Skip to main content

J.K. Rowling

 

J.K. Rowling praat oor Die Ickabog

 

Wanneer het jy Die Ickabog geskryf, en hoekom het jy besluit om dit nou te publiseer?

Ek het die idee vir Die Ickabog lank gelede gekry en dit saans hoofstuk vir hoofstuk vir my twee jonger kinders gelees terwyl ek daaraan gewerk het. Maar toe dit tyd word om dit te publiseer, het ek besluit om eerder boeke vir grootmense te skryf. Dit is hoe Die Ickabog bo in my solder beland het. Ek het met ander dinge besig geraak, en al het ek baie van die storie gehou, het ek deur die jare daaraan begin dink as iets wat ek net vir my eie kinders geskryf het.

Toe kom die inperking. Dit is veral vir kinders moeilik, daarom het ek Die Ickabog op die solder gaan haal en dit ná jare weer gelees, hier en daar stukkies oorgeskryf en dit toe van voor af vir my kinders gelees. Hulle het gesê ek moet van die stukkies waarvan hulle gehou het toe hulle klein was weer terugsit, en hier is dit nou!

Die Ickabog is eers gratis in aflewerings op die internet gepubliseer. Ek het gedink dit sal wonderlik wees as kinders die storie op hierdie manier kan illustreer. Dit sou beteken dat kinders ʼn lekker aktiwiteit het om te doen en hopelik geniet hulle die storie ook. Ons het die storie na ʼn hele paar tale vertaal en ook op Die Ickabog-webwerf gepubliseer sodat soveel as moontlik kinders dit kon geniet.

My tantieme van die gepubliseerde boek word geskenk aan my liefdadigheidstrust, Volant, wat op sy beurt verskeie liefdadigheidsorganisasies (beide in die VK en internasionaal) ondersteun wat erg geraak is deur Covid-19.

Hoekom het jy besluit om ʼn sprokie geskryf, en wat is vir jou aanloklik van dié genre?

Fabels en sprokies bevat temas wat ewigdurend is. Ons almal verstaan die krag wat die woorde “eendag lank, lank gelede” het en hoe lekker dit is om na ʼn plek buite die regte wêreld te verdwyn. Ek hou ook daarvan dat sekere universele karakters in alle kulture voorkom. Ek stel baie daarin belang om te sien hoe mense die wêreld op soortgelyke maniere interpreteer – maak nie saak waar hulle grootword nie. Ons mites, argetipes en sprokies oorskry landsgrense; een van die redes waarom ek so baie van sprokies hou.

Hoe was dit om weer vir jonger kinders te skryf – iets wat jy nog nie weer sedert Harry Potter gedoen het nie? 

Dit was ʼn groot vreugde om weer vir kinders te skryf en om te sien hoe baie kreatiwiteit die illustrasie-kompetisie na vore gebring het. Ek het elke dag daarna uitgesien om te kyk wat die jong lesers gedoen het en dit het my baie geïnspireer! Ons het oor die 60 000 inskrywings vir die Engelstalige kompetisie ontvang. Die Ickabog het my herinner hoe baie ek daarvan hou om met jonger lesers te werk. Die ervaring was wonderlik.

Het jy Die Ickabog as ʼn politiese verhaal geskryf? Beskou jy dit as ʼn storie wat relevant vir ons tyd is?

Ek dink dit is ʼn tydlose storie. Daar is nog altyd ouens soos Spoegmann en Fred, maar gelukkig is daar ook nog altyd mense soos Daisy en Bert! Vir my is een van die belangrikste dele van die storie die moontlikheid van verandering, selfs by karakters wat skynbaar hulle verstand of goedheid kwyt geraak het. Die nasie van Kornukopië moet ʼn paar harde lesse in die storie leer, terwyl die Ickabog ʼn lewende weergawe van veranderinge voorstel. Soms lyk dit of die situasie hopeloos is, maar die helde bly glo dat hulle die mag het om dinge vir die goed te verander, nie net vir hulself nie, maar vir die hele nasie.

Jy skep baie duidelike beelde van kos in die storie: uitsonderlike koek en fyngebak van Chouxville, die hoofstad in Kornukopië, die wonderlike kase van Suiwelstad, die onaangename koolsop wat by Ma Grommer se weeshuis bedien is en die vetterige skaapsopbrousel wat die Moeraslanders eet. Wat is die rol van kos in die storie?

Kos is so baie dinge: ʼn noodsaaklikheid en iets wat plesier verskaf, dit is ʼn manier om vir ander om te gee en ook die basis van goeie gesondheid. Eienaardig genoeg het ek al die stede wat verskillende kosse voorsien baie jare voor die inperking geskep en tog weet ek van baie mense wat ʼn nuwe verhouding met kos ontwikkel het tydens die pandemie. Baie mense het ook angs gehad dat hulle nie genoeg gaan hê om te eet nie. Die kos in die boek is ʼn vorm van ontsnapping, iets wat ek dink ons almal nodig gehad het hierdie jaar.

Het jy pret gehad deur die name van die karakters, soos Flapmann en Spoegmann, uit te dink? Wat het die name en plekke geïnspireer?

Ek is mal oor naamgewing en doen altyd moeite daarmee. In Spoegmann se geval verwys die naam na die Engelse woord “lickspittle” – dit is iemand wat graag witvoetjie soek by mense in mag. Flapmann se naam kom deels van die Engelse woord “buffoon” en deels omdat dit verwys na sy manier om meer rond te flap en paniekerig te wees as Spoegmann, wat weer altyd ʼn slinkse plan broei.

Waar kom die naam Ickabog vandaan?

Die Ickabog kom van die woord “Ichabod” wat beteken “sonder eer” en dit word soms vertaal na “die glorie het vertrek”. Dit het ʼn dubbele betekenis in die boek, want eer en glorie het uit die gelukkige koninkryk vertrek. Dit verwys ook na die Ickabog se glorieryke dae wat vertrek het, of so dink dit, en wanneer mens die eerste keer oor die Ickabog lees, is die Ickabog bereid om sonder eer op te tree om wraak te neem.

Daar was ʼn groot opkoms van kinders wat die storie gelees en geïllustreer het. Was jy verras daaroor?

Ek was verras en verstom oor die groot getalle, maar ook oor die hoë kwaliteit. Daar is so baie mooi illustrasies – ek is bly dat ek nie ʼn beoordelaar was nie, anders was die boek dalk in 20 volumes gepubliseer om soveel as moontlik illustrasies in te sluit.

Ek is baie dankbaar vir die wenners en aan almal wat ingeskryf het wat hulle hul talent vir die projek geleen het. Dit sou nie sonder hulle gebeur het nie.

Jy skenk jou tantieme van die boek aan die liefdadigheidstrust, Volant, om kwesbare groepe in die VK en internasionaal te help wat veral sleg geraak is deur Covid-19. Wie gaan voordeel trek?

Ek maak aanvanklike skenkings aan my liefdadigheidstrust, Volant, om mediese liefdadigheidsorganisies te help. Ons wil onmiddellike hulp verleen aan die mense wat dit die nodigste het.

 

Toekomstige tantieme sal deur Volant versprei word afhangende van die dringendste nood – liefdadigheidsorganisasie wat langtermyn werk, sosiale effekte van die pandemie – beide in die VK en internasionaal. Ek wil konsentreer op groepe wat besonder erg geaffekteer is deur die pandemie en as gevolg van skade aan die ekonomie.

 

Hoe het jy die inperking hanteer? Was dit ʼn produktiewe tyd vir jou?

Ek was baie produktief in die inperkingstyd. As jy vir my verlede jaar gesê het dat ek twee romans in 2020 sou uitgee, sou ek baie verbaas wees. Behalwe vir Die Ickabog het ek die jongste roman in die Strike-reeks uitgegee, Troubled Blood. Maar, net soos die res van ons, was ek ook angstig oor geliefdes en die langtermyn impak van die pandemie. Skrywers is gelukkig om te kan ontsnap in fiktiewe wêrelde, maar feit van die saak is dat 2020 ʼn aaklige jaar vir so baie mense was. Veral mense wat geliefdes aan die dood afgestaan het, langtermyn gesondheidsprobleme as gevolg van Covid-19 ontwikkel het of mense wat hul inkomste verloor het.

Om Die Ickabog aanlyn te publiseer het vir my ʼn doel gegee, want ek het gevoel dat ek ten minste vir gesinne kon help met jong kinders wat in die huis vasgekeer is. Kom ons hou duim vas vir ʼn beter 2021. Intussen hou ek aan skryf!


Fotografie Debra Hurford Brown © J.K. Rowling 2018

 

footer

Back to top