Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk veertien

Lord Spoegmann se plan

Toe die mis uiteindelik heeltemal opgeklaar het, het die manne wat ’n uur tevore by die moeras aangekom het baie anders gelyk.
   Afgesien van die skok van majoor Blinkenaar se skielike dood, het die verduideliking wat hulle gekry het ’n paar lede van die koninklike wag verwar. Die twee lords, die koning en majoor Rommel wat so skielik bevorder is, het al vier gesweer dat hulle die monster wat almal oor die jare heen nog altyd as ’n feeverhaal afgemaak het met hulle eie oë gesien het. Was majoor Blinkenaar se liggaam, wat styf in die mantels toegedraai was, regtig vol tand- en kloumerke soos die monster hom verskeur het?
   “Noem jy my ’n leuenaar?” het majoor Rommel in ’n jong manskap se gesig geskree.
   “Noem jy die koning ’n leuenaar?” het lord Flapmann geblaf.
   Die manskap sou dit nie waag om iets wat die koning sê te bevraagteken nie, toe het hy maar net sy kop geskud. Kaptein Goedaard, wat ’n baie goeie vriend van majoor Blinkenaar was, het niks gesê nie. Maar daar was so ’n kwaai en agterdogtige uitdrukking op kaptein Goedaard se gesig dat majoor Rommel hom beveel het om stewige grond te gaan soek en die tente so gou moontlik daar op te slaan, want die gevaarlike mis kon hulle enige oomblik weer oorval.
   Al het hy ’n strooimatras gehad en is van die soldate se komberse afgeneem om seker te maak hy is gemaklik, was dit die onaangenaamste nag wat koning Fred nog ooit beleef het. Hy was moeg, vuil, nat en bowenal bang.
   “Wat as die Ickabog na ons kom soek, Spoegmann?” het die koning in die donker gefluister. “Wat as hy ons reuk volg en ons opspoor? Hy het al klaar geproe hoe arme Blinkenaar smaak. Wat as hy na die res van die liggaam kom soek?”
   Lord Spoegmann het die koning probeer paai.
   “Moenie bang wees nie, U Majesteit. Rommel het kaptein Goedaard beveel om buite u tent wag te staan. Wie ook al opgevreet gaan word, u sal die laaste een wees.”
   Dit was te donker vir die koning om te sien hoe lord Spoegmann grinnik. Hy wou die koning nie gerusstel nie; lord Spoegmann wou sy vrese aanwakker. Sy hele plan het daarop berus dat die koning nie net moes glo die Ickabog bestaan nie, maar ook dat hy bang sou wees dat die ongedierte by die moeras gaan uitkom en hom gaan kom soek.
   Die volgende oggend vertrek die koning se geselskap terug na Jeroboam. Lord Spoegmann het ’n boodskap vooruit gestuur om vir die burgemeester van Jeroboam te vertel dat daar ’n tragiese ongeluk by die moeras was en dat die koning daarom nie wou hê enige trompette of kurkproppe moet hom verwelkom nie. Die stad is dus doodstil toe die koning se geselskap daar aankom. Die inwoners druk hulle gesigte teen hulle vensters, of loer by hulle deure uit, en is geskok om die koning so vuil en mismoedig te sien, maar nie naastenby so geskok soos toe hulle sien dat daar ’n liggaam wat in mantels toegedraai is aan majoor Blinkenaar se staalgrys perd vasgebind is nie.
   Toe hulle by die herberg kom, neem lord Spoegmann die herbergier eenkant toe.
   “Ons het ’n koue, veilige plek nodig, miskien ’n kelder, waar ons ’n liggaam vir die nag kan neerlê, en ek wil die sleutel by my hou.”
   “Wat het gebeur, my heer?” vra die herbergier terwyl majoor Rommel majoor Blinkenaar se lyk met die kliptrappies af na die kelder dra.
   “Ek sal vir jou die waarheid vertel, liewe vriend, aangesien jy so goed na ons kyk, maar jy moet dit dig geheim hou,” sê lord Spoegmann met ’n diep, ernstige stem. “Die Ickabog bestaan werklik en het een van ons manne wreed vermoor. Ek is seker jy kan verstaan hoekom dit nie moet uitlek nie. Dit sal paniek veroorsaak. Die koning keer inderhaas terug na die paleis, waar hy en sy raadgewers – wat my natuurlik insluit – onmiddellik stappe sal bespreek oor hoe om ons land se veiligheid te verseker.”
   “Die Ickabog? Dit bestaan regtig?” sê die herbergier verstom en verskrik.
   “Ja, hy bestaan en hy’s wreed en wraaksugtig,” sê lord Spoegmann. “Maar, soos ek sê, dit moenie uitlek nie. Wydverspreide paniek sal niemand baat nie.”
   Wydverspreide paniek is in werklikheid presies wat lord Spoegmann wil hê, want dit is noodsaaklik vir die volgende deel van sy plan. Net soos hy vermoed het, wag die herbergier net totdat sy gaste bed toe is voordat hy vinnig vir sy vrou gaan vertel wat na die bure toe hardloop, en teen die tyd dat die koning en sy geselskap die volgende oggend na Suiwelstad vertrek, laat hulle ’n stad agter waar paniek so vinnig soos wyn gis.
   Lord Spoegmann stuur ’n boodskap vooruit na Suiwelstad om die kaasmakers te waarsku om ook nie ’n ophef oor die koning te maak nie, met die gevolg dat dit daar ook donker en stil is toe die koninklike geselskap die strate inry. Die gesigte in die vensters lyk reeds bang. ’n Handelaar van Jeroboam wat ’n besonder vinnige perd het, het die gerug oor die Ickabog ’n uur vantevore in Suiwelstad kom versprei.
   Lord Spoegmann vra weer ’n kelder om majoor Blinkenaar se lyk in te bewaar, en vertel weer vir die herbergier vertroulik dat die Ickabog een van die koning se manne doodgemaak het. Nadat hy majoor Blinkenaar se liggaam self toegesluit het, gaan lord Spoegmann op na sy kamer toe.
   Hy is nog besig om salf aan die waterblase op sy boude te smeer, toe hy ’n boodskap kry dat die koning hom dringend wil spreek. Lord Spoegmann gryns tevrede, trek sy kardoesbroek aan, knipoog vir lord Flapmann wat aan ’n kaas-en-piekel-toebroodjie weglê, tel sy kers op en stap met die gang af tot by koning Fred se kamer.
   Die koning sit in ’n bondeltjie ineengekrimp op die bed met sy nagmus van sy op en die oomblik toe lord Spoegmann die kamerdeur toemaak, sê hy:
   “Spoegmann, ek hoor die hele tyd ’n gefluister oor die Ickabog. Die stalknegte gis daaroor, en selfs die diensmeisie wat nou net verby my deur gestap het. Hoe is dit moontlik? Hoe kan hulle weet wat gebeur het?”
   “Helaas, U Majesteit,” sug lord Spoegmann, “ek het gehoop ek kan die waarheid vir u wegsteek totdat u veilig terug in die paleis is, maar ek moes geweet het U Majesteit is te skerpsinnig om geflous te word. Vandat ons by die moeras weg is, U Hoogheid, het die Ickabog, net soos U Majesteit gevrees het, baie aggressiewer geword.”
   “Ag nee!” snak die koning.
   “Ek’s bevrees dis waar, U Hoogheid. Maar nou ja, as jy so ’n ongedierte aanval, maak jy hom net nóg gevaarliker.”
   “Wie het die monster aangeval?” vra koning Fred.
   “U het, U Majesteit,” sê lord Spoegmann. “Volgens Rommel was u swaard diep in die monster se nek begrawe terwyl die ding weggehardloop –. Verskoon my, het U Majesteit iets gesê?”
   Die koning het in werklikheid iets begin sê, maar ná ’n oomblik of twee skud hy sy kop. Hy het dit oorweeg om lord Spoegmann reg te help – hy was seker hy het die storie anders vertel – maar sy skrikwekkende ervaring in die mis klink baie beter op die manier wat lord Spoegmann dit nou vertel: dat hy sy man gestaan en teen die Ickabog baklei het, eerder as om sy swaard net neer te gooi en weg te hardloop.
   “Maar dis verskriklik, Spoegmann,” hyg die koning. “Wat as die monster nou nog méér bloeddorstig is?”
   “U Majesteit het niks te vrees nie,” sê lord Spoegmann en kom nader aan die koning se bed sodat die kerslig sy lang neus en sy wrede glimlag van onder af belig. “Ek gaan dit my lewenstaak maak om u en die koninkryk teen die Ickabog te beskerm.”
   “D-dankie, Spoegmann. Jy is ’n ware vriend,” sê die koning diep geraak en haal sy hand bewerig onder die verekombers uit en gryp die geslepe lord s’n vas.

Hoofstukke

footer

Back to top