Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk vyf-en-twintig

Lord Spoegmann se probleem

Ongelukkig vir lord Spoegmann was meneer Duiwendyk nie die enigste een wat sy bedenkinge oor die Ickabog uitgespreek het nie.
   Kornukopië het stadigaan al hoe armer geword. Die Ickabog-belasting was nie vir ryk handelaars ’n probleem nie. Hulle het elke maand vir die belastinggaarder twee dukate gegee en eenvoudig die prys van koek, kaas, ham en wyn opgeskuif om vir die verlies op te maak. Maar vir minder gegoede mense het dit ál moeiliker geword om elke maand twee dukate af te knyp, want veral by die markte het kos al hoe duurder geword. In die Moerasland was die kinders se wange al hol.
   Lord Spoegmann het by sy luistervinke in al die stede en dorpe gehoor dat die mense wou weet waarvoor hulle belastinggeld gebruik word, en selfs bewyse wou hê dat die ongedierte steeds ’n bedreiging was.
   Die mense het gesê dat die inwoners van die stede in Kornukopië baie van mekaar verskil het: die inwoners van Jeroboam was bekend as rusiemakers en dromers, Suiwelstad se mense was vredeliewend en vriendelik, terwyl die inwoners van Chouxville as trots en selfs hooghartig beskou is. Maar die inwoners van Baronsburg was eerlike handelaars wat reguit gesê het wat hulle dink, en dit was daar dat twyfel in die bestaan van die Ickabog eerste openlik uitgespreek is.
   ’n Slagter genaamd Vaatjie Filett het ’n vergadering in die stadsaal belê. Vaatjie het seker gemaak hy sê nie dat hy nie in die Ickabog se bestaan glo nie, maar het almal genooi om ’n petisie aan die koning te teken waarin hulle bewyse vra dat die Ickabog-belasting steeds nodig was. Die vergadering was skaars verby toe lord Spoegmann se spioen, wat dit natuurlik ook bygewoon het, op sy perd gespring en haastig suidwaarts gejaag het. Hy het teen middernag by die paleis aangekom.
   Een van lord Spoegmann se lakeie het hom wakker gemaak. Hy het lord Flapmann en majoor Rommel dadelik uit die bed laat ontbied en die twee mans het by lord Spoegmann in sy kamer aangesluit om te hoor wat die spioen te sê het. Die spioen het hulle vertel van die verraaiers se vergadering en toe vir hulle op ’n kaart van die stad die huise van die voorbokke, en natuurlik Vaatjie Filett s’n, omkring.
   “Uitstekende werk,” brom majoor Rommel. “Ons sal hulle almal vir verraad arresteer en in die tronk smyt. Dis so eenvoudig soos dit!”
   Dis glad nie so eenvoudig nie!” sê lord Spoegmann geïrriteerd. “Daar was tweehonderd mense by die vergadering. Ons kan hulle nie almal opsluit nie! Daar is nie genoeg plek in die kerker nie, en almal sal sê dit beteken dat ons nie kan bewys dat die Ickabog wel bestaan nie!”
   “Dan skiet ons hulle,” sê lord Flapmann, “en rol hulle in mantels toe soos met Blinkenaar, en gaan los hulle daar bo in die moeras, en wanneer hulle gevind word, sal die mense glo dat die Ickabog hulle doodgemaak het.”
   “Het die Ickabog nou skielik ’n geweer?” vra lord Spoegmann ergerlik, “en tweehonderd mantels om sy slagoffers in toe te draai?”
   “Wel, as u nie tevrede is met ons idees nie, my heer,” sê majoor Rommel, “hoekom maak u dan nie self ’n slim plan nie?”
   Maar dis presies wat lord Spoegmann nie regkry nie. Hy dink hiernatoe en daarnatoe, maar kry nie ’n manier om die Kornukopiërs groot genoeg te laat skrik dat hulle sonder om te kla sal aanhou om die Ickabog-belasting te betaal nie. Wat hy nodig het, is ’n bewys dat die Ickabog werklik bestaan, maar waar gaan hy dit kry?
   Lank nadat die ander terug bed toe is, loop hy nog heen en weer voor die kaggel. Toe is daar weer ’n klop aan die deur.
   “Wat is dit nou weer?” blaf hy.
   Die lakei Pester kom by die deur ingesluip.
   “Wat wil jy hê? Gou, uit daarmee. Ek’s besig!” spoeg lord Spoegmann.
   “Vergewe my, my heer,” sê Pester. “Ek het toevallig vroeër verby u deur geloop en kon nie help om te hoor toe u en lord Flapmann en majoor Rommel oor daardie verraaiers in Baronsburg se vergadering gesels het nie.”
   “O, jy kon nie help nie?” sê lord Spoegmann dreigend.
   “Ek het gedink ek moet dit vir u sê, my heer: Ek het bewyse dat daar ’n man hier in die Stad-in-die-Stad is wat presies net soos daardie verraaiers in Baronsburg dink,” sê Pester. “Hy vra bewyse, nes die slagter en sy vriende. Dit het vir my na verraad geklink toe ek daarvan hoor.”
   “Maar natuurlik is dit verraad!” skree lord Spoegmann. “Wie waag dit om sulke goed te sê, en dit boonop hier in die skadu van die paleis? Wie van die koning se bediendes waag dit om die koning se woord in twyfel te trek?”
   “Wel … wat dit betref …” sê Pester en skuifel met sy voete. “Ek skat dis waardevolle inligting, ek skat –”
   “Sê vir my wie dit is!” sis lord Spoegmann en kry die lakei aan die kraag beet. “Dan sal ek besluit of jy ’n beloning verdien! Die man se naam – Gee vir my sy naam!”
   “Dis D-D-Daniël Duiwendyk!” sê die lakei.
   “Duiwendyk … Duiwendyk … Die van klink bekend,” sê lord Spoegmann en laat los die lakei, wat onvas op sy voete is en hom teen ’n tafeltjie moet stut. “Was daar nie so ’n naaldwerkster nie?”
   “Ja, dit was sy vrou, my heer. Sy is dood,” sê Pester en kom weer regop.
   “Ek sien,” sê lord Spoegmann stadig. “Hy woon mos in die kothuis daar by die begraafplaas, die een waar daar nooit ’n vlag hang en nêrens in die vensters ’n skildery van die koning is nie. Hoe weet jy dat hy sulke verraderlike uitlatings gemaak het?”
   “Ek het toevallig gehoor hoe mevrou Blinkenaar vir ’n kombuisbediende vertel wat hy gesê het,” sê Pester.
   “Jy hoor duidelik baie dinge toevallig, of hoe, Pester?” sê lord Spoegmann en haal geld uit sy onderbaadjie se sak. “Reg. Hier is vir jou tien dukate.”
   “Hartlike dank, my heer,” sê die lakei en buig diep.
   “Wag!” roep lord Spoegmann toe Pester wil padgee. “Watse werk doen daardie Duiwendyk?”
   Lord Spoegmann wil uitvind of die koning meneer Duiwendyk se dienste sal mis as hy dalk verdwyn.
   “Duiwendyk, my heer? Hy is ’n skrynwerker,” antwoord Pester en vlug na nóg ’n diep buiging by die deur uit.
   “’n Skrynwerker,” herhaal lord Spoegmann hardop. “’n Skrynwerker …”
   En toe die deur agter Pester toegaan, kry lord Spoegmann weer uit die bloute een van sy bose planne. Hy is so ingenome met sy vindingrykheid dat hy aan die rugleuning van die rusbank moet vashou, want hy is skoon lighoofdig

Voorgestelde illustrasies (suggested illustrations)

Die klimtol
Daisy Duiwendyk se Hemelhartjies wat op die grond lê
Vaatjie Filett
Pester die lakei

Hoofstukke

footer

Back to top