Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk agt-en-dertig

Lord Spoegmann kom kuier

Ma Grommer was een van die min mense in Kornukopië wat oor die afgelope jare net ryker en ryker geword het. Sy het haar hool tot barstens toe vol kinders en babas gestop en toe by die twee lords wat die koninkryk regeer, aangedring op geld om haar bouvallige huis groter te maak. Die weeshuis was ’n winsgewende besigheid, wat beteken het dat Ma Grommer haarself kon bederf met fynproewerskos wat net die heel rykste mense kon bekostig. Sy het die meeste van haar geld natuurlik uitgegee op die beste wyne uit Jeroboam, en ek is jammer om dit te sê, maar wanneer Ma Grommer dronk was, was sy op haar wreedste. Die kinders in die weeshuis was vol snye en kneusplekke, want Ma Grommer het haar dronkverdriet op hulle uitgehaal.
   Party van die kinders in haar sorg het nie lank op ’n dieet van koolsop en wreedheid oorleef nie. Terwyl ’n eindelose string honger kinders by die voordeur ingestroom het, het die klein begraafplaas agter die gebou ál voller en voller geraak. Ma Grommer het nie omgegee nie. Vir haar het al die Pauls en Paulas in die weeshuis dieselfde gelyk met hulle bleek en uitgeteerde gesigte, en sy het hulle net geduld omdat hulle vir haar meer geld ingebring het.
   Maar toe Ma Grommer in die sewende jaar van lord Spoegmann se heerskappy oor Kornukopië weer eens vir hulp met haar weeshuis vra, het die hoofraadgewer besluit om die plek te gaan inspekteer voordat hy vir die ou vrou nog geld gee. Ma Grommer het haar beste swart syrok aangetrek om die lord te ontvang en seker gemaak dat haar asem nie na wyn ruik nie.
   “Foeitog, kyk hoe swaar kry die arme bloedjies, my heer,” sê sy toe hy die dag daar opdaag en met sy geparfumeerde sakdoek voor sy neus na al die bleek, uitgeteerde kinders staan en kyk. Ma Grommer buk af en tel ’n klein Marslandertjie, wie se maag van die honger opgeswel is, op. “Sien u nou hoe desperaat ons u hulp nodig het, my heer?”
   “Ja, ja, dis duidelik,” sê lord Spoegmann en druk amper sy hele gesig met die sakdoek toe. Hy hou nie van kinders nie, veral nie kinders wat so vuil soos hierdie spul is nie, maar hy weet hoe lief baie onnosel Kornukopiërs vir sulke snuiters is en dat dit nie ’n goeie idee is om te veel van hulle te laat doodgaan nie. “Goed dan, ek sal verdere befondsing goedkeur, Ma Grommer.”
   Toe hy omdraai om te loop, sien die lord ’n bleek meisie met ’n baba in elke arm langs die deur staan. Sy dra ’n gelapte oorbroek wat duidelik al ’n paar keer langer en groter gemaak is. Daar is iets aan hierdie meisie wat haar tussen die ander kinders laat uitstaan. Lord Spoegmann kry selfs die vreemde gevoel dat hy al voorheen iemand soos sy gesien het. Sy lyk nie soos die ander snuiters beïndruk met die hoofraadgewer se swiepende ampsgewaad en die rinkelende medaljes wat hy aan homself toegeken het omdat hy die Ickabog-verdedigingsbrigade se bevelvoerder is nie.
   Lord Spoegmann steek by Daisy vas en laat sak sy geparfumeerde sakdoek. “Wat is jou naam, meisie?” vra hy.
   “Paula, my heer. Ons almal hier word Paula genoem,” sê Daisy en kyk lord Spoegmann met koue, ernstige oë aan. Sy onthou hom van die paleis se binnehof waar sy lank gelede gespeel het, en hoe hy en lord Flapmann in die verbyloop op hulle geskree het om op te hou lawaai.
   “Hoekom buig jy nie? Ek is die koning se hoofraadgewer.”
   “’n Hoofraadgewer is nie ’n koning nie,” sê die meisie.
   “Wat het sy gesê?” vra Ma Grommer bekommerd en hinkepink nader om seker te maak Daisy gedra haar. Van al die kinders in haar weeshuis hou Ma Grommer die minste van Daisy Duiwendyk. Sy kon die meisie se gees nog steeds nie knak nie, al het sy al baie hard probeer om dit te doen. “Wat sê jy, Lelike Paula?” vra sy. Daisy is glad nie lelik nie, maar hierdie naam is een van Ma Grommer se maniere om haar gees te knak.
   “Sy het verduidelik hoekom sy nie vir my buig nie,” sê lord Spoegmann, wat steeds stip in Daisy se donker oë kyk en wonder waar hy haar al gesien het.
   Die skrynwerker wat hy gereeld onder in die kerker besoek, het presies sulke oë, maar hy is nou al heeltemal van sy kop af en het ’n lang grys baard en hare, terwyl die meisie intelligent en kalm lyk, wat maak dat lord Spoegmann die twee nie met mekaar verbind nie.
   “Lelike Paula was nog altyd so ongemanierd,” sê Ma Grommer en neem haar voor om Daisy te straf sodra lord Spoegmann by die deur uit is. “Ek gaan haar nog een van die dae hier uitsmyt, my heer, dan sal ons sien hoe sy daarvan hou om op straat te loop en bedel in plaas van om veilig onder my dak met ’n vol maag te gaan slaap.”
   “Sjoe, ja, ek sal jou koolsop baie mis,” sê Daisy met ’n koue, harde stem. “Het u geweet dis al wat ons hier kry om te eet, my heer? Koolsop, drie keer per dag.”
   “Ek is seker dis baie voedsaam,” sê lord Spoegmann.
   “O ja, ons word ook partykeer bederf,” sê Daisy, “met weeshuiskoekies. Weet u wat dit is, my heer?”
   “Nee,” sê lord Spoegmann teen sy sin. Daar is iets aan hierdie meisie … Wat is dit?
   “Dit word van vrot bestanddele gemaak,” sê Daisy terwyl haar oë in syne boor. “Vrot eiers, muwwerige meel, goed wat te lank in die koskas gestaan het ... Mense het niks ander kos om vir ons te gee nie, so hulle maak ’n mengsel van alles wat hulle nie wil hê nie en kom sit dit hier voor op die trap neer. Partykeer word die kinders siek van die weeshuiskoekies, maar hulle eet dit nogtans omdat hulle so honger is.”
   Lord Spoegmann luister nie regtig na Daisy se woorde nie, meer na haar aksent. Al bly sy nou al so lank in Jeroboam, is daar steeds ’n klankie van Chouxville in haar stem.
   “Waar kom jy vandaan, meisie?” vra hy.
   Die ander kinders is nou stil en almal kyk hoe die lord met Daisy praat. Al haat Ma Grommer haar, is Daisy die jonger kinders se gunsteling, want sy beskerm hulle teen Ma Grommer en Paul Boelie, en steel nooit hulle droë broodkorsies soos die ander groter kinders nie. Sy smokkel ook partykeer vir hulle brood en kaas uit Ma Grommer se private spens, al is dit ’n groot waagstuk wat soms daartoe lei dat Paul Boelie haar te lyf gaan.
   “Ek kom van Kornukopië af, my heer,” sê Daisy. “U het dalk al daarvan gehoor. Dis ’n land wat lank gelede bestaan het, ’n land waar niemand ooit arm of honger was nie.”
   “Dis genoeg!” spoeg lord Spoegmann. Hy draai na Ma Grommer en sê: “Ek stem saam met u, Mevrou. Hierdie kind toon geen dank vir u goedaardigheid nie. Miskien moet sy uitgesmyt en aan haar eie genade oorgelaat word.”
   Lord Spoegmann swiep by die weeshuis uit en klap die deur toe agter hom. Die oomblik toe hy weg is, swaai Ma Grommer met haar kierie na Daisy, maar jare se oefening het Daisy geleer hoe om rats te koes. Die ou vrou skuifel weg, waai haar kierie voor haar uit sodat die kleintjies uit haar pad moet skarrel, en klap haar gemaklike sitkamer se deur agter haar toe. Die kinders hoor die geluid van ’n kurkprop wat uit ’n bottel getrek word.
   Later, toe hulle die aand in hulle beddens klim wat langs mekaar staan, sê Marta skielik vir Daisy:
   “Jy weet, Daisy, dis nie waar wat jy vir die hoofraadgewer gesê het nie.”
   “Watter deel daarvan, Marta?” fluister Daisy.
   “Dis nie waar dat almal in die ou dae genoeg kos gehad het en gelukkig was nie. My mense daar bo in die Moerasland het nooit so lekker gelewe nie.”
   “Ek is jammer, Marta,” sê Daisy sag. “Ek het vergeet.”
   “Dis omdat die Ickabog aanhoudend ons skape gesteel het,” sê Marta vaak.
   Daisy kruip dieper onder haar dun kombers in om warmer te probeer kry. Al is hulle al só lank saam, kon sy Marta nog nie oortuig dat die Ickabog nie bestaan nie. Maar vanaand wens Daisy dat sy ook kan glo dat daar ’n monster in die moeras is, eerder as om te weet dat daar niks anders as boosheid uit lord Spoegmann se oë straal nie.

Voorgestelde illustrasies (suggested illustrations)

Die maan
Daisy se oorbroek wat sy by die moue en broekspype langer gemaak het
Daisy en lord Spoegmann
Koolsop
Weeshuiskoekies

Hoofstukke

footer

Back to top