Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk twintig

Medaljes vir Blinkenaar en Knopie

Koning Fred was die volgende oggend skaars wakker toe hy in kennis gestel is dat sy hoofraadgewer op hierdie kritieke oomblik in die land se geskiedenis afgetree het. Hy was woedend, maar dit was ’n groot verligting om te hoor dat lord Spoegmann reeds oorgeneem het, want koning Fred het geweet dat lord Spoegmann verstaan deur watter groot gevaar die koninkryk in die gesig gestaar word.
   Al het hy veiliger gevoel noudat hy terug was in die paleis met sy hoë mure en skiettorings met kanonne, sy valpoorte en sy grag, kon koning Fred nie die skokkende gebeure tydens sy reis afskud nie. Hy het hom in sy private kamers afgesonder en al sy maaltye moes op goue skinkborde soontoe gebring word. In plaas van op jag gaan, het hy heen en weer op sy dik matte geloop, sy afgryslike avontuur in die noorde weer en weer beleef, en slegs sy twee beste vriende, wat seker gemaak het dat hulle sy vrese lewend hou, te woord gestaan.
   Op die derde dag ná hulle terugkeer uit die Moerasland het lord Spoegmann met ’n somber gesig by die koning se private kamers ingestap. Hy het aangekondig dat die soldate wat terug na die moeras gestuur is om uit te vind wat met manskap Knoppie Knopie gebeur het, slegs sy bloedbevlekte skoene, ’n enkele hoefyster en ’n paar byna kaalgevrete beendere kon opspoor.
   Die koning het bleek geword en op ’n rusbank van satyn neergesak.
   “Ag nee, hoe verskriklik, hoe verskriklik … Manskap Knopie … Herinner my gou, wie was hy nou weer?”
   “’n Jongman met sproete, die enigste seun van ’n weduwee,” sê lord Spoegmann toe. “Die nuutste rekruut in die koninklike wag, en so ’n belowende seun. Dis werklik tragies. En die ergste van alles is dat die Ickabog ná Blinkenaar en Knopie ’n smaak vir mensvleis ontwikkel het – presies nes U Majesteit voorspel het. En dis werklik verstommend, as ek ’n opmerking mag maak, dat U Majesteit die gevaar reeds van die eerste oomblik af bespeur het.”
   “M-maar wat moet ons doen, Spoegmann? Wat as die monster na nog menslike prooi begin smag?”
   “Laat dit alles aan my oor, U Majesteit,” sê lord Spoegmann paaiend. “Soos u weet, is ek nou die hoofraadgewer, en ek werk dag en nag om die koninkryk te beskerm.”
   “Ek is so bly Haringgraat het jou as sy opvolger aangestel, Spoegmann,” sê koning Fred. “Wat sal ek sonder jou doen?”
   “Aag wat, U Majesteit, dis ’n eer om so ’n welwillende koning te dien.
   “Nou moet ons môre se begrafnisse bespreek. Ons is van plan om Knopie se oorskot langsaan majoor Blinkenaar te begrawe. Dit gaan ’n staatsgeleentheid wees, met die nodige prag en praal, en ek dink dit sal ’n baie goedgunstige gebaar wees as u die medalje vir uitsonderlike dapperheid teen die dodelike Ickabog aan die manne wat dood is se gesinne oorhandig.”
   “O, is daar so ’n medalje?” vra koning Fred.
   “O, daar is beslis, U Hoogheid, en dit herinner my – u het nog nie u s’n ontvang nie.”
   Lord Spoegmann haal die pragtigste goue medalje wat amper so groot soos ’n piering is uit sy binnesak. Op die medalje is ’n monster gebosseleer. Die dierasie het gloeiende oë van robyne en baklei teen ’n aantreklike, gespierde man wat ’n kroon op sy kop het, en die medalje hang aan ’n helderrooi fluweellint.
   “Is dit vir my?” vra die koning grootoog.
   “Maar natuurlik, U Hoogheid!” sê lord Spoegmann. “Het U Majesteit dan nie u swaard diep in daardie monster se verfoeilike nek begrawe nie? Ons onthou dit almal baie goed, U Hoogheid!”
   Koning Fred se vingers gly oor die swaar goue medalje. Al sê hy niks nie, woed daar ’n stille stryd in hom.
   Koning Fred se eerlikheid begin skielik praat en sê met ’n duidelike stemmetjie: Dis nie wat gebeur het nie. Jy weet dit goed. Toe jy die Ickabog in die mis sien, het jy jou swaard laat val en weggehardloop. Jy het die dierasie nie aangeval nie. Jy was nooit naby genoeg nie!
   Maar Fred se lafhartigheid bulder harder as sy eerlikheid: Jy het reeds met Spoegmann saamgestem dat dit is wat gebeur het! Jy gaan soos ’n sot lyk as jy erken dat jy weggehardloop het!
   En Fred se ydelheid praat die hardste van almal: Ek was per slot van rekening die een wat die jagtog op die Ickabog gelei het! Ek was die een wat die ding eerste gesien het! Ek verdien hierdie medalje, en dit sal baie mooi teen my swart begrafnisklere uitstaan.
   Toe sê koning Fred:
   “Ja, Spoegmann, dit het gebeur soos jy gesê het, presies net so. Nie dat ek daarvan hou om te spog nie.”
   “U Majesteit se nederigheid is legendaries,” sê lord Spoegmann en buig om sy grynslag weg te steek.
   Die volgende dag is tot ’n nasionale roudag verklaar ter ere van die Ickabog se slagoffers. Skares het saamgedrom om te kyk hoe beweeg majoor Blinkenaar en manskap Knopie se doodskiste deur die strate op waens wat deur gepluimde swart perde getrek word.
   Koning Fred het agter die kiste op ’n pikswart perd gery, met die medalje vir uitstaande dapperheid teen die dodelike Ickabog wat teen sy borskas bons en die sonlig so helder weerkaats dat dit die skare se oë seergemaak het. Agter die koning het mevrou Blinkenaar en Bert gestap, ook in swart klere, en agter hulle was daar ’n huilende ou vrou met ’n gemmerkleur pruik op wat aan hulle voorgestel is as mevrou Knopie, Knoppie se ma.
   “Ag, my liefste Knoppie,” het sy in die loop geweeklaag. “Maak ’n einde aan daardie afskuwelike Ickabog wat my arme Knoppie doodgemaak het!”
   Die kiste is in die grafte laat sak en die koning se beuelblasers het die volkslied gespeel. Manskap Knopie se kis was besonder swaar, want dit was vol klippe gemaak. Die vreemde mevrou Knopie het hard geween en die Ickabog weer eens vervloek terwyl tien swetende mans haar seun se kis in die grond laat afsak. Mevrou Blinkenaar en Bert het doodstil gestaan en huil.
   Daarna het koning Fred die bedroefde naasbestaandes nader geroep om die manne se medaljes te ontvang. Lord Spoegmann was nie bereid om soveel geld op majoor Blinkenaar en die kastige manskap Knopie as op die koning te bestee nie, en het hulle medaljes van silwer eerder as goud laat maak. Maar dit was nogtans ’n roerende seremonie, veral omdat mevrou Blinkenaar so deur emosie oorval is dat sy op die grond neergeval en die koning se stewels gesoen het.
   Ná die begrafnis het mevrou Blinkenaar en Bert huis toe geloop en die skare het eerbiedig opsy gestaan sodat hulle kon verbykom. Mevrou Blinkenaar het net een keer gaan staan, en dit was toe haar ou vriend meneer Duiwendyk tussen die mense uitgekom het om vir haar te sê hoe jammer hy is. Die twee het mekaar omhels. Daisy wou iets vir Bert sê, maar almal het hulle aangegaap en sy kon nie eens oogkontak met hom maak nie, want hy het met ’n strak gesig na sy skoene gestaar. Toe sy weer sien, het haar pa mevrou Blinkenaar gelos, en Daisy het gekyk hoe haar beste vriend en sy ma tussen die mense verdwyn.
   Toe hulle terug by die huis kom, het mevrou Blinkenaar met haar gesig na onder op haar bed neergeval en gehuil en gehuil. Bert het haar probeer troos, maar dit het nie gehelp nie, toe neem hy sy pa se medalje na sy eie slaapkamer toe en sit dit op die kaggelrak neer.
   Eers toe hy ’n paar treë wegstaan om daarna te kyk, besef hy dat hy sy pa se medalje reg langsaan die Ickabog wat meneer Duiwendyk lank gelede vir hom uit hout gekerf het, neergesit het. Tot op daardie oomblik het Bert die Ickabog-speelding nog nie verbind met die manier waarop sy pa dood is nie.
   Hy haal die hout-Ickabog van die kaggelrak af, gooi dit op die vloer neer, tel ’n stookyster op en kap die speelding fyn en flenters. Toe tel hy die skerwe van die verwoeste speelding op en gooi dit in die vuur. Hy kyk hoe die vlamme hoër en hoër spring en neem ’n eed: Eendag wanneer hy oud genoeg is, gaan hy die Ickabog soek en wraak neem op die monster wat sy pa doodgemaak het.

Hoofstukke

footer

Back to top