Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk vier-en-veertig

Mevrou Blinkenaar baklei terug

Terwyl Bert by die stad uitglip, boender lord Spoegmann mevrou Blinkenaar by ’n sel onder in die kerker in. ’n Krakerige, skril stem sing die volkslied op maat van ’n hamer wat kap.
   “Bly stil!” bulder lord Spoegmann in daardie rigting. Die gesing hou op.
   “My heer!” sê die gebroke stem, “sal u my vrylaat om na my dogter toe te gaan wanneer ek met hierdie poot klaar is?”
   “Ja, ja, jy sal jou dogter weer sien,” roep lord Spoegmann terug terwyl hy sy oë rol. “Bly nou stil, want ek wil met jou buurvrou praat.”
   “Voordat u begin, my heer,” sê mevrou Blinkenaar, “het ek ’n paar dinge wat ek vir u wil sê.”
   Lord Spoegmann en lord Flapmann staar na die plomp vroutjie. Hulle het nog nooit iemand in die kerker gesmyt wat só trots en ongeërg was om in hierdie klam donker plek opgesluit te word nie. Sy herinner lord Spoegmann aan lady Eslander, wat steeds in sy biblioteek aangehou word en steeds weier om met hom te trou. Hy het nooit kon dink dat ’n kok so hoogmoedig soos ’n dame kan lyk nie.
   “Om te begin,” sê mevrou Blinkenaar, “as u my doodmaak, sal die koning daarvan uitvind. Hy sal agterkom dat ek nie meer sy lekkernye bak nie. Hy kan die verskil proe.”
   “Dis waar,” sê lord Spoegmann met ’n wrede glimlag. “Maar as die koning dink dat die Ickabog jou doodgemaak het, sal hy eenvoudig gewoond moet raak aan hoe die nuwe fyngebak proe, of hoe?”
   “My huis is in die skadu van die paleis,” veg mevrou Blinkenaar terug. “Dit sal onmoontlik wees om daar te maak asof die Ickabog my aangeval het sonder om ’n honderd ooggetuies wakker te maak.”
   “Ons kan dit maklik omseil,” sê lord Spoegmann. “Ons sal net sê dat jy dwaas genoeg was om in die middel van die nag aan die oewer van die Floema te gaan stap, en dat die Ickabog daar kom water drink het.”
   “Dit kon gewerk het,” sê mevrou Blinkenaar, en suig ’n storie uit haar duim, “as ek nie instruksies agtergelaat het oor wat gedoen moet word as iemand beweer dat die Ickabog my doodgemaak het nie.”
   “Watter instruksies, en vir wie het jy dit gegee?” vra lord Flapmann.
   “Ek is seker sy praat van haar seun,” sê lord Spoegmann, “maar hy sal binnekort in ons mag wees. Maak ’n aantekening, Flapmann – ons sal die vrou eers doodmaak nadat ons haar seun doodgemaak het.”
   “Intussen,” sê mevrou Blinkenaar, wat maak asof sy nie ineenkrimp van angs by die gedagte dat Bert in lord Spoegmann se kloue beland nie, “sou ek as ek in u skoene was vir my ’n oond en al my gewone kombuistoerusting hier na die sel laat bring sodat ek kan aanhou om vir die koning sy lekkernye te bak.”
   “Ja … Hoekom nie?” sê lord Spoegmann stadig. “Ons hou almal van jou gebak, mevrou Blinkenaar. Jy kan voortgaan om dit vir die koning te maak totdat jou seun gevang is.”
   “Goed,” sê mevrou Blinkenaar, “maar ek gaan hulp nodig hê. Ek stel voor ek lei ’n paar van my medegevangenes op sodat hulle ten minste die eierwitte vir my kan klop en my bakpanne kan uitvoer.
   “Dit sal beteken dat u vir die arme kêrels meer en beter kos moet gee. Ek het gesien hulle lyk soos geraamtes toe u my hierheen gebring het. Ek kan nie die kans waag dat hulle al my rou bestanddele gaan opeet omdat hulle ondervoed is nie.
   “En laastens,” sê mevrou Blinkenaar en laat gly haar oë oor haar sel, “gaan ek ’n gemaklike bed en skoon komberse nodig hê sodat ek genoeg slaap kan kry om vir die koning topgehalte-koeke te kan bak. Hy verjaar binnekort. Hy sal verwag dat ek iets baie spesiaals vir hom moet maak.”
   Lord Spoegmann kyk hierdie verbasendste gevangene van almal ’n oomblik of twee aan en sê toe:
   “Ontstel dit jou nie, Mevrou, om te dink dat jy en jou seun binnekort dood gaan wees nie?”
   “O, daar’s een ding wat jy vinnig by die kookskool leer,” sê mevrou Blinkenaar en trek haar skouers op, “die bestes onder ons bak soms ’n koek met ’n verbrande kors of ’n dik, nat laag aan die onderkant. Ek sê, rol jou moue op en bak iets anders. Dit help nie om te kerm oor iets wat jy nie kan regmaak nie!”
   Lord Spoegmann kan nie aan ’n goeie antwoord hierop dink nie. Hy wink vir lord Flapmann en die twee lords stap by die sel uit en klap die traliehek agter hulle toe.
   Die oomblik toe hulle weg is, probeer mevrou Blinkenaar nie meer dapper lyk nie en sak neer op die harde bed, wat die enigste meubelstuk in die sel is. Sy begin van kop tot tone bewe en is bang sy gaan histeries word.
   Maar in ’n stad met die allerbeste en meesterlikste fynbakkers ter wêreld word ’n vrou nie tot hoof van die koning se kombuis bevorder as sy nie senuwees van staal het nie. Mevrou Blinkenaar haal diep asem om te kalmeer, en toe die yl stem langsaan weer die volkslied begin sing, druk sy haar oor teen die muur en probeer uitmaak hoe die geluid by haar sel inkom. Sy vind uiteindelik ’n kraak naby die plafon. Sy staan op haar bed en roep sag: “Daniël? Daniël Duiwendyk? Ek weet dis jy. Dis Berta. Berta Blinkenaar!”
   Maar die gebroke stem hou net aan sing. Mevrou Blinkenaar sak weer op haar bed neer, vou haar arms om haarself, maak haar oë toe en bid met elke hartseer vesel in haar liggaam dat Bert veilig moet wees, waar hy ook al is.

Voorgestelde illustrasies (suggested illustrations)

Bert wat in die beetbedding wegkruip
Bert en die wag
Mevrou Blinkenaar in haar sel

Hoofstukke

footer

Back to top