Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk een-en-vyftig

In die grot

’n Paar uur later word Daisy wakker, maar aan die begin maak sy nie haar oë oop nie. Sy het toe sy klein was laas so veilig en vertroetel gevoel, destyds toe sy geslaap het onder ’n laslappie-kwilt wat haar ma gemaak het en elke oggend met die geluid van ’n knetterende vuur in die kaggel in haar kamer wakker geword het. Sy hoor die vuur nou knetter, en ruik wildpasteie wat in die oond warm gemaak word, so sy weet dat sy droom van die dae toe sy en albei haar ouers gelukkig saam was.
   Maar die geluid van die vlamme en die reuk van pastei is so werklik dat Daisy begin dink dat sy nie droom nie, maar dalk in die hemel is. Miskien het sy daar aan die rand van die moeras doodgevries? Sonder om haar liggaam te beweeg maak sy haar oë oop en sien flikkerende vlamme en die growwe mure van wat soos ’n baie groot grot lyk, en sy besef waarin sy en haar drie vriende lê: Dis ’n groot nes van wat soos ongespinde skaapwol lyk.
   Langs die vuur is ’n reusagtige rots wat met digte groenbruin moeraskruid bedek is. Daisy staar op na die rots totdat haar oë aan die halfdonker gewoond is. Toe eers besef sy dat die rots, wat so groot soos twee perde is, na haar kyk.
   Selfs al sê die ou stories dat die Ickabog soos ’n draak of ’n slang of ’n drywende lykverslinder lyk, weet Daisy dadelik dat dit hy is wat sy nou sien. Sy knyp haar oë weer paniekerig toe, steek haar hand uit, voel een van die ander wat in die sagte skaapwol lê se rug en stamp daaraan.
   “Wat?” fluister Bert.
   “Het jy dit gesien?” fluister Daisy met haar oë steeds styf toe.
   “Ja,” sê Bert hees. “Moenie soontoe kyk nie.”
   “My oë is toe,” sê Daisy.
   “Ek het julle mos gesê daar is ’n Ickabog,” kom Marta se angsbevange fluisterstem.
   “Ek dink hy bak pasteie,” fluister Rod.
   Al vier lê doodstil met hul oë toe totdat die reuk van wildpastei so heerlik oorweldigend word dat almal voel dit sal dalk die moeite werd wees om op te spring, ’n pastei te gryp en vinnig ’n paar happe te vat voordat die Ickabog hulle kan doodmaak.
   Toe hoor hulle die monster beweeg. Sy lang, growwe hare ritsel en sy swaar pote maak harde, gedempte geluide. Daar is ’n geplof asof die monster iets swaars neergesit het. Toe sê ’n diep, bulderende stem:
   “Eet dit.”
   Al vier maak hulle oë oop.
   Jy dink dalk dat die vier hulle boeglam sal skrik omdat die Ickabog hulle taal kan praat, maar hulle is alreeds so verstom dat die monster werklik bestaan, dat hy weet hoe om vuur te maak en wildpasteie te bak, dat hulle skaars huiwer om daaroor na te dink. Die Ickabog het ’n grof afgewerkte houtbord langs hulle op die vloer neergesit, en hulle besef dat hy dit tussen die gevriesde kosvoorraad op die verlate wa moes gekry het.
   Stadig en versigtig kom die vier vriende in sittende posisies, en staar op na die Ickabog se groot, weemoedige oë wat deur ’n gekoekte boskasie van lang, growwe groenerige hare wat hom van kop tot tone bedek, na hulle kyk. Hy het naastenby die vorm van ’n mens, met ’n werklik enorme maag en yslike, harige pote wat elkeen op ’n enkele skerp klou uitloop.
   “Wat wil jy van ons hê?” vra Bert dapper.
   Met sy diep, bulderende stem antwoord die Ickabog:
   “Ek gaan julle opeet. Maar nog nie.”
   Die Ickabog draai weg, tel twee mandjies wat van stroke boombas gevleg is, op en stap weg na die mond van die grot. Toe, asof iets hom skielik bygeval het, draai die Ickabog terug na hulle en sê: “Brul.”
   Hy brul nie regtig nie. Hy sê net die woord. Die vier tieners staar na die Ickabog, wat sy oë knip en toe omdraai en met ’n mandjie in elke poot by die grot uitloop. Toe word ’n rotsblok so groot soos die grot se mond voor die ingang gerol om die gevangenes binne te hou. Hulle luister hoe die Ickabog se voetstappe buite op die sneeu knars, en dan wegsterf.

Voorgestelde illustrasies (suggested illustrations)

Die regte Ickabog

Hoofstukke

footer

Back to top