Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk vyf-en-dertig

Lord Spoegmann se aanbod

’n Paar dae later het lady Eslander alleen in die paleis se roostuin gestap, en die twee soldate wat agter ’n bos weggekruip het, het die kans benut. Hulle het haar gegryp, haar mond toegestop, haar hande vasgebind en met haar na lord Spoegmann se landgoed op die platteland weggejaag. Toe het hulle vir lord Spoegmann ’n boodskap gestuur en gewag dat hy by hulle moes aansluit.
   Lord Spoegmann het Millie, lady Eslander se bediende, dadelik ontbied. Hy het gedreig om Millie se sussie dood te maak en haar gedwing om vir al lady Eslander se vriende te gaan sê dat haar meesteres besluit het om ’n non te word.
   Lady Eslander se vriende was almal geskok oor die nuus. Sy het nog nooit vir enigeen van hulle gesê dat sy ’n non wou word nie. Om die waarheid te sê, baie van hulle het vermoed dat lord Spoegmann iets met haar verdwyning te doen gehad het. Maar ek is bevrees almal was teen daardie tyd al so bang vir lord Spoegmann dat lady Eslander se vriende net vir mekaar van hulle vermoedens gefluister het en haar nie probeer opspoor het of vir lord Spoegmann gevra het wat hy weet nie. Wat nog erger was, was dat nie een van hulle probeer het om Millie te help nie, en toe sy uit die Stad-in-die-Stad probeer vlug, het die soldate haar gevang en is sy in die kerker opgesluit.
   Daarna het lord Spoegmann vertrek na sy landgoed op die platteland, waar hy die volgende aand aangekom het. Nadat hy vir elkeen van lady Eslander se ontvoerders vyftig dukate gegee en hulle daaraan herinner het dat hulle tereggestel sou word as hulle ’n woord sou rep, het lord Spoegmann sy snor in ’n spieël gladgestryk en lady Eslander gaan opsoek in sy taamlik stowwerige biblioteek, waar sy ’n boek by kerslig gesit en lees het.
   “Goeienaand, geagte dame,” het lord Spoegmann gesê en laag voor haar gebuig.
   Lady Eslander het hom woordeloos aangekyk.
   “Ek het vir u goeie nuus,” het lord Spoegmann glimlaggend verder gegaan. “U gaan die hoofraadgewer se vrou word.”
   “Ek sterf eerder,” het lady Eslander vriendelik geantwoord en omgeblaai en verder in die boek gelees.
   “Kom nou,” het lord Spoegmann gesê. “Soos u kan sien, het my huis werklik ’n behoefte aan ’n vrou se liefdevolle versorging. U sal baie gelukkiger wees hier waar u van groot nut is as wat u wegkwyn van kommer oor die kaasmakers se seun, wat in elk geval nou enige dag van die honger gaan omkom.”
   Lady Eslander het verwag dat lord Spoegmann van kaptein Goedaard sou praat en het haar van die oomblik dat sy by hierdie koue en vuil huis aangekom het daarop voorberei. Daarom het sy toe sonder om te bloos of een traan te stort gesê:
   “Ek gee reeds lankal niks meer vir kaptein Goedaard om nie, lord Spoegmann. Vandat ek gesien het hoe hy erken dat hy verraad gepleeg het, walg hy my. Ek sal nooit vir ’n verraderlike man kan lief wees nie – en dis hoekom ek nooit vir u sal kan lief word nie.”
   Sy het dit so oortuigend gesê dat lord Spoegmann haar geglo het. Hy het toe ’n ander dreigement gemaak en gesê dat hy haar ouers sou laat vermoor as sy nie met hom wou trou nie, maar lady Eslander het hom daaraan herinner dat sy, net soos kaptein Goedaard, ’n weeskind is. Toe het lord Spoegmann gedreig om al die juweliersware wat haar ma vir haar nagelaat het by haar af te vat, maar sy het haar skouers opgetrek en gesê dat sy in elk geval boeke verkies. Uiteindelik het lord Spoegmann gedreig om haar dood te maak en lady Eslander het voorgestel dat hy dit dadelik doen, want dit sou beter wees as om na sy stories te moet luister.
   Lord Spoegmann was rasend van woede. Hy was gewoond daaraan om altyd met alles sy sin te kry, en hier was iets wat hy nie kon kry nie, en daarom wou hy dit des te meer hê. Uiteindelik het hy gesê as sy dan so baie van boeke hou, sal hy haar vir ewig in sy biblioteek opsluit. Hy sal tralies voor die vensters laat opsit, en Skarrel die huiskneg sal drie keer per dag vir haar kos bring, maar sy sal nie toegelaat word om badkamer toe te gaan nie – tensy sy sou instem om met hom te trou.
   “Dan sal ek in hierdie vertrek sterf,” sê lady Eslander toe ewe kalm, “of miskien – wie weet? – in die badkamer.”
   Die hoofraadgewer kon nie ’n woord verder uit haar kry nie en is woedend daar weg.

Hoofstukke

footer

Back to top