart lap wat teen Daisy en haar pa se voordeur hang nie, en elke keer wanneer hy die kothuis sien, het die beeld van die dooie naaldwerkster wat daardie ametisblou knoop vasklou weer voor hom opgedoem. Uiteindelik kon hy dit nie meer verdra nie en het hy die hoofraadgewer ontbied.
   “Haringgraat,” sê hy toe sonder om die ou man in die oë te kyk, “daar’s ’n huis op die hoek, op pad na die park. Nogal ’n skaflike kothuis. Groterige tuin.”
   “Die Duiwendyk-gesin se huis, U Majesteit?”
   “O, is dit wie daar woon?” sê koning Fred kastig ongeërg. “Dis nogal ’n groot plek vir ’n klein gesin. Ek dink daar is net twee van hulle, is dit korrek?”
   “Absoluut korrek, U Majesteit. Net twee, vandat die ma –”
   “Dit voel nie regtig regverdig nie, Haringgraat,” praat koning Fred hom hard dood, “om daardie gerieflike, ruim kothuis vir net twee mense te gee terwyl daar gesinne van vyf of ses is wat volgens my maar te dankbaar vir ’n bietjie meer ruimte sal wees.” 
   “Wil U Majesteit hê ek moet Duiwendyk en sy dogter daar laat verwyder?”
   “Ja, ek dink so,” sê koning Fred en maak of hy baie in die punt van sy satynskoen belangstel. 
   “Dis reg so, U Majesteit,” sê die hoofraadgewer toe en buig diep. “Ek sal hulle vra om huise te ruil met Rommel se gesin, wat dankbaar vir ekstra ruimte sal wees, en ek sal die Rommels se huis vir Duiwendyk-hulle gee.”
   “En waar presies is dit?” vra die koning gespanne, want die laaste ding wat hy wou hê, was om daardie swart lappe nader aan die paleis se poorte te sien.
   “Reg op die rand van die Stad-in-die-Stad,” sê die hoofraadgewer. “Baie naby aan die begraafplaas, om die waarheid te –”
   “Dit klink geskik,” val die koning hom in die rede en spring op sy voete. “Ek wil nie verdere inligting oor die saak hê nie. Laat dit net gebeur, Haringgraat, ek maak staat op jou.”
   En so het dit gebeur dat Daisy en haar pa aangesê is om huise te ruil met kaptein Rommel, wat net soos Bert se pa ’n lid van die koninklike wag was. Toe koning Fred die volgende keer verby die huis ry, was die swart lappe weg en die Rommel-kinders – vier frisgeboude seuns, die klomp wat Bert Blinkenaar die eerste keer “Botterbal” genoem het – het by die voortuin ingehardloop en op en af gespring en gejuig en Kornukopië se vlae gewaai. Koning Fred het stralend vir die seuns teruggewaai. Weke het verbygegaan, en koning Fred het heeltemal van die Duiwendyk-gesin vergeet en was weer gelukkig.

Hoofstukke

footer

Back to top