Skip to main content

Ickabog - crown


Hoofstuk nege-en-vyftig

Terug in Jeroboam

Dit word al skemer toe die donkergrys buitelyne van Jeroboam sigbaar word. Die Ickabog se geselskap stop eers ’n rukkie op die heuwel wat oor die stad uitkyk. Marta gee vir die Ickabog die groot bos sneeuklokkies. Toe maak almal seker dat hulle die borde met die boodskappe met die regte kant na bo vashou en die vier vriende skud hand, want hulle het vir mekaar, en vir die Ickabog, gesweer dat hulle hom sal beskerm en hom nie in die steek sal laat nie, selfs al word hulle met gewere gedreig.
   En toe stap die Ickabog stadig af na die stad van wynmakers, en die wagte by die stadspoorte sien hom aankom. Hulle lig hul gewere om te skiet, maar Daisy staan op die Ickabog se skouers en waai met haar arms, en Bert en Rod hou hulle borde in die lug op. Die wagte se gewere begin bewe terwyl hulle angsbevange kyk hoe die monster al nader en nader kom.
   “Die Ickabog het nog nooit iemand doodgemaak nie!” skree Daisy.
   “Hulle het vir julle gelieg!” skree Bert.
   Die wagte weet nie wat om te doen nie, want hulle wil nie die vier jongmense skiet nie. Die Ickabog strompel steeds nader, en hy is skrikwekkend groot en vreemd. Maar daar is ’n vriendelike kyk in sy enorme oë, en hy hou sneeuklokkies in sy poot vas. Toe die Ickabog uiteindelik by die wagte kom, steek hy vas, buig af en gee vir elkeen ’n sneeuklokkie.
   Die wagte neem die blomme, want hulle is te bang om dit nie te doen nie. Toe streel die Ickabog elkeen van hulle sag oor die kop, nes hy met die skaap gedoen het, en stap by Jeroboam in.
   Daar klink oral krete op: Mense vlug voor die Ickabog uit, of duik weg om wapens te gaan kry, maar Bert en Rod marsjeer vasberade voor die dierasie met hulle borde hoog in die lug, en die Ickabog bied vir elke verbyganger ’n sneeuklokkie aan, totdat ’n jong vrou uiteindelik dapper een aanvaar. Die Ickabog is so in sy noppies dat hy haar met sy bulderende stem bedank. Dit laat party mense skree en vlug, maar ander waag dit nader aan die Ickabog, en kort voor lank drom ’n klein skare mense om die monster saam en neem elkeen laggend ’n sneeuklokkie uit sy poot. En die Ickabog begin ook glimlag. Hy het nooit verwag dat mense hom sal toejuig of bedank nie.
   “Ek het jou mos gesê hulle gaan lief wees vir jou as hulle jou leer ken!” fluister Daisy in die Ickabog se oor.
   “Loop saam met ons!” skree Bert vir die skare. “Ons marsjeer suid om die koning te gaan sien!”
   En nou hardloop die inwoners van Jeroboam, wat erg onder lord Spoegmann se heerskappy gely het, terug na hulle huise om fakkels, gaffels en gewere te gaan haal, nie om die Ickabog seer te maak nie, maar om hom te beskerm. Woedend oor die leuens wat vir hulle vertel is, drom hulle saam om die monster en marsjeer saam terwyl die donker toesak, met net een klein ompad.
   Daisy dring daarop aan om by die weeshuis aan te gaan. Al is die deur soos altyd stewig gesluit en gegrendel, skop die Ickabog dit maklik oop. Die Ickabog help Daisy versigtig van sy skouers af en sy hardloop binnetoe om al die kinders te gaan haal. Die kleintjies klouter agter op die wa, die Hees-tweeling val in hulle ouers se arms en die groter kinders sluit by die skare aan terwyl Ma Grommer gil en skree en hulle probeer terugroep. Toe sien sy die Ickabog se yslike, harige gesig wat deur ’n venster vir haar loer en dis vir my lekker om vir jou te sê dat sy net daar flou op die vloer neerslaan.
   Daarna stap die Ickabog verheug verder in Jeroboam se hoofstraat af en al hoe meer mense sluit langs die pad by hom aan, en niemand sien Paul Boelie wat van ’n straathoek af staan en kyk hoe die skare verbybeweeg nie. Paul Boelie, wat in ’n taverne daar naby gesit en drink het, het nie vergeet hoe Rod Rommel hom die aand toe die twee seuns sy sleutels gesteel het bloedneus geslaan het nie. Hy besef dadelik wat sal gebeur wanneer hierdie moeilikheidmakers met hulle kolossale moerasmonster by die hoofstad aankom: Wie ook al sakke vol geld uit die mite van die gevaarlike Ickabog gemaak het, gaan dan diep in die moeilikheid wees. Daarom gaan Paul Boelie nie terug na die weeshuis toe nie; hy steel ’n ander drinker se perd buitekant die taverne.
   Anders as die Ickabog wat stadig beweeg, galop Paul Boelie vinnig suidwaarts om vir lord Spoegmann te gaan vertel van die gevaar wat na Chouxville toe aangestap kom.

Voorgestelde illustrasies (suggested illustrations)

Hettie en haar man wat geskok en verbaas is
ʼn Uitgeteerde skaap
Die helde van die storie (Bert, Rod, Daisy en Marta) se borde met boodskappe
Daisy wat op die Ickabog se skouers ry
Paul Boelie wat van die straathoek af staan en kyk
Die Ickabog wat sneeuklokkies uitdeel
Die skare wat met fakkels, gaffels en gewere loop

Hoofstukke

footer

Back to top