Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk een

Koning Fred die Vreeslose

Eendag was daar ’n landjie genaamd Kornukopië, wat al eeue lank deur ligtekop-konings geregeer is. Die koning gedurende die tyd waarvan ek skryf, se naam was Fred die Vreeslose. Hy het die “Vreeslose” self aangelas die oggend toe hy gekroon is. Dit was deels omdat dit goed by “Fred” gepas het, maar ook omdat hy dit reggekry het om ’n perdeby dood te maak – dis nou as jy nie die vyf lakeie en die skoenpoetser wat hom gehelp het, bytel nie. 
    Koning Fred die Vreeslose was geweldig gewild toe hy die kroon bestyg het. Hy het lieflike blonde krulle en wapperende snorpunte gehad en manjifiek gelyk in die stywe kuitbroek, fluweelbaadjie en hemp met ’n plooikraag wat die ryk mans van daardie tyd gedra het. Koning Fred was goedgeaard, hy het vir almal wat hy teëgekom het vriendelik geglimlag en gewaai, en baie aantreklik gelyk op die portrette van hom wat regdeur die koninkryk versprei is sodat dit in stadsale opgehang kon word. Die mense van Kornukopië was regtig in hulle skik met hulle nuwe koning en baie het gedink hy gaan selfs ’n beter heerser wees as sy pa, Richard die Regverdige, wie se tande (hoewel niemand destyds daaroor wou praat nie) taamlik skeef was.
    Koning Fred was nogal verlig toe hy uitvind hoe maklik dit is om oor Kornukopië te regeer. Dit was in werklikheid asof die land homself regeer. Amper almal het oorgenoeg kos gehad, die handelaars het sakke vol geld gemaak, en koning Fred se raadgewers het probleempies wat opduik sommer self opgelos. Al wat koning Fred moes doen, was om breed vir sy onderdane te glimlag wanneer hy vyf keer ’n week in sy koets weggery het om saam met sy twee beste vriende, lord Spoegmann en lord Flapmann, te gaan jag.  
    Lord Spoegmann en lord Flapmann het elkeen sy eie groot landgoed besit, maar dit was vir hulle baie goedkoper en lekkerder om saam met die koning in die paleis te woon, sy kos te eet en sy herte te gaan jag, en ook seker te maak dat die koning nie te veel van een van die mooi dames aan die hof begin hou nie. Hulle wou nie hê koning Fred moes trou nie, want ’n koningin kon dalk al hulle pret bederf. Daar was ’n tyd toe dit gelyk het of koning Fred nogal van lady Eslander hou. Sy was so donker en beeldskoon as wat koning Fred lig en aantreklik was, maar lord Spoegmann het koning Fred oortuig dat sy gans te ernstig en geleerd is, en dat die land se burgers nie so iemand as koningin sou wou hê nie. Koning Fred het nie geweet dat lord Spoegmann ’n wrok teen lady Eslander het nie. Hy het haar eenkeer gevra om met hóm te trou, maar sy het nee gesê.
    Lord Spoegmann was baie maer, slinks en slim. Sy vriend lord Flapmann was rooi in die gesig, en so geweldig groot dat hy ses mans nodig gehad het om hom op sy massiewe vosperd te help klim. Al was hy nie so slim soos lord Spoegmann nie, was lord Flapmann baie slimmer as die koning.
    Albei lords was meesterlike vleiers en het gemaak asof hulle verstom is oor hoe goed koning Fred met alles van perdry tot vlooiespel is. Lord Spoegmann se spesiale talent was om die koning te oortuig om goed te doen wat lord Spoegmann pas, en lord Flapmann se spesiale talent was om die koning te laat glo dat niemand op aarde so lojaal soos sy twee beste vriende aan hom is nie.
    Koning Fred het gedink lord Spoegmann en lord Flapmann is twee goeie en gawe kêrels. Hulle het hom aangemoedig om uitspattige partytjies, oordadige pieknieks en feestelike bankette te hou, want Kornukopië was tot ver buitekant die landsgrense bekend vir sy kos. Elke stad in die koninkryk was bekend vir ’n ander kossoort, en elkeen was die heel beste ter wêreld.
    Kornukopië se hoofstad, Chouxville, was in die suide van die land en omring deur uitgestrekte wingerde, landerye vol glinsterende goue koring, en smaraggroen gras waarop spierwit melkkoeie gewei het. Die room, meel en vrugte wat die boere hier geproduseer het, is verkoop aan Chouxville se briljante bakkers, wat in fyngebak gespesialiseer het.
    Dink ’n bietjie aan die heerlikste groot koek of koekie wat jy nog ooit geproe het. Glo my, hulle sou te skaam gewees het om dit in Chouxville te bedien. As ’n volwasse man se oë nie vol trane van genot geskiet het wanneer hy ’n nuwe soort Chouxville-soetgebak proe nie, is dit as ’n mislukking beskou en nooit weer gemaak nie. In Chouxville was die bakkerye se vensters hoog gestapel met fyngebak soos Dagdroompies, Feetjievlerkies en die beroemdste van almal, Hemelhartjies, wat so verruklik, pynlik heerlik was dat dit slegs by spesiale geleenthede voorgesit is en almal dan van genot laat huil het terwyl hulle dit eet. Koning Porfirio van die buurland Pluritanië het al vir koning Fred ’n brief geskryf waarin hy aangebied het om die koning met enige van sy dogters te laat trou in ruil vir ’n lewenslange voorraad Hemelhartjies, maar lord Spoegmann het koning Fred aangeraai om die Pluritaanse ambassadeur in sy gesig uit te lag.
    “Sy dogters is nie naastenby mooi genoeg om vir Hemelhartjies te verruil nie, U Hoogheid!” het hy gesê.
    Noord van Chouxville was daar nóg landerye en groen weivelde en helder, kabbelende riviere waar pikswart koeie en vrolike pienk varke aangehou is. Hulle het op hul beurt voorraad verskaf aan die tweelingstede Suiwelstad en Baronsburg, wat van mekaar geskei was deur ’n geboë klipbrug oor Kornukopië se hoofrivier, die Floema, waar helderkleurige vragbote goedere van een punt van die koninkryk na die ander vervoer het.
    Suiwelstad was beroemd vir sy kase: yslike wit wiele, digte oranje kanonkoeëls, groot, krummelrige blouaar-vaatjies en babaroomkasies wat gladder as fluweel was.
    Baronsburg was beroemd vir sy gerookte en heuninghamme, hompe spek, gekruide worse, biefstukke wat in jou mond smelt, en wildpasteie. Die kruiegeure wat uit Baronsburg se rooibaksteenstowe opgewarrel het, het gemeng met die welriekende aromas wat by die kaasmakers van Suiwelstad se deure uitgewalm het, en as jy binne ’n omtrek van veertig myl daarvandaan was, was dit onmoontlik om nie te begin kwyl wanneer jy die heerlike lug inasem nie. 
    ’n Paar uur noord van Suiwelstad en Baronsburg was daar akkers wingerd wat druiwe so groot soos eiers gedra het, en elke korrel was ryp en soet en sappig. As jy vir die res van die dag verder gereis het, het jy by die granietstad Jeroboam, bekend vir sy wyne, uitgekom. Die mense het geglo dat jy aangeklam raak as jy net in hierdie stad se strate loop. Die beste wyne is vir derduisende goue munte verkoop, en Jeroboam se wynhandelaars was van die rykste mense in die koninkryk.
    Maar ’n entjie noord van Jeroboam het daar iets vreemds gebeur. Dit was asof die magiese, ryk land Kornukopië se voorraad van die beste gras, die beste vrugte en die beste koring ter wêreld skielik opgeraak het. Heel bo aan die noordelike punt van die koninkryk was die gebied bekend as die Moerasland, en al wat daar gegroei het, was smaaklose, rubberige sampioene en yl, droë gras wat die mense net vir hulle maer, brandsiek skape kon voer.
    Die Moeraslanders wat die skape aangehou het, was nie so goed versorg, goed gevoed en goed geklee soos die inwoners van Jeroboam, Baronsburg, Suiwelstad of Chouxville nie. Hulle was uitgeteer en verslons. Hulle ondervoede skape het nooit goeie pryse gehaal nie, nie in Kornukopië of in die buiteland nie, daarom het min Moeraslanders al ooit Kornukopië se heerlike wyne, kase, vleise of fyngebak geproe. Almal in die Moerasland moes maar tevrede wees met ’n dun, vetterige sopbrousel wat gemaak is van die skape wat te oud was om te verkoop. 
    Die res van Kornukopië het gedink die Moeraslanders is ’n vreemde spul – nors, vuil en beduiweld. Hulle het growwe stemme gehad; die Kornukopiërs het dit nageaap en hulle soos hees ou skape laat klink. Almal het grappe gemaak oor die Moeraslanders se maniere en oor hoe eenvoudig hulle was. Sover dit die res van Kornukopië aangegaan het, was die enigste noemenswaardige ding wat ooit uit die Moerasland gekom het die legende van die Ickabog.

Hoofstukke

footer

Back to top