Skip to main content

J.K. Rowling

 

J.K. Rowling

J.K. Rowling is die skrywer van die sewe Harry Potter-boeke, wat die eerste keer tussen 1997 en 2007 gepubliseer is. Soos almal reeds weet, het die idee vir Harry Potter by haar ontstaan toe ’n treinrit vertraag is, en sy het die storie geskryf terwyl sy in Engeland, Portugal en uiteindelik Skotland gewoon het.

Die avonture van Harry, Ron en Hermione in Hogwarts se Skool vir Heksery en Towerkuns het die wêreld stormgeloop en meer as 500 miljoen kopieë is reeds verkoop. Die boeke is in meer as 80 tale vertaal en die agt films wat daarop gebaseer is, was lokettreffers. Ter aanvulling van die boekreeks het sy drie kort boeke vir liefdadigheid geskryf: Quidditch Through the Ages, Fantastic Beasts and Where to Find Them asook The Tales of Beedle the Bard. Fantastic Beasts het later ’n nuwe reeks films geïnspireer wat ook deur J.K. Rowling geskryf is, in samewerking met die fiktiewe skrywer en towersoöloog Newt Scamander. Die jongste film in die reeks, Fantastic Beasts: The Crimes of Grindelwald, is in 2018 vrygestel.

J.K. Rowling het Harry se storie as ’n volwassene verder ontwikkel tot ’n verhoogstuk, Harry Potter and the Cursed Child, wat sy saam met die dramaturg Jack Thorne en die regisseur John Tiffany geskryf het. Hierdie toneelstuk word met groot lof in teaters in Europa, Noord-Amerika en Australië opgevoer.

Sy skryf ook romans vir volwassenes en onder die skuilnaam Robert Galbraith het sy die Strike-misdaadreeks geskryf wat vir televisie verwerk is.

J.K. Rowling het reeds baie toekennings en eerbetonings gekry, insluitende die Orde van die Britse Ryk, die Franse Legioen van Eer, die Hans Christian Andersen-toekenning, die Robert F Kennedy Ripple of Hope-toekenning, en ’n Blue Peter Goud. Sy ondersteun verskeie goeie sake deur haar liefdadigheidstrust, Volant, en is die stigter van Lumos, die liefdadigheidsorganisasie vir kinders wat veg vir ’n wêreld sonder weeshuise en inrigtings, en gesinne herenig.

Sy wou van kleins af ’n skrywer wees en is op haar gelukkigste wanneer sy in ’n vertrek kan sit en stories uitdink. Sy woon saam met haar gesin in Skotland.

footer

Back to top