Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk twee-en-vyftig

Sampioene

Daisy en Marta sal nooit vergeet hoe hemels daardie pasteie uit Baronsburg gesmaak het nadat hulle jare lank van Ma Grommer se koolsop geleef het nie. Marta bars ná die eerste hap al in trane uit en sê sy het nie geweet dat kos so lekker kan wees nie. Terwyl hulle eet, vergeet die vier van die Ickabog. Toe die pasteie op is, voel hulle dapperder en staan op om die Ickabog se grot in die lig van die vuur te verken.
   “Kyk,” sê Daisy, wat tekeninge teen die muur ontdek het.
   Honderd harige Ickabogs word deur stokmannetjies met spiese gejaag.
   “Kom kyk na hierdie een!” sê Rod en wys na ’n tekening naby die mond van die grot.
   In die lig van die Ickabog se vuur bekyk die vier ’n tekening van ’n Ickabog wat van aangesig tot aangesig staan met ’n stokmannetjie wat ’n gepluimde helm ophet en ’n swaard vashou.
   “Dit lyk soos die koning,” fluister Daisy en wys na die mannetjie. “Dink julle hy het die Ickabog regtig daardie aand gesien?”
   Die ander kan natuurlik nie antwoord nie, maar ek kan. Ek sal nou vir jou die hele waarheid vertel, en ek hoop nie jy gaan kwaad wees dat ek dit nog nie gedoen het nie.
   Koning Fred het die Ickabog daardie aand toe majoor Blinkenaar doodgeskiet is werklik vlugtig in die digte mis op die moeras gesien. Ek kan ook vir jou sê dat die ou skaapwagter wat gedink het dat die Ickabog sy hond verslind het, die volgende oggend ’n getjank en ’n gekrap aan sy deur gehoor het en besef het dat die getroue Slapoor huis toe gekom het, want lord Spoegmann het sy hond gehelp om uit die braambosse waarin hy vasgesit het, los te kom.
   Voordat jy dink dit was verkeerd van die skaapwagter om nie vir die koning te laat weet dat die Ickabog nie vir Slapoor verslind het nie, moet jy onthou dat hy uitgeput was ná sy lang reis na Chouxville. Die koning sou in elk geval nie omgegee het nie. Nadat koning Fred die monster in die mis gesien het, sou niks of niemand hom oortuig het dat die ondier nie bestaan nie.
   “Ek wonder,” sê Marta, “hoekom die Ickabog die koning nie opgevreet het nie?”
   “Miskien het hy nie regtig teen hom baklei soos wat die stories sê nie?” vra Rod onseker.
   “Dis darem snaaks,” sê Daisy en draai om en kyk na die Ickabog se grot. “As die Ickabog regtig mense eet, hoekom lê hier nêrens bene rond nie?”
   “Hy eet natuurlik die bene ook,” sê Bert. Sy stem bewe.
   Toe besef Daisy dat hulle verkeerd was om te dink dat majoor Blinkenaar in ’n ongeluk op die moeras dood is. Dis nou duidelik dat die Ickabog hom wel doodgemaak het. Sy steek haar hand uit om aan Bert s’n te vat en vir hom te wys dat sy verstaan dat dit verskriklik moet wees om hier in die monster wat sy pa doodgemaak het se grot vasgekeer te wees, maar skielik hoor hulle weer swaar voetstappe buite en weet die monster is terug. Al vier hardloop terug na die sagte hoop skaapwol en sak daarin weg asof hulle nooit ’n voet versit het nie.
   Daar is ’n harde gedreun soos die Ickabog die rotsblok wegrol, en die ysige winterwind kom in. Dit sneeu nog baie buite en oral in die Ickabog se hare sit sneeu vas. In een van die mandjies is daar ’n stapel sampioene en vuurmaakhout. In die ander een is daar gevriesde pasteie uit Chouxville.
   Terwyl die tieners kyk, gooi die Ickabog hout op die vuur en sit die gevriesde blok pasteie op ’n plat klip langsaan neer, waar dit kan ontdooi. Toe, terwyl Daisy, Bert, Marta en Rod kyk, begin die Ickabog sampioene eet. Hy doen dit op ’n vreemde manier. Hy ryg ’n paar in op die een skerp punt waarop elke poot uitloop en eet dit dan versigtig een vir een en kou dit fyn terwyl hy straal van genot.
   Ná ’n rukkie is dit asof hy bewus word van die vier mense wat hom dophou.
   “Brul,” sê hy weer en ignoreer hulle totdat hy al die sampioene opgeëet het, waarna hy die ontvriesde Chouxville-pasteie van die warm klip af optel en dit met sy enorme, harige pote aangee.
   “Hy wil ons vet voer!” fluister Marta angsbevange, maar gryp nogtans ’n Feetjievlerkie en die volgende oomblik gaan haar oë toe van lekkerkry.
   Nadat die Ickabog en die mense geëet het, sit die Ickabog die twee mandjies netjies in ’n hoek weg en beweeg na die mond van die grot, waar dit steeds sneeu en die son begin ondergaan. Met ’n eienaardige geluid wat jy sal herken as jy al gehoor het hoe ’n doedelsak vol lug geblaas word voordat iemand daarop begin speel, asem die Ickabog diep in en begin sing in ’n taal wat nie een van die mense verstaan nie. Die lied weergalm oor die moeras terwyl die donker neersak. Die vier tieners luister, en dis nie lank nie of hulle word vaak en sink een ná die ander dieper in die nes van skaapwol weg en raak aan die slaap.

Hoofstukke

footer

Back to top