Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk drie-en-dertig

Koning Fred is bekommerd

Salig onbewus van hierdie nuwe verwikkeling wat hulle plan bedreig, geniet lord Spoegmann en lord Flapmann intussen soos altyd ’n heerlike laataandmaaltyd saam met die koning. Koning Fred is baie bekommerd oor die Ickabog se aanval op Baronsburg, want dit beteken dat die monster dit nou nader as ooit aan die paleis waag.
   “Hoe afgryslik,” sê lord Flapmann en skep vir hom nóg ’n groot stuk bloedwors in.
   “Absoluut skokkend, ja,” sê lord Spoegmann terwyl hy vir hom nog ’n stukkie van die gebraaide fisant afsny.
   “Wat ek nie kan verstaan nie,” sê koning Fred wroegend, “is hoe hy deur die versperring kon glip!”
   Daar is natuurlik vir die koning gesê dat ’n afdeling van die Ickabog-verdedigingsbrigade permanent om die rand van die moeras gestasioneer is om te keer dat die Ickabog na die res van die land ontsnap. Lord Spoegmann het verwag dat koning Fred dit gaan opper en het sy antwoord gereed.
   “Dit spyt my om u in kennis te stel dat twee van ons soldate aan die slaap geraak het, U Majesteit. Die Ickabog het hulle onverhoeds gevang en heelhuids verslind.”
   “Die hemel behoed ons!” snak koning Fred verskrik.
   “En daarna,” gaan lord Spoegmann verder, “het die monster suidwaarts beweeg. Ons vermoed dit was die vleisreuk wat hom na Baronsburg gelok het. Terwyl hy daar was, het hy etlike hoenders opgevreet, en natuurlik ook die slagter en sy vrou.”
   “Grusaam, grusaam,” sê koning Fred met ’n rilling en stoot sy bord weg. “En toe? Het die ondier net weer die nag in verdwyn, terug na die moeras?”
   “Dis wat ons spoorsnyers laat weet het,” sê lord Spoegmann, “maar noudat die monster ’n slagter vol Baronsburg-wors geproe het, moet ons daarop voorbereid wees dat hy gereeld deur die linie soldate sal probeer breek – en daarom dink ek dat ons die aantal manne wat daar gestasioneer is, moet verdubbel, U Hoogheid. Dit sal tot my innige spyt beteken dat die Ickabog-belasting verdubbel moet word.”
   Gelukkig vir die lords is koning Fred se aandag op lord Spoegmann gevestig, daarom sien hy nie hoe lord Flapmann grinnik nie.
   “Ja … ek veronderstel dit maak sin,” sê die koning.
   Hy staan op en begin rusteloos heen en weer deur die eetsaal loop. Die lamplig laat sy kostuum, wat van hemelblou sy gemaak is en seegroen knope het, pragtig skitter. Koning Fred steek ’n oomblik voor die spieël vas om homself te bewonder, en toe kry hy ’n troebel uitdrukking.
   “Spoegmann,” sê hy, “die mense hou mos nog van my, of hoe?”
   “Hoe kan U Majesteit so iets vra?” snak lord Spoegmann geskok. “U is die mees geliefde koning in die geskiedenis van Kornukopië!”
   “Dis net … toe ek gister ná ons jagtog terugry, kon ek nie help om te dink dat die mense nie so bly soos gewoonlik lyk om my te sien nie,” sê koning Fred. “Hulle het skaars gejuig, en daar was slegs een vlag.”
   “Gee vir my hulle name en adresse,” sê lord Flapmann terwyl hy aan ’n mond vol bloedwors kou en in sy sakke na ’n potlood soek.
   “Ek weet nie wat hulle name of adresse is nie, Flapmann,” sê koning Fred, wat nou met ’n tossel aan die gordyne speel. “Hulle was net mense wat verbygestap het. Maar dit het my nogal taamlik ontstel, en toe ek terug by die paleis kom, het ek verneem dat die Dag van Versoeke gekanselleer is.”
   “O ja,” sê lord Spoegmann, “ek wou dit nog vir U Majesteit verduidelik het …”
   “Dis nie nodig nie,” sê koning Fred. “Lady Eslander het reeds met my daaroor gesels.”
   “Wat?!” sis lord Spoegmann en gluur na lord Flapmann. Hy het vir sy vriend streng instruksies gegee om lady Eslander nie naby die koning te laat kom nie, want hy was bang dat sy hom sou probeer beïnvloed. Lord Flapmann kry ’n suur uitdrukking en trek sy skouers op. Lord Spoegmann kan nie van hom verwag om elke oomblik van die dag aan die koning se sy te bly nie. ’n Man moet darem af en toe badkamer toe ook gaan.
   “Lady Eslander het vir my gesê dat die mense kla dat die Ickabog-belasting te hoog is. Sy’t gesê dat daar gerugte loop dat daar glad nie enige troepe in die noorde gestasioneer is nie!”
   “Dis absolute bog!” sê lord Spoegmann, al is dit in werklikheid waar dat daar al hoe meer klagtes oor die Ickabog-belasting kom, wat is hoekom hy die Dag van Versoeke gekanselleer het. Die laaste ding wat hy wil hê, is dat koning Fred moet hoor dat hy nie meer so gewild is nie. Hy kan dit dalk in sy kop kry om die belasting minder te maak of, selfs erger, om mense te stuur om ondersoek te gaan instel na die kastige kamp in die noorde.
   “Daar is natuurlik tye wanneer die twee regimente mekaar aflos,” sê lord Spoegmann terwyl hy in sy agterkop besluit om wel nou soldate by die moeras te stasioneer sodat die mense moet ophou om vrae te vra. “Miskien het ’n onnosel Moeraslander ’n regiment gesien wegry en toe gedink dat daar niemand by die moeras is nie … Hoekom verdriedubbel ons nie die Ickabog-belasting nie, U Hoogheid?” vra lord Spoegmann, want hy is vasberade om die klakouse ’n les te leer. “Die feit is, die monster het gisteraand deurgeglip hierheen! Dus moet ons selfs méér manne by die moeras laat wagstaan om almal gelukkig en veilig te hou.”
   “Ja,” sê koning Fred ongemaklik. “Ja, dit maak sin. As die monster binne een nag vier mense en ’n spul hoenders kon doodmaak, dan …”
   Op hierdie oomblik kom die lakei Pester by die eetsaal in en buig laag. Toe fluister hy in lord Spoegmann se oor dat sy spioen in Baronsburg pas met dringende nuus uit die worsmaakstad by die paleis aangekom het.
   “U Majesteit,” spin lord Spoegmann met sy gladde mond, “u moet my ongelukkig verskoon. Dis niks om u oor te kwel nie! Net ’n effense probleempie met my, eh, perd.”

Hoofstukke

footer

Back to top