Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk drie-en-twintig

Die verhoor

Ek is seker jy het nie vergeet van die drie dapper soldate wat in die kerker opgesluit is omdat hulle nie geglo het dat die Ickabog of manskap Knoppie Knopie regtig bestaan het nie.
   Lord Spoegmann het natuurlik ook nie van hulle vergeet nie. Vandat hy die manne die aand in hegtenis laat neem het, het hy al baie gewonder hoe hy van hulle ontslae kon raak sonder om daarvoor aanspreeklik gehou te word. Sy jongste plan was om gif in hulle sop te gooi en dan te beweer dat hulle ’n natuurlike dood gesterf het. Hy was nog besig om te besluit watter gif die beste sou werk, toe daag die soldate se families by die paleis se poort op en vra om met die koning te praat. Om alles erger te maak was lady Eslander daar saam met hulle, wat lord Spoegmann laat vermoed het dat sy die besoek gereël het.
   In plaas dat hy hulle na die koning toe neem, lei die hoofraadgewer die groep daardie dag na sy spoggerige nuwe ampskantoor, waar hy hulle hoflik nooi om te sit.
   “Ons wil weet wanneer ons manne verhoor gaan word,” sê manskap Ogden se broer, ’n varkboer uit Baronsburg se distrik.
   “U hou hulle nou al maande lank gevange,” sê manskap Wagstaf se ma, wat as ’n kroegmeisie in ’n taverne in Jeroboam werk.
   “En ons wil almal graag weet waarvan hulle aangekla gaan word,” voeg lady Eslander by.
   “Hulle word van verraad aangekla,” verduidelik lord Spoegmann en waai sy geparfumeerde sakdoek voor sy neus, met sy oë op die varkboer. Die man is natuurlik silwerskoon, maar lord Spoegmann wil hom minderwaardig laat voel, en ek moet ongelukkig sê dat hy dit regkry.
   “Verraad?” herhaal mevrou Wagstaf verstom. “Daar is nêrens in hierdie land meer getroue onderdane van die koning as daardie drie nie!”
   Lord Spoegmann se slinkse oë glip van een besorgde familielid na die ander: Almal is duidelik baie lief vir hulle broers en seuns, en toe hy lady Eslander se angstige gesig sien, flits ’n briljante idee soos weerlig deur sy kop. Hoekom het hy nie al vroeër daaraan gedink nie? Hy hoef die soldate nie te vergiftig nie! Hy moet net hulle goeie reputasie vernietig.
   “Die drie manne sal môre verhoor word,” sê hy en staan op. “Die verhoor sal op Chouxville se grootste plein plaasvind, want ek wil hê dat soveel mense as moontlik moet hoor wat hulle te sê het. Goeiedag, dames en here.”
   Lord Spoegmann buig smalend, laat die stomgeslane familielede alleen en stap af na die kerker toe.
   Die drie soldate het baie maerder geword vandat hy hulle laas gesien het, en omdat hulle nie kon was of skeer nie, lyk hulle erg verwaarloos.
   “Goeiemôre, menere,” groet lord Spoegmann vrolik terwyl die dronk bewaarder in ’n hoek lê en snork. “Goeie nuus! Julle verhoor sal môre plaasvind.”
   “En wat presies is die klag teen ons?” vra kaptein Goedaard agterdogtig.
   “Dit weet julle tog reeds, Goedaard,” sê lord Spoegmann. “Julle het die monster by die moeras gesien en weggehardloop, in plaas daarvan om julle koning te verdedig. En toe het julle beweer dat die monster nie werklik bestaan nie, om julle lafhartigheid te verbloem. Dit is verraad.”
   “Nee, dis ’n infame leuen,” sê kaptein Goedaard sag. “Maak met my wat u wil, maar ek gaan die waarheid praat.”
   Die ander twee soldate, Ogden en Wagstaf, stem saam met die kaptein en knik.
   “Julle gee dalk nie om wat ek met julle doen nie,” sê lord Spoegmann, “maar wat van julle families? Sal dit nie verskriklik wees nie, Wagstaf, as jou ma, die kelnerin, op pad af na die kelder gly en haar skedel breek nie? Of as jou broer, Ogden, homself per ongeluk op sy plaas met sy eie sens deurboor en sy eie varke hom opvreet nie? Of,” fluister lord Spoegmann en kom tot teenaan die traliehek en kyk kaptein Goedaard stip in die oë, “of as lady Eslander van haar perd afval en haar slanke nek breek nie?”
   Jy sien, lord Spoegmann glo vas dat lady Eslander en kaptein Goedaard minnaars is. Hy kan nie dink dat ’n vrou sal probeer om ’n man te verdedig met wie sy nog nie eens gepraat het nie.
   Kaptein Goedaard wonder wat op aarde lord Spoegmann besiel om hom met lady Eslander se dood te probeer dreig. Vir hom is sy die mooiste vrou in die koninkryk, maar hy het dit nog altyd vir homself gehou, want die seun van kaasmakers kan nie met ’n dame wat ’n lid van die koninklike hof is, trou nie.
   “Wat het lady Eslander met my te doen?” vra hy.
   “Moenie jou onnosel hou nie,” blaf die hoofraadgewer. “Ek het gesien hoe sy bloos wanneer jou naam genoem word. Dink jy ek is ’n idioot? Lady Eslander het alles in haar mag gedoen om jou te beskerm, en ek moet toegee dis danksy haar dat jy nog lewe. Maar as jy môre probeer eerbaar wees en my weerspreek, gaan lady Eslander daarvoor betaal. Sy het jou lewe gered, Goedaard; gaan jy hare opoffer?”
   Kaptein Goedaard is sprakeloos van skok. Die gedagte dat lady Eslander op hom verlief is, is so wonderlik dat dit lord Spoegmann se dreigemente byna in die skadu stel. Die kaptein besef nou dat hy haar lewe net kan red as hy môre by die verhoor in die openbaar erken dat hy verraad gepleeg het, al sal dit sekerlik die einde van haar liefde vir hom wees.
   Die drie manne se bleek gesigte wys vir lord Spoegmann dat sy dreigemente die gewenste uitwerking gehad het.
   “Toemaar, menere,” sê hy. “Ek verseker julle dat julle geliefdes niks sal oorkom as julle môre die waarheid praat nie …”
   So gebeur dit toe dat daar oral in die hoofstad kennisgewings van die verhoor opgeplak word, en die volgende dag drom ’n reuseskare op Chouxville se grootste plein saam. Terwyl hulle vriende en familie toekyk, verskyn die drie dapper soldate een na die ander op ’n houtplatform en erken dat hulle die Ickabog in die moeras teëgekom en soos lafaards weggehardloop het in plaas daarvan om die koning te verdedig.
   Die skare jou die soldate so hard uit dat dit moeilik is om te hoor wat die regter (lord Spoegmann) sê. Maar terwyl lord Spoegmann die vonnis uitspreek – lewenslange aanhouding in die paleis se kerker – staar kaptein Goedaard diep in lady Eslander se oë, al sit en volg sy die verhoor saam met die ander dames van die hof van ’n stellasie wat spesiaal opgerig is. Partykeer kan twee mense meer vir mekaar sê met ’n blik as wat ander in ’n leeftyd van woorde kan uitspreek. Ek gaan nie vertel wat lady Eslander en kaptein Goedaard alles met hulle oë sê nie, maar sy weet nou dat die kaptein oor haar voel soos sy oor hom, en hy kan sien dat lady Eslander weet dat hy onskuldig is, selfs al moet hy die res van sy lewe in die gevangenis deurbring.
   Die drie gevangenes word in kettings van die platform af weggelei terwyl die skare hulle met koolkoppe gooi en met ’n groot lawaai uitmekaargaan. Baie van hulle voel lord Spoegmann moes die verraaiers ter dood veroordeel het, en die hoofraadgewer grinnik by homself op pad terug na die paleis toe, want dis altyd raadsaam om te sorg dat jy sover moontlik as ’n redelike man beskou word.
   Meneer Duiwendyk het die verhoor van heel agter uit die skare dopgehou. Hy het die soldate nie uitgejou nie, en ook nie vir Daisy saamgebring nie, want sy wou iets in sy werkswinkel kerf. Terwyl meneer Duiwendyk diep ingedagte huis toe loop, sien hy hoe ’n bende jongmanne Wagstaf se huilende ma agtervolg en haar met groente bestook.
   “Los hierdie vrou in vrede, of julle gaan met my te doen kry!” skree meneer Duiwendyk vir die bende, wat dadelik wegskarrel toe hulle sien hoe groot en gespierd die skrynwerker is.

Voorgestelde illustrasies (suggested illustrations)

Die standbeeld van die manskap Knoppie Knopie
Die Kornukopië-vlag
’n Huis vol vlae en borde
Die groot, starende wit oë op die rugkant van die belastinggaarders se swart uniform
Kaptein Goedaard as gevangene
Lady Eslander wat die verhoor volg
’n Koolkop wat deur die lug vlieg

Hoofstukke

footer

Back to top