Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk vier-en-sestig

Kornukopië herlewe

Eendag was daar ’n landjie genaamd Kornukopië, wat regeer is deur ’n span nuwe raadgewers en ’n eerste minister, wat gedurende die tyd waarvan ek skryf Gerard Goedaard was. Die mense van Kornukopië het Goedaard tot eerste minister verkies omdat hy ’n baie eerlike man was, en Kornukopië was ’n land wat geleer het hoe waardevol die waarheid is. Die hele land het feesgevier toe eerste minister Goedaard aangekondig het dat hy gaan trou met lady Eslander, die gawe en dapper vrou wat belangrike getuienis teen lord Spoegmann gelewer het.
   Die koning wat toegelaat het dat sy vrolike en vooruitstrewende klein koninkryk verwoes en in wanhoop gedompel is, is ook verhoor, saam met die hoofraadgewer en ’n hele paar ander mense wat voordeel uit lord Spoegmann se leuens getrek het, insluitend Ma Grommer, Paul Boelie, Pester die lakei, en Org Skarrel.
   Die koning het die hele tyd terwyl hy ondervra is bitterlik gehuil, maar lord Spoegmann het met ’n koue, trotse stem geantwoord en soveel leuens vertel en soveel ander mense vir sy boosheid probeer blameer dat dit sake vir hom baie erger gemaak het as wat dit sou wees as hy ook soos koning Fred liewer net gehuil het. Albei mans is saam met al die ander misdadigers in die selle onder in die paleis se kerker gegooi.
   Terloops, ek kan dit verstaan as jy wens dat Bert en Rod die slinkse lord Spoegmann eerder doodgeskiet het. Hy het per slot van rekening honderde ander mense se dood veroorsaak. Maar dit behoort jou beter te laat voel as jy weet dat lord Spoegmann dit sou verkies het om dood te wees eerder as om dag en nag opgesluit te wees in die kerker, waar hy tronkkos gekry het en op verslete beddegoed moes slaap en ure aaneen na die gewese koning se gehuil moes luister.
   Die goue munte wat lord Spoegmann en lord Flapmann gesteel het, is alles teruggekry en al die mense wat hulle kaaswinkels en hulle bakkerye, hulle melkerye en hulle varkplase, hulle slagterye en hulle wingerde verloor het, kon dit weer terugkry en Kornukopië het weer beroemd geraak vir sy kos en wyn.
   Maar tydens die lang tydperk toe Kornukopië in armoede gedompel was, het baie mense die kans misgeloop om in die maak van kaas, wors, wyn en fyngebak opgelei te word. Party van hulle het bibliotekarisse geword, want lady Eslander het op die briljante idee gekom om al die weeshuise wat skielik leeg was in biblioteke te verander en vir hulle boeke te skenk. Maar daar was nog baie mense sonder werk. En dis hoe die vyfde groot stad in Kornukopië tot stand gekom het. Die stad se naam was Ickabië, en dit was tussen Baronsburg en Suiwelstad geleë, op die oewer van die Floemarivier.
   Toe die Ickaboggel wat tweede gebore is, hoor van die probleem dat baie mense nooit ’n ambag geleer het nie, het hy skamerig voorgestel dat hy hulle kan leer om met sampioene te boer, aangesien hy soveel daarvan weet. Die sampioenkwekers het soveel sukses behaal dat die vooruitstrewende nuwe stad rondom hulle verrys het.
   Jy dink dalk jy hou nie van sampioene nie, maar ek kan jou verseker, as jy Ickabië se romerige sampioensop proe, sal jy vir die res van jou lewe gek daaroor wees. Suiwelstad en Baronsburg het nuwe resepte uitgedink wat sampioene uit Ickabië insluit. Om die waarheid te sê, het die koning van Pluritanië kort voor eerste minister Goedaard en lady Eslander se troue vir hom ’n keuse van enige van sy dogters aangebied in ruil vir ’n jaar se voorraad van Kornukopië se vark- en sampioenwors. Eerste minister Goedaard het vir hom die wors as ’n geskenk gestuur, saam met ’n uitnodiging na die Goedaards se huwelik, en lady Eslander het ’n nota bygevoeg waarin sy voorgestel het dat koning Porfirio ophou om sy dogters in ruil vir kos aan te bied en hulle toelaat om self te kies met watter man hulle wil trou.
   Ickabië was ’n ongewone stad, want anders as Chouxville, Suiwelstad, Baronsburg en Jeroboam was dit bekend vir drie produkte in plaas van een.
   Eerstens was daar die sampioene, wat elke iedere een so pragtig soos ’n pêrel was.
   Tweedens was daar die ongelooflike silwer salms en forelle wat vissermanne in die Floemarivier gevang het – en jy sal dalk daarvan hou om te weet dat daar ’n standbeeld op een van Ickabië se pleine opgerig is van die bejaarde dame wat geïllustreerde boeke oor die visse in die Floema geskryf het.
   Derdens het Ickabië wol geproduseer.
   Jy sien, eerste minister Goedaard het besluit dat die paar Moeraslanders wat die lang tydperk van hongerte oorleef het beter weivelde as dié in die noorde vir hulle skape verdien. Nadat die Moeraslanders se vee op die geil groen grasvelde aan die oewers van die Floema begin wei het, was daar geen keer aan die skaapboere nie. Spoedig was Kornukopië se wol die sagste en syerigste ter wêreld, en die truie en sokkies en serpe wat daaruit gemaak is, was mooier en gemakliker as enigiets anders op die mark. Hettie Hees en haar gesin se skaapplaas het uitstekende wol geproduseer, maar ek moet byvoeg dat die heel gesogste kledingstukke gespin is met die wol wat van Rod en Marta Rommel se florerende plaas net buitekant Ickabië gekom het. Ja, Rod en Marta is getroud, en dis vir my lekker om te sê dat hulle baie gelukkig was en vyf kinders gehad het, en dat Rod met ’n effense Moerasland-aksent begin praat het.
   Jy sal baie bly wees om te hoor dat twee ander mense ook getroud is. Nadat hulle uit die kerker ontsnap het en nie meer noodgedwonge langs mekaar moes woon nie, het die twee ou vriende, mevrou Blinkenaar en meneer Duiwendyk, uitgevind dat hulle nie meer sonder mekaar wou lewe nie. Met Bert as strooijonker en Daisy as strooimeisie is die skrynwerker en die fyngebaksjef toe getroud, en Bert en Daisy was uiteindelik regtig broer en suster, soos dit al soveel jare vir hulle gevoel het. Mevrou Blinkenaar het haar eie, eksklusiewe fyngebakwinkel in die hartjie van Chouxville oopgemaak, en afgesien van Feetjievlerkies, Dagdroompies, Hertoghappies, Troeteltertjies en Hemelhartjies het sy ook Ickapoffertjies gemaak: Dit was die ligste, sysagste poffertjies wat jy jou kan voorstel, bestrooi met fyn sprinkeltjies pepermentsjokolade, wat dit laat lyk het asof dit in moeraskruid gerol is.
   Bert het in sy pa se voetspore gevolg en by Kornukopië se weermag aangesluit. Hy was ’n regverdige en dapper man, en dit sal my nie verbaas as hy uiteindelik die weermag se bevelvoerder geword het nie.
   Daisy het die wêreld se voorste Ickabog-kenner geword. Sy het baie boeke oor hulle fassinerende gedrag geskryf, en danksy Daisy het die Kornukopiërs die Ickabogs beskerm en liefgehad. In haar vrye tyd het sy haar pa gehelp met sy skrynwerkonderneming, en een van hulle gewildste produkte was Ickabog-speelgoed. Die Ickaboggel wat tweede gebore is, het gewoon in die gebied wat vroeër die koning se hertepark was. Dit was naby Daisy-hulle se werkswinkel, en die twee het steeds baie goeie vriende gebly.
   ’n Museum is in die hartjie van Chouxville opgerig en dit het elke jaar baie besoekers gelok. Hierdie museum is met Daisy, Bert, Marta en Rod se hulp deur eerste minister Goedaard en sy raadgewers tot stand gebring om seker te maak dat die mense van Kornukopië nie vergeet van die jare toe die hele land hulle deur lord Spoegmann se leuens laat mislei het nie. Besoekers aan die museum kon interessanthede besigtig: majoor Blinkenaar se silwermedalje, met lord Flapmann se koeël steeds daarin ingebed, en die standbeeld van manskap Knoppie Knopie, wat op Kornukopië se grootste plein vervang is met ’n standbeeld van daardie dapper Ickabog wat met ’n bossie sneeuklokkies in die hand by die Moerasland uitgestap het, en sodoende sy spesie én die hele land gered het. Besoekers kon ook die nagemaakte, opgestopte Ickabog wat lord Spoegmann met ’n bul se geraamte en spykers laat maak het daar sien, sowel as ’n yslike skildery van koning Fred wat veg teen die draakagtige Ickabog wat toe die hele tyd net in die kunstenaar se verbeelding bestaan het.
   Maar daar is iets wat ek nog nie weer genoem het nie: die eersgebore Ickabog, die gevaarlike gedierte wat lord Flapmann doodgemaak het en wat laas toe ek van hom vertel het deur dertig sterk manne weggesleep is.
   Om eerlik te wees was hierdie dierasie ietwat van ’n probleem. Daisy het vir almal verduidelik dat hulle die boosaardige Ickabog nie moes aanval of sleg behandel nie, anders sou hy mense meer haat as wat reeds die geval was. Dit sou beteken dat hy met sy Geborening selfs nóg boosaardiger Ickaboggels as hyself sou voortbring en dan kon Kornukopië dalk werklik met die probleem sit waarmee lord Spoegmann almal so bang gemaak het. Aan die begin moes die Ickaboggel in ’n spesiaal versterkte sel aangehou word om te keer dat hy mense doodmaak, en omdat hy so gevaarlik was, was daar min vrywilligers wat bereid was om vir hom sampioene te neem. Die enigste mense van wie hierdie Ickaboggel effens gehou het, was Bert en Rod, want toe hy Geborene is, het hulle probeer om sy Icker te beskerm. Die probleem was dat Bert in die weermag was en dat Rod ’n skaapboer geword het; nie een van hulle het tyd gehad om heeldag by ’n boosaardige Ickaboggel te sit en hom te probeer kalm hou nie.
   ’n Oplossing vir hierdie probleem het skielik uit ’n baie onverwagse oord gekom.
   Fred het hom teen daardie tyd al half dood gehuil daar onder in die kerker. Al was die gewese koning beslis selfsugtig, verwaand en lafhartig, het hy nooit bedoel om enigiemand seer te maak nie – maar hy het, natuurlik, en ook baie seer. Nadat Fred van die troon afgesit is, was hy vir ’n hele jaar in ’n diep put van depressie, en al was een van die redes ongetwyfeld dat hy toe in ’n sel eerder as in ’n paleis moes bly, was hy ook bitterlik skaam.
   Hy het intussen besef hoe ’n hopelose koning hy was en hoe sleg hy hom gedra het, en hy het meer as enigiets begeer om ’n beter man te wees. So, op ’n dag het Fred tot die verstomming van lord Spoegmann, wat suur in die sel oorkant syne gesit en tob het, vir die tronkbewaarder gesê dat hy sy dienste vrywillig wil aanbied om na die boosaardige Ickabog te kyk.
   En dis wat hy toe gedoen het. Al was hy die eerste oggend en nog baie oggende daarna doodsbleek en het sy knieë gebewe, het die gewese koning by die boosaardige Ickabog se hok ingegaan en met hom gepraat oor Kornukopië, en oor die verskriklike foute wat hy gemaak het, en oor hoe jy kan leer om ’n beter, goedhartiger mens te wees, as jy regtig een wil wees. Selfs al moes Fred saans terug na sy eie sel toe gaan, het hy gevra dat die Ickabog in ’n groen weiveld aangehou word in plaas van ’n sel, en tot almal se verbasing het dit goed gewerk, en die volgende oggend het die Ickabog Fred selfs met ’n growwe stem bedank.
   Soos die maande en jare verbygegaan het, het Fred dapperder geword, en die Ickabog meer saggeaard, en uiteindelik, toe Fred al ’n taamlike ou man was, het dit tyd geword vir die Ickabog se Geborening, en die Ickaboggels wat uit hom Geborene is, was sagmoedig en goedhartig. Fred, wat oor hulle Icker gehuil het soos oor ’n broer, is kort daarna dood. Alhoewel daar nêrens standbeelde ter ere van hulle laaste koning in die stede van Kornukopië opgerig is nie, het mense af en toe blomme op sy graf gaan sit, en as hy daarvan geweet het, sou hy bly gewees het.
   Ek kan nie vir jou sê of mense werklik uit Ickabogs Geborene is nie. Miskien gaan ons deur ’n soort Geborening wanneer ons verander, ten goede of ten slegte. Al wat ek weet, is dat lande, net soos Ickabogs, met sagmoedigheid geleer kan word om groothartig te wees, want dit is hoekom almal in die koninkryk van Kornukopië daarna lank en gelukkig saam gelewe het.

 

Voorgestelde illustrasies (suggested illustrations)

Eerste minister Goedaard en lady Eslander se troue
Meneer Duiwendyk en mevrou Blinkenaar se troue
ʼn Bakkie romerige sampioensop
Vis wat in die Floemarivier gevang is
Die stad Ickabië
Koning Fred en die boosaardige Ickaboggel

Hoofstukke

footer

Back to top