Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk sewe-en-veertig

Onder in die kerker

Die kombuispersoneel was baie verbaas toe hulle by lord Spoegmann hoor dat mevrou Blinkenaar op haar eie, aparte kombuis aangedring het omdat sy soveel belangriker as hulle is. Party van hulle was selfs agterdogtig, want hulle ken mevrou Blinkenaar al jare lank en sy was nog nooit verwaand nie. Maar aangesien haar koeke en fyngebak steeds gereeld op die koning se tafel verskyn het, het hulle geweet dat sy lewe, waar sy ook al was, en soos baie van hulle medeburgers het die bediendes besluit dat dit veiliger is om nie vrae te vra nie.
   Intussen het die paleis se kerker ’n drastiese transformasie ondergaan. ’n Oond is in mevrou Blinkenaar se sel geïnstalleer, haar potte en panne is van die kombuis af gebring, en die gevangenes in die selle langsaan hare is opgelei in die verskillende take wat nodig is om te verseker dat haar fyngebak veerlig is en dat sy steeds die beste fynbakker in die koninkryk bly. Sy het geëis dat die gevangenes dubbeld soveel kos as voorheen kry (om seker te maak dat hulle sterk genoeg is om te klop en in te vou, om af te meet en te weeg, om te sif en te meng) en dat hulle ’n rotvanger kry om die plek pesvry te hou, asook ’n bediende om heen en weer tussen die selle te hardloop en baktoerusting deur die tralies aan te gee.
   Die stoof se hitte het die klam mure laat uitdroog. Heerlike geure het die stank van muf en staande water vervang. Mevrou Blinkenaar het daarop aangedring dat elke gevangene ’n sny van ’n klaar gebakte koek moes kry sodat hulle kon proe wat die resultaat van al hulle moeite was. Die kerker het geleidelik in ’n besige en selfs vrolike plek verander, en gevangenes wat voor mevrou Blinkenaar se koms swak en ondervoed was, het geleidelik gewig begin optel. Sy het so besig as moontlik gebly, want anders sou sy die hele tyd siek van bekommernis oor Bert wees.
   Terwyl die res van die gevangenes gehelp bak het, het meneer Duiwendyk die volkslied gesing en die een Ickabog-poot na die ander in die sel langsaan gemaak. Voordat mevrou Blinkenaar saam met hulle daar opgesluit is, het sy gesing en gekap die ander gevangenes woedend gemaak, maar sy het almal aangemoedig om saam met hom te sing. Die geluid van al die gevangenes wat die volkslied sing, het die onophoudelike gekap van sy hamer en beitel gedemp, en die beste van alles was wanneer lord Spoegmann ondertoe gestorm en hulle beveel het om nie so ’n geraas te maak nie. Dan het mevrou Blinkenaar ewe onskuldig opgemerk dat dit tog sekerlik verraad was om mense wat die volkslied sing stil te maak. Dit het lord Spoegmann soos ’n gek laat lyk en al die gevangenes laat bulder van die lag. En dan het mevrou Blinkenaar se hart van opgewondenheid gespring, want sy het haar verbeel dat sy ook ’n swak, heserige laggie vanuit die sel langsaan hare kon hoor.
   Al het mevrou Blinkenaar nie veel van waansin af geweet nie, het sy geweet hoe om iets wat lyk asof dit onredbaar was, soos ’n klonterige sous of ’n soufflé wat platgeval het, te red. Sy het geglo dat meneer Duiwendyk se geknakte gees en verstand nog genees kon word as sy hom net kon laat verstaan dat hy nie alleen is nie en hom kon herinner aan wie hy is. Daarom het mevrou Blinkenaar soms voorgestel dat almal ’n ander lied as die volkslied sing om meneer Duiwendyk se gedagtes in ’n ander koers te stuur sodat hy later hopelik weer by homself kon uitkom.
   En uiteindelik het sy tot haar verbasing en vreugde gehoor dat hy saam met die ander die drinkliedjie sing wat reeds lank voordat mense gedink het dat die monster werklik bestaan gewild was.
   “Ná een bottel is die Ickabog ’n kietsie,
   ná twee bottels groei hy so ’n ietsie-bietsie,
   ná drie bottels grom hy so dat ek wil piepie.
   Kom red my gou, want ek is nou in my peetjie!”
   Mevrou Blinkenaar het die bakpan met koekies wat sy pas uit die oond gehaal het, neergesit en op haar bed gespring en saggies deur die kraak hoog bo in die muur met hom gepraat.
   “Daniël Duiwendyk, ek het gehoor hoe jy daai lawwe liedjie saam met die ander sing. Dis jou ou vriendin, Berta Blinkenaar, wat praat. Onthou jy my? Ons het dit jare gelede altyd gesing, toe die kinders nog klein was. My Bert en jou Daisy. Onthou jy dit, Daniël?”
   Sy het gewag vir ’n antwoord, en ná ’n rukkie het sy haar verbeel sy dat ’n snik hoor.
   Jy dink dalk dis vreemd, maar mevrou Blinkenaar was bly toe sy meneer Duiwendyk hoor huil, want trane en ’n gelag kan ’n geknakte gees gesond maak. So daardie aand, en baie aande daarna, het mevrou Blinkenaar saggies met meneer Duiwendyk deur die kraak in die muur gesels, en later het hy begin terugpraat. Mevrou Blinkenaar het vir meneer Duiwendyk vertel hoe bitter jammer sy was dat sy vir die kombuisbediende vertel het wat hy van die Ickabog gesê het, en meneer Duiwendyk het vir haar vertel hoe verskriklik hy ná die tyd gevoel het dat hy kon dink dat majoor Blinkenaar van sy perd afgeval het. En albei het mekaar verseker dat hulle kinders nog lewe, want hulle moes dit glo, anders sou hulle doodgaan.
   ’n Vriesende koue het by die enigste hoë tralievenstertjie onder in die kerker begin inwaai. Die gevangenes het geweet dat daar nog ’n strawwe winter op pad was, maar vir hulle was die kerker nou ’n plek van hoop en genesing. Mevrou Blinkenaar het op meer komberse vir haar helpers aangedring en haar oond heelnag gestook, want sy was vasberade dat hulle moes oorleef.

Hoofstukke

footer

Back to top